Logo
web uni tv guide

Slank

144LeefstylPG

Slank: Deelnemers deel hulle geheime

Nuus
02 Oktober 2022
Deelnemers van Slank vertel oor hulle grootste uitdaging en deel lesse wat hulle geleer het.
Slank 7

Die laaste episode van die nuwe seisoen van Slank is uitgesaai en ons wou by die deelnemers weet wat hulle uitdagings, suksesse en geheime was. 

Stephanie Baartman

Hoeveel het jy in die proses verloor? 

Ek het net so oor die tien kilogram verloor, waarmee ek baie tevrede is.

Wat was die grootste uitdaging? 

Daar was ’n paar. Ek koop so vyf dae vooruit vir my kinders ’n chippie en ’n soet dingetjie vir hulle kosblikke. Dit word in ’n laai in my kombuis gehou. Glo my, ek het menige nag in die donker het tot by daai laai geloop.

Dan natuurlik word ek baie na funksies toe genooi en dan is dit bitter moeilik om daar met ’n glasie sodawater en ’n slaaiblaar in die hand te staan.

Wat het dit vir jou maklik gemaak? 

Die feit dat ek elke week in ’n ander kledingstuk kon pas. Die feit dat my vriendin al die etes vir die kinders voorberei het en ek bitter min in die kombuis gekom het of enige kos aankope te gedoen het. Dan natuurlik dat Munch Meals so lekker was en ek dit net kon uithaal en ontvries en eet.

Wat het jy van jouself geleer? 

Eerstens dat ek baie lief is vir kos en rooiwyn en ciders en sjokolade en lekkergoed. Maar dat ek liewer daarvoor is om goed te lyk. Ek het ook geleer dat ek nie in die posisie moet kom waar ek skreeuend honger is en daar dan niks moet wees om te eet nie. Maar gelukkig het Munch Meals daardie hindernis uit die pad verwyder. 

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Nie regtig nie. Ek het nogal baie na ou foto's van myself gekyk toe ek op my vetste was en dit met nuwe foto's vergelyk en dit het my gemotiveer. 

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak? 

Moenie onrealistiese doelwitte stel nie. Jy het die ekstra gewig dalk oor jare aangepak, so jy kan nie verwag om dit binne ’n maand te verloor nie. Moenie te hard op jouself wees nie. As jy nou ’n klein oortredingtjie begaan het, beteken dit nie dat die hele proses nou na die maan is en jy moet opgee nie. Dit beteken net jy het ’n klein oortredingtjie begaan. Beweeg aan en probeer beter doen. Vier elke klein oorwinning. Al het jy ook net 500 gram verloor, dink maar aan ’n blok botter van 500 gram en weet dat jy op die wenpad is. 

Probeer iemand kry om dit saam met jou te doen. ’n Mens voel baie geïsoleerd as jy die enigste een in jou huis op 'n spesiale eetplan is. Voorbereiding is natuurlik van kritiese belang. Selfs as jy na ’n restaurant gaan, Google gerus hulle spyskaart en soek iets wat jy kan eet wat sal inpas by jou kalorie-inname. Dit is sodat jy nie daar sit en die kelner staan en tik met sy pen op sy boekie en jy is so verbouereerd dat jy net daar ’n Belgiese-wafel met roomys en stroop bestel nie. En dit is ’n cliché, maar vat een dag op ’n slag en een kilogram op 'n slag. Dit is soos om ’n olifant te eet - happie vir happie. 

Louis Galand

Hoeveel het jy in die proses verloor? 

18.6kg.

Wat was die grootste uitdaging? 

Om nie gedroogde vrugte, pere en druiwe op te gee nie. 

Wat het dit vir jou maklik gemaak? 

Die ondersteuning van my vrou, gemeenskap en kollegas by die werk. 

Wat het jy van jouself geleer? 

Om meer verantwoordelik met my gesondheid om te gaan deur reg te eet. 

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Ek wil body fat verloor en niemand teleurstel. Ek is gedissiplineerd en het deursettingsvermoë en kan suksesvol wees.

Marie-Louise Botha

Hoeveel het jy in die proses verloor?
Dit is die eerste keer in my lewe wat ek gewig verloor en dit nie vir my gevoel het of ek op ’n dieët is nie. Ek het met die program 15,6 kg verloor. Alhoewel die program al verby is, verloor ek steeds gewig. 

Wat was die grootste uitdaging?
My grootste uitdaging was om my versoekinge te oorkom. Vir my is versoekinge om te peusel en te besef wat ek alles in my mond sit ’n invloed op my liggaam het. 

Wat het dit vir jou maklik gemaak?
Die ondersteuning vanaf my gesin, familie en selfs van my kollegas by die werk het dit vir my baie maklik gemaak. Die leiding en raad vanaf Caryn, die dieëtkundige, het die reis ook vir my maklik gemaak. 

Wat het jy van jouself geleer?
Ek het vroeg in die Slank-reis besef ek is sterker as wat ek gedink het. Ek gee nie maklik moed op met ander mense nie, maar ek was op ’n plek in my lewe waar ek amper moed opgegee het my myself, veral oor hoe ek gelyk en gevoel het. Slank het my weer moed in myself gegee. 

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Vir my as Christen het ek van die begin besef ek kan nie hierdie reis alleen aanpak nie. Daarom het ek daagliks myself herinner aan Psalm 31:25: Wees sterk en hou moed. Ook Deuteronomium 31:6: Hou moed en wees dapper. Ek het die verse op my witbord by die werk geskryf en sodoende myself daagliks herinner om moed te hou. 

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak?
Just do it. Maak ’n doelbewuste besluit om beter na jou liggaam om te sien. Jy hoef nie te wag vir ’n program soos Slank nie en jy het nie sakke vol geld nodig nie. Koop die regte kosse en doen maaltydbeplanning en voorbereiding. Wees bewus van wat jy alles deur die dag eet (peusel). Sterkte met die proses. 

Larissa Esterhuizen

Hoeveel het jy in die proses verloor?
Ek het in die afgelope drie maande 11 kg en 60 cm in my lyf se omtrek verloor. Ek is van ’n groote 40 na ’n 36. 

Wat was die grootste uitdaging?
Om as student van Potchefstroom huis toe te kom en nie te veel van my ma se lekker kos te eet nie. Soos dit maar vir enige persoon is wat ’n eetplan volg, is dit nie altyd maklik om die regte keuses te maak nie. 

Wat het dit vir jou maklik gemaak?
Vir ’n student en iemand wat nie juis daarvan hou om kos te maak nie, was die Tony Ferguson-plan baie gerieflik en het dit tot my sukses bygedra. Dit was ook genoeg motivering om te ervaar hoe my klere losser aan my lyf sit en al die komplimente wat daarmee saamgekom het. 

Wat het jy van jouself geleer?
Dat ek wel enigiets kan bereik wat ek graag in die lewe wil hê. Ek het geleer dat ek genoeg wilskrag en selfmotivering het om vas te byt. Ek het ook geleer dat ek baie van oefening hou, meer as wat ek besef het en dat my liggaam, siel en gees saam kan werk as een. 

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat?
Ek het myself elke dag herinner aan die groot geleentheid en voorreg wat ek het om deel te wees van die groot lewensveranderende plan. Ek was nooit van plan om te misluk nie en my doel van die begin af was om ’n beter en gesonde lewenswyse aan te leer. Dit is wat Slank vir my moontlik gemaak het. Die gewig wat ek verloor het, was vir my ’n groot bonus.
Ek het ook myself herinner as ek voor versoeking gestaan het, dat niks lekkerder kan proe as wat dit gaan voel om in kleiner klere te pas nie. 

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak? 

Byt vas en glo in jouself en wees jou eie grootste ondersteuner. Vat een dag op ’n slag en geniet die reis. Weet daar is geen quick fix nie. Hierdie is nie net ’n tydelike verandering nie.
Hierdie is ’n permanente gesonde leefstylverandering wat vir die res van jou lewe onderhou moet word. Mens moet net begin en opdaag, dan is vyftig persent van die werk klaar gedoen. Luister na jou liggaam en doen wat vir hom goed is. Hou op eet as jy versadig is en eet wanneer jy honger is. Gee jouself grace om wel ’n stuk koek te geniet. Moenie jouself daarvoor straf nie, want die lewe is te kort. 

Trompie van der Berg

Hoeveel het jy in die proses verloor?

Ek het 21,5 kg hierdie die rondte verloor, dus 55 kg in totaal. (Trompie was in die vorige seisoen ook een van die deelnemers.)

Wat was die grootste uitdaging?

Hierdie keer het ek so paar gesondheidsuitdagings gehad wat dit vir my moeiliker gemaak het as laas jaar. Nie net het my gewig vir ’n lang ruk stilgestaan nie, maar dit het ook my doelgerigtheid en deursettingsvermoë vir die eerste twee maande beïnvloed. Die laaste maand het dinge vir my begin draai en ek het my leefstyl werklik verander, iets wat ek ná die program ook gaan kan handhaaf. Ek het al my gewig in die laaste maand verloor en ek is baie trots op my ommekeer. Net omdat daar uitdagings is beteken dit nie mens moet opgee nie. Aanhouer wen! 

Wat het dit vir jou maklik gemaak? 

Die Munch Meals is regtig net ongelooflik. Alles is reeds voorberei en jou kalorieë reeds uitgewerk. Al wat jy moet doen is die plan volg. Die vat die dinkwerk uit gesond eet. 

Wat het jy van jouself geleer? 

Met ouderdom en tyd verval mens in ’n gemaksone. Mens se grootmenslewe gaan meestal daaroor om die vrugte te pluk van harde werk in jou jonger jare en gemakliker te begin leef. Daar is niks fout daarmee nie, maar dit het ook tot gevolg dat jy jou honger verloor vir veg as dinge nie so goed gaan nie. Jy begin so nou en dan kortpaaie kies, jy laat dinge dalk gaan eerder as om te veg. Ek het geleer dat die honger om te baklei nog in my is, dat ek dinge kan omdraai en oorwin al gaan dit nie maklik nie. Ek het geleer om uit hierdie gemaksone te klim en nuwe dinge aan te pak, en die lewe te geniet as ’n journey en nie ’n destination nie. 

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Liewer slyt as roes! 

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak? 

Moet dit nie uitstel nie. Ek ken ’n oorgewig mens se manier van dink. Dis altyd Maandag. Vandag is die dag! Kyk na die sukses wat mense op Slank oor die jare heen gehad het en kom in aanraking met die spesialiste wat op die program was - hulle weet waarvan hulle praat. Ja, daar is koste aan verbonde, maar belê in jouself en jou gesondheid. Kry ’n ewige oplossing, yo-yo diëte is nie gesond en nie lekker nie. Dankie aan Slank, Munch Measured Meals en almal betrokke by die program. 

Toks van der Linde

Hoeveel het jy in die proses verloor? 

Ek het my doelwit bereik en weeg nou 135 kg. 

Wat was die grootste uitdaging? 

Om my dag tot dag manier van lewe te verander en dit was great

Wat het dit vir jou maklik gemaak? 

Munch Meals is amazing. Die manier hoe Mike en Caryn met my gewerk het, is ongelooflik. Hulle is champs!

Wat het jy van jouself geleer? 

Don’t look at the problem, look at the solution. Dit het my lewe verander. Ek voel soos ’n nuwe persoon.

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Ek het van die begin af gesê as ek iets aanpak, dan maak ek ’n sukses daarvan en bereik my doel. Ook “the show must go on” en “don’t stop me now”.  

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak?

Begin net. Hou op om verskonings te soek. Die tyd is nou.

Tommy Dickson (beter bekend as Vaatjie)​

Hoeveel het jy in die proses verloor? 

Ek het tien kg verloor en nog 1,7 kg ná die laaste eposode geskiet is. Ek het ook 18 cm verloor. 

Wat was die grootste uitdaging? 

Om brood uit te sny en groente en hoender in my dieët in te bring. Om te beplan, veral as ek by groot funksies braai, was 'n uitdaging. Gewoonlik was dit kitskos ná ’n funksie, maar nou is dit beplan. 

Wat het dit vir jou maklik gemaak? 

Ek het vriende en kollegas wat my ondersteun het en dat ek my eie kos kan maak en kon speel met die bestanddele. Ons het ook ’n groep gehad waarop ons mekaar kon motiveer. 

Die feit dat ek besluit het ek gaan dit doen en my kop was reg het beslis ook gehelp.

Wat het jy van jouself geleer? 

Ek het uitgevind dat my yster te hoog was. Ek het dissipline geleer en ontbyt deel van my eetplan gemaak. Geleer om etes te beplan en geleer om my emosies in die gesig te kyk en vrede met myself te maak. Ek was altyd baie hard op myself en dit het gestop. Ek het ook geleer dat ek minder kafeïen nodig het.

Het jy ’n mantra gehad, iets wat jy die hele tyd vir jouself gesê het om jouself moed in te praat? 

Nee, ek het nie. Ek het net gefokus op die eetplan gebly. 

Wat is jou raad aan ander wat hierdie proses wil aanpak?

Kry jou kop reg. Dis die belangrikste. Laat jou dokter jou uitloer om mediese-uitdagings te hanteer. Beplan jou etes en moenie moed verloor nie.