Logo
Die Byl S4 Slim
web uni tv guide

Die Byl

144Misdaad16 V

Só kruip ons in die karakters in – Die Byl

Nuus
04 Februarie 2022
Ons gesels met Lea Vivier en Ilse-Lee van Niekerk wat in episodes 3 & 4 van Die Byl seisoen 4 te sien is.
Die Byl 4 – Lea en Ilse-Lee

Lea Vivier en Ilse-Lee van Niekerk is twee jong aktrises wat vinnig hulle merk in die vermaakbedryf gemaak het. Lea was onder meer te sien in Wonderlus en Die Boekklub en Ilse-Lee in Sonskyn Beperk en Getroud met rugby. Hulle is ook te sien in Troukoors op Showmax. Maar in die derde en vierde episode van die nuwe reeks van Die Byl, het hulle al twee ’n heel ander kant van hulle speeltalent gewys en hier was beslis geen romanse en mooi glimlaggies nie ...

Hoe het julle in die karakter se kop ingekom?
Lea:
Een van my gunsteling aanhalings oor my professie is Natalie Portman se “acting is the art of empathy”. Dis hoe ek al my karakters benader. Met empatie. As jy verstaan van waar jou karakter kom, hoekom hulle sekere besluite maak, wat hul dryfkrag en innerlike waarheid is, dan’s jy daar! Dan’s jy in hulle kop want jy verstaan daai persoon se bedrading, se psige. Negentig persent van toneelspel vir beide en film en TV is voorbereiding. Dis hoe ek in my karakters klim. My karakter, Azel, was met tye baie fisies wat ek geniet het. Dit was vir my opwindend. Amper meer teatraal, en ek’t daarna gesmag (as gevolg van Covid en die tekort aan teatergeleenthede op die oomblik). Sekere van die tonele teenoor Ilse-Lee was vir my baie uitdagend, veral in Sondag se episode, want sy’s ‘n goeie vriendin van my en ek gee baie om vir haar. Maar dit het die tonele en verhouding kompleksiteit verleen en daaroor kla ons akteurs nooit nie.
Ilse-Lee: Met enige karakter probeer jy verstaan hoe hulle tot op daardie punt gekom het. Met hierdie karakter het sy en Azel (Lea se karakter) geglo hulle doen die regte ding vir die groter goed. Dit is dan makliker om dit te regverdig van hulle perspektief af.

Sal julle graag meer sulke rolle soos hierdie wil speel?
Lea:
Nuwe karakters is wat my opgewonde maak. Ek wil aanhou om nog uitdagende rolle te vertolk soos hierdie een. Enigiets wat ek nié ken nie, wat nie naby aan “Lea” is nie, is vir my opwindend. Die geleentheid om totaal en al in ’n nuwe psige in te klim, is my sielskos.
Ilse-Lee: Ja, natuurlik! Ek hou van sulke donker karakters. Dis fassinerend om te speel.

Wat het eerste gekom: Die Byl of Troukoors? Het julle saam voorberei?
Ilse-Lee:
Die Byl was eerste. Ons het toevallig saam oudisies gedoen vir al twee die produksies en mekaar gehelp met self tapes (opnames wat akteurs instuur vir oudisies). Ons is in regte lewe goeie vriendinne en dit was lekker om in al twee saam met haar te speel.
Lea: Nee, ons het nie saam voor berei nie. Dis vir my ’n baie persoonlike proses wanneer dit by televisie en film kom en elke akteur het hul eie proses. Ons het wel mekaar met die oudisies gehelp en dis altyd interessant om te sien wie eindig waar op. 

Verstaan julle vroue wat wraak neem?
Ilse-Lee:
Ja, ek verstaan vroue wat wraak neem. Enige persoon tot in ’n mate. Vroue word dikwels deur die samelewing neer gedruk so ek kan verstaan dat hulle meer tot wraak geneig is. Dit maak dit nie reg nie, maar ek kan dit verstaan.
Lea: Ja, veral met geweld teenoor vroue in ons land. Ek sê nie dis reg of dat ek dit goedkeur nie, vanselfsprekend, maar ek verstaan dat daar mense is wat voel niemand staan vir hulle op nie en dat hulle hulself moet verdedig. Daar is niks so erg soos om hulpeloos en uitgelewer te voel nie en dit forseer mense dikwels om drasties stappe te neem. So ek kan dit verstaan, ja. Mens kan óngelooflik baie verstaan wanneer jy weet die individu tree op vanuit ’n plek van pyn en seer.

*Lea en Ilse-Lee is in episode drie en vier van Die Byl seisoen 4 te sien. Episode vier word Sondag 6 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Catchup.