Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

Spookhuis! (Deel 2) – Die Spreeus

Nuus
18 Junie 2019
Lees meer.
Die Spreeus_WEB

Foto: ’n Oomblik vanuit die elfde episode

deur Tertius Kapp

Die idee om hierdie episodes in ’n realiteitstelevisie-formaat te plaas, kom eintlik uit ’n vraag wat baie spookstories pla: hoekom loop die karakters nie net nie? Hoekom aanbly in die ou huis vol spinnerakke, of die cabin in the woods, of die verlate hotel, as dit so gevaarlik is?

Die skrywer moet dan ’n rede vind wat oortuig: in The Shining keer ’n sneeustorm hulle vas, in The Haunting of Hill House is dit ’n familiegeheim wat opgelos moet word, ensovoorts. Ek hou weer van karakters wat kies om hulself in gevaarlike situasies te plaas, want dan is hulle nie net slagoffers nie. En kyk ons nie maar soms realiteits-televisie om te sien hoe mense wat aandag soek suffer nie?

Soos met al die spookstories in Die Spreeus, is hier ten minste twee storielyne oor mekaar. In hierdie geval is dit die rebellie van die slawe, in ’n polities ontstuimige tyd in die jare voor die slawe vrygestel is (1830’s).

LEES OOK: SONDE MET DIE BURE (DEEL 1)

Die karakter Ben Saloor (Brendon Daniels) verwys indirek na Jan van Saloor, een van die eerste sogenaamde “vryswartes” aan die Kaap. Dit was gewoonlik vrygestelde slawe of kinders gebore uit gemengde huwelike. Hulle was met ander woorde nie regtig aanvaar in die Europese/wit gemeenskap nie, maar tog vrye burgers. Jan van Saloor het in Franschhoek geboer in die 1700’s.

Toe ons begin praat van ’n séance op Suid-Afrikaanse TV, het party mense se oë gerek. Dit gaan darem te ver. Volksvreemde duiwelswerk en so aan.

Wat min mense besef, is dat séances op ’n tyd nie so ongewoon was in die Afrikaanse gemeenskap nie. Soos Johannes Bertus de Villliers in sy Agter die Somber Gordyn skryf: “Meer as een verslag het beweer dat veral die maatskaplike elite – magistrate, dokters en sakelui – daarby betrokke was; hulle speel Saterdagmiddae by die klub tennis, drink skemerkelkies en kommunikeer dan met die dooies.”

Selfs Dirk Opperman (digter D.J. Opperman se pa) was ’n spiritis. In die 1920’s is daar artikels oor spiritisme in die Huisgenoot, in 1950 ’n spiritistekerk in Johannesburg en selfs ’n vereniging vir parapsigoloë aan die Universiteit van die Witwatersrand. Teen die 1970’s het dié kultuur begin verdwyn, en teen die 90’s was “glasie-glasie” hoog op die lys van taboes waarmee tieners eksperimenteer.

Vir ’n skrywer is so ’n “vergange kultuur” goud werd. Net bekend, dog vreemd genoeg, om almal se aandag te trek. Ek wonder soms wat het dan so drasties verander in die afgelope eeu, dat mense deesdae die duiwel orals sien.

Ons trek nou amper by die einde van Die Spreeus, en ek wil vir die laaste paar weke ’n paar mense uitsonder wie se name kykers dalk nie in die erkennings raaklees nie, maar wat geweldig baie gedoen het om die reeks te maak werk. Jorrie van der Walt is ons kinematograaf (director of photography en kameraman). Elke kameraskoot, die ontwerp van die beligting en die hele visuele benadering van die reeks, is sy verantwoordelikheid. Elke dag, vir twaalf tot veertien uur, dikwels tot vyfuur die oggend, sou hy seker maak dat dit wat op julle skerm verskyn, op ’n internasionale standaard is.

Paaseier vir die week: Daar is heelwat Nederlands in hierdie episode. Belgiese vriende Jo Sterckx en Lieselot van Dijck het gehelp met vertaling en uitspraak. Die stem van Annemarie is egter die bekende Tinarie van Wyk Loots. Sy het ’n paar jaar gelede vir ons ’n hele toneelstuk in Nederlands gedoen, al kan sy dit nie (amptelik) praat nie!

Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en InstagramKliek hier vir meer inligting.