Logo
web uni tv guide

Slank

144LeefstylPG

Slank – Nuwe seisoen, nuwe doelwitte

Nuus
03 Junie 2022
Die sewende seisoen van Slank gaan weer deelnemers uitdaag, kykers inspireer en die lewe van ’n heel paar mense handomkeer verander.
Slank

Die sewende seisoen van Slank gaan weer deelnemers uitdaag, kykers inspireer en die lewe van ’n heel paar mense handomkeer verander.

“Ons het vir hierdie reeks bekendes, kykers en selfs ’n vorige deelnemer wat beoog om nog 50kg te verloor,” sê die vervaardiger, Stephan Neehtling. “Van die deelnemers kry reeds voorbereide kos en ander maak hulle eie kos gegrond op sekere eetplanne. Hierdie gaan veral interessant wees met Toks en Vaatjie wat deelnemers is.”

Ja, die gewilde kykNET-persoonlikhede Toks van der Linde en Tommy “Vaatjie” Dickson is twee van die deelnemers hierdie seisoen. Toks se vrou, Carol, neem ook deel nie net vir haarself nie, maar ook om vir Toks te ondersteun.

Die deelnemers is Larissa Esterhuizen, ’n 22-jarige BCur-student by NWU in haar vierde jaar. Dié voornemende verpleegsuster het ’n passie om met mense te werk en families is veral vir haar baie belangrik. Haar grootste droom is om ’n gesonder leefwyse te begin volg, gemaklik in haar vel en klere te wees en om eendag die wêreld te toer en nuwe dinge te beleef.



Marie-Louise Botha is 49-jaar oud en reeds 29 jaar met haar man, Riaan, getroud. Hulle het drie kinders en twee skoonseuns. Sy glo haar doel op aarde is om ’n goeie vrou vir haar man te wees en ’n goeie ma en voorbeeld vir haar kinders. Sy het vir Slank ingeskryf om weer goed te voel oor haarself en wanneer haar polisieuniform aantrek, sy goed daarin lyk.


Trompie van der Berg is 44-jaar oud en was vir die eerste 25 jaar van sy lewe ’n ywerige sportman wat op 11-jarige ouderdom sy eerste SA-goue medalje in atletiek gewen het. Hy het in 2021 ook aan Slank deelgeneem en ’n ongelooflike 51kg verloor. Ongelukkig het hy aan die begin van die jaar sy knieligamente geskryf en die drie maande wat hy onaktief was, het beteken dat hy weer gewig opgetel het. Trompie se doel is om aan die einde van die huidige reeks ’n totaal van 100 kg te verloor.


Tommy Dickson, beter bekend by TV-kykers as Vaatjie, doen bemarking vir Weber SA en tree gereeld by skoue en gholfdae op en bied ook kookklasse aan. Ná skool het hy rekenaars vir die kospotte verruil en dit het intussen sy groot passie geword. Hy is ’n bekende gesig op die kykNET-program Toks en Tjops. Hy wil aan Slank deelneem om gewig te verloor en ’n gesonder leefstyl te volg.


Albert van der Linde, of Toks soos die land hom leer ken het, is ’n boorling van Senekal en het vir twee jaar vir Oos-Vrystaat Cravenweek-rugby gespeel. Later het hy vir Vrystaat, Natal en die Westelike Provinsie gespeel en in 1996 het hy sy Springbokdebuut teen Italië gemaak. Sy groot droom is om met Slank se hulp as sy oortollige gewig af te skud en weer te lyk soos toe hy vir die Springbokke gespeel het.


Carol van der Linde kom oorspronklik van Potchefstroom, maar woon die afgelope 15 jaar in die Kaap. Toe sy 45 jaar geword het, het sy aanhou gewig optel en sy weeg nou meer as ooit in haar lewe. Sy dink dat dit haar werk as direkteur van Kaapse Forum en as senior konsultant vir maatskappye in gedrang bring. Haar man, Toks, is haar beste vriend en steunpilaar en dit is vir haar ’n voorreg om die Slank-pad met hom te stap.


Lewis Galand – allerweë bekend as Louis – is 38 jaar gelede met Ceroldine Galand getroud en hulle het twee kinders en vier kleinkinders. Hy het skool aan die einde van graad 10 verlaat en as veiligheidsbeampte begin werk, maar daarna verskeie kursusse gevolg en in 2016 voltooi hy sy BA Sakebestuur (Hons.) aan die Lincoln Universiteit in Engeland. Louis werk op die oomblik aan ’n MBA. Hy wil aan Slank deelneem om dissipline te kweek en ’n gesonder leefstyl.


Stephanie Baartman is 36-jaar oud en nie net ’n aktrise nie, maar ook ’n sangeres en voorsangleier in die kerk. In haar besige program geniet sy stokperdjies soos lees, fliek, dans, kuier en lewendige optredes voor gehore. Sy probeer ook tyd inruim vir aktiwiteite soos oefen, stap en besoeke aan die gimnasium. Met haar deelname aan Slank, hoop Stephanie om haar gewig en haar lengte in ooreenstemming te kry. Die konsep van die program om aan deelnemers verantwoordelikheid te gee vir hulle eie vordering, staan vir haar uit.


“Daar is natuurlik ook dieëtkundiges, dokters en fiksheidskenners betrokke en Mike Krige van Munch Measured Meals is een van die mentors saam met Careen Visagie wat Tony Ferguson se eetplanne verteenwoordig,” sê Stephan.

Die Slank-span het die land deurkruis agter hulle deelnemers aan en was in Pretoria, Johannesburg, Benoni, Kemptonpark, Wellington en Durbanville.

“Die reaksie op die vorige reekse was groot en veral op ons uiteenlopende karaters,” sê Stephan. “Lotie Koen, wat aan die vorige seisoen deelgeneem het, word gereeld voorgekeer en Trompie het ’n klomp mense geinspireer. Die reaksie is dus baie positief. Ek dink omdat die fokus ’n gesonder lewenstyl is eerder as net gewigverlies. Dit maak die reeks nóg meer toeganklik.”

Volg ons deelnemers se Slank-reistog op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Slank.