Logo
Slim BB spoorloos
web uni tv guide

Spoorloos

144Drama13 VL

Spoorloos: Die eiland begin in Julie op kykNET

Nuus
30 Mei 2022
Die eerste van agt episodes saai Dinsdag, 19 Julie om 20:00 uit.
Spoorloos die eiland

Soos met die vorige Spoorloos-seisoene, gaan die vierde seisoen van dié kykNET-dramareeks, getiteld Spoorloos: Die eiland, kykers vasgenael hou met drama, intrige en raaisels. Nog groot nuus is dat die sanger en akteur Bobby van Jaarsveld deel van die rolverdeling is.

Die eerste van agt episodes word op Dinsdag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Soos met die vorige seisoene, is Spoorloos: Die eiland ’n losstaande spanningsverhaal met nuwe karakters en ’n nuwe storielyn. In die jongste seisoen word ’n avontuurlustige argitek, Stefan Claassen, se lewe in chaos gedompel wanneer ’n toevallige ontmoeting met sy lang verlore liefde nie net sy gevoelens vir haar opnuut laat opvlam nie, maar hom in ’n web van bedrog intrek wanneer sy vermis raak.

Bobby vertolk die rol van Stefan. Kykers sal hom onthou vir flieks soos As jy sing en Liefling. Hy het ook in die kykNET-komedie Mense mense gespeel en het as beoordelaar in The Voice opgetree, maar hierdie is sy eerste rol in ’n TV-drama. Die res van die rolverdeling sal binnekort bekend gemaak word.

Kyk die amptelike lokprent hier onder:



“Ek is so ongelooflik opgewonde hieroor. Dis die eerste keer dat ek so ’n ernstige rol vertolk,” sê Bobby. “Dis vir my ’n groot voorreg om deel van die produksie te kon wees – Spoorloos se kwaliteit is next level.”

Die akteur en regisseur Christo Davids is terug in die regisseurstoel saam met Francois Coetzee. “Ons glo kykers gaan hierdie nuwe Spoorloos net so baie as die voriges geniet. Daar is niks so lekker soos om ’n land te laat wonder en aan die raai te hou nie,” meen hy.

Ilse van Hemert is weer die hoofskrywer en na-produksievervaardiger. Ochre Pictures, die vervaardigers van Spoorloos, was ook verantwoordelik vir die M-Net-trefferreeks Lioness. "Die storie lê my baie na aan die hart, want ek het groot geword op ’n eiland​​ in St Lucia. Ek kan nie wag om te sien hoe die gehoor die raaisels probeer uitpluis nie."

Spoorloos: Die eiland begin op Dinsdag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees. Dié seisoen bestaan uit agt episodes.