Logo
web uni tv guide

Slank

144LeefstylPG

'Slank' is terug met ‘n rits bekendes as deelnemers

Nuus
15 Junie 2021
'Slank' 6 begin op 4 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144
Slank Billboard 2560x490

Daar gaan gefokus word op elke deelnemer se behoeftes en raad gaan gegee word oor ’n gesonde leefstyl, sê Stephan Neethling, vervaardiger van Slank, die gewilde reeks wat op 4 Julie vir ’n sesde reeks afskop.

“Ons gaan nie net na gewigsverlies kyk nie, maar ook na onder meer gesondheidsprobleme,” sê hy.

In die nuwe reeks is daar vyf deelnemers met elkeen wyd en uiteenlopende omstandighede en doelwitte.

“Die sanger en TV-aanbieder Pieter Koen en sy vrou, Lotie, het elk behoeftes van hulle eie,” verduidelik Stephan. “Pieter het nie gewigsprobleme nie, maar wil graag spiere bou, terwyl Lotie ’n paar kilo’s wil afskud.”

Johan, oftewel Trompie van den Bergh, was in sy jonger jare ‘n suksesvolle sportman wat een na die ander medaljes op die atletiekbaan gewen het. Hy het op skool provinsiaal krieket en rugby gespeel en is deesdae ‘n fotograaf van beroep.

“As gevolg van sy werk en ‘n tekort aan oefening, het sy gewig handuit geruk,” sê Stephan. “Sy reis begin waar hy 212kg weeg en hy hoop om minstens 60kg daarvan te verloor.”

Die sanger Manuel Escorcio wil graag gesonder lewe en sy diabetes onder beheer kry en die sangeres en aktrise Bianca le Grange wil ‘n paar kilo’s afskud en hoop dit gaan haar help om swanger te raak.

Stephan sê elke nuwe reeks bring sy eie uitdagings, maar hulle sien dat kykers bekendes in ‘n ander lig sien wanneer hulle hulle op Slank sien. “Jy ontdek dat almal van ons daaglikse uitdagings het wanneer dit by gewig, selfbeeld, mediese probleme en so meer kom. Ons kenners help hulle op die pad en kykers leer daaruit omdat hulle hul eie gesondheisprobleme en –uitdagings kan identifiseer.”

Hy glo Slank maak ’n verskil omdat bykans elke volwasse persoon iewers ’n probleem het wat aangespreek moet word. “Die program skep ’n gemaklike platform vir mense om te leer en om saam met die deelnemers die pad te stap.”

Leandie du Randt is weer die aanbieder van Slank. “Hierdie seisoen van Slank gaan ekstra vermaak verskaf met al die talentvolle en aangename deelnemers,” sê sy. “Ek geniet dit veral omdat elke deelnemer se gesondheidsdoelwitte so uniek is. Sodoende kan meer mense met die deelnemers identifiseer en die nodige raad kry.”

Slank 6 begin op 4 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144