Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Spoorloos: Die eiland – Wie is wie?

Nuus
18 Julie 2022
Vind meer uit oor hierdie seisoen se karakters.
Spoorloos: Die eiland

’n Aantreklike argitek wat op trou staan. ’n Vrou wat vlug van haar man en familie. Lojale vriende, familie wat net die beste vir hulle geliefdes wil hê en ’n toevallige ontmoeting tussen twee mense wat mekaar jare laas gesien het. Dit is maar net ’n paar van die eerste leidrade wat jy nodig het voor Spoorloos: Die eiland begin ...

 

Stefan Claasen

Vertolk deur Bobby van Jaarsveld

Stefan is ’n talentvolle argitek en een van daardie mense wat jy eenvoudig net nie kan miskyk nie. Hy is ’n avontuurlustige dromer en aanhoudend op soek na die volgende uitdaging. Sy agtergrond is nederig en hy sal alles in sy vermoë doen om hartseer te vermy en nie dieselfde foute as in sy verlede te maak nie.

 

Emma Eloff

Vertolk deur Izel Bezuidenhout

Emma het ’n persoonlikheid wat ander na haar toe aantrek en is baie lojaal teenoor dié vir wie sy lief is. Sy is vrygewend en gee veel meer as wat sy ontvang. Sy het egter op ’n plek in haar lewe gekom waar sy haarself eerste moet sit en dit laat haar in haarself twyfel en skuldig voel. 

 

Phillip Naudé

Vertolk deur Tiaan Slabbert

Phillip is Stefan se beste vriend en alles in sy lewe is altyd in plek. Hy beplan alles – van sy finansies tot sy besoeke aan die gimnasium – tot in die fynste detail en hy is baie lojaal teenoor alles en almal na aan sy hart. Hy haat chaos en is nie iemand wat goed onder druk kan funksioneer nie. 

 

Leandri Botha

Vertolk deur Leché Joubert

Leandri is Stefan se verloofde en is iemand wat glo dinge moet altyd op die regte manier gedoen word. Sy hou nie van onregverdigheid nie en ook nie wanneer ander faktore haar eie planne deurmekaar krap nie. Sy kan soms onwrikbaar voorkom, maar dit is net omdat sy bang is sy kan nooit perfek wees nie.

 

Lucas Eloff

Vertolk deur Armand Aucamp

Lucas is Emma se man en sy eie beeld is vir hom van uiterste belang. Hy het goeie leiereienskappe, maar sal alles in sy vermoë doen om nie sy tekortkominge aan die wêreld te wys nie. Sy lewe het egter al ’n paar skewe draaie gemaak en hy het nie altyd die beste besluite geneem nie. Hy sal mense manipuleer om te kry wat hy wil hê. 

 

Freek Lambrecht

Vertolk deur Deon Coetzee

Freek is Emma se pa en hy probeer altyd om konflik te vermy. Dit het egter tot gevolg dat mense hom misbruik en dat hy sy eie woede onderdruk en nie weet hoe om uiting daaraan te gee nie. Freek werk as voorman vir Lucas. 

 

Cobie Lambrecht

Vertolk deur Marisa Drummond

Cobie is getroud met Freek. Sy is baie gedrewe en niks sal in haar pad staan om te kry wat sy wil hê nie, of dit nou finansieël, seksueel of sosiaal is. Sukses is vir haar belangrik en sy sal eerder die pad vat as om betrokke te wees by iets wat gaan faal. Maar wat gaan sy doen as sy eendag in ’n hoek vasgekeer word? 

 

Sylvia September

Vertolk deur Esmeralda Bihl

Sylvia is Darryl se ma. Sy werk vir dieselfde familie sedert sy jonk is en het saam met hulle van Upington getrek toe die familie Freek se plaas, Tugela Farm, gekoop het. Toe Darryl verdwyn, moes sy met haar lewe aangegaan, maar haar oë mis niks nie en sy sien gou deur ’n liegstorie.

 

Darryl September

​Vertolk deur Donovan Pietersen

Darryl was ’n moeilike tiener ten spyte van sy ma se ondersteuning en liefde. Hy is geruime tyd reeds vermis.

 

Prof. Eddie Franken

​Vertolk deur Hannes van Wyk

Prof. Franken is Emma se professor en sy grootste liefde is marienebiologie. Hy is uiters privaat en die enigste kontak wat hy met mense het, is wanneer dit op ’n akademiese vlak is, maar soos hy ouer word, het hy al meer ’n begeerte om na sy hart te luister en nie net sy verstand nie.

 

Belinda Paige

​Vertolk deur Robyn Rossouw

Belinda was lief vir partytjie hou toe sy Stefan ontmoet het. Hulle het ’n kort verhouding gehad en toe sy uitvind sy is swanger, het Stefan haar oortuig om nie ’n aborsie te ondergaan nie. Haar ouers het haar gedwing om die baba te hou, maar sy kon net nie aanpas met die nuwe verantwoordelikhede nie.

 

Melanie Paige

​Vertolk deur Ilse Klink

Melanie, Belinda se ma, het ’n wrewel in haar hart teenoor Stefan. Sy en haar man, George, deel toesig oor Lenny, maar wanneer Stefan se lewe skeefloop, doen sy alles om te keer dat hy enige toegang tot Lenny kan kry.

 

George Paige

​Vertolk deur Brendon Daniels

George hou van Stefan en sal hom altyd die voordeel van die twyfel gee, maar hy is ook onder Melanie se ystervuis en sal nie sommer teen haar opstaan nie. Wanneer dinge egter tot op ’n punt gedryf word, word hy forseer om te kies tussen reg en verkeerd.

 

Annie le Roux

​Vertolk deur Nieke Lombard

Annie is Emma se beste vriendin. Sy is kreatief en die drama in die lewe trek haar aan. Sy is ’n goeie skouer om op te huil, is altyd eerlik en het ’n wysheid bo haar jare wat sy graag deel, maar haar eie stryd tussen haar broosheid en haar sterkte kom soms in haar pad.

Spoorloos: Die eiland begin op Dinsdag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.