Logo
Met 'n huppel in die stap
web uni tv guide

Met 'n Huppel In Die Stap

144LeefstylPG

Slaap gee jou lewe – Met ’n huppel in die stap

Nuus
22 Januarie 2019
Lees meer.

Foto: Getty Images

deur Elsabé Brits

Om snags goed en lank genoeg te slaap is baie belangriker vir ’n mens se gesondheid, en veral jou brein, as wat jy sou dink. Slaap gee jou lewe.

Om jou brein van slaap te ontneem hou verstommende nadele in. Jy raak impulsief, neem swak besluite (al dink jy nie so nie) en jou geheue word aangetas. Dit word geassosieer met vetsug, diabetes, hartaanvalle, beroertes (iskemies), sekere kankers – veral by skofwerkers – en ’n korter lewe.

Daar is meer onlangs gesien dat breinselle weens te min slaap beskadig word. In die brein is gene wat aanskakel net wanneer jy slaap, wat jou uiteindelik help om komplekse probleme op te los.

Wanneer jy slaap, slaap jou brein nie. As dit heeltemal “afgeskakel” het, sou jy dood gewees het. Dit bly elektriese seine in spesifieke patrone stuur wat die slaapfases beheer. Gedurende slaap speel jou brein die dag se gebeure terug. Die areas in die brein wat geheue skep en stoor, soos die hippokampus en neokorteks, stuur vir mekaar seine. Dit is die brein se tyd om te konsolideer.

Die verbindings tussen die sinapse en senuweeselle word versterk. En dit is die hart van die geheue. Omdat die brein dan nie so besig is met sy omgewing soos wanneer jy wakker is nie, skakel hy nuwe inligting met ou inligting. Kenners meen dit lei uiteindelik tot kreatiwiteit.

Net 16 uur sonder slaap kan jou emosies, kognisie, emosionele intelligensie en vermoë om besluite te neem beïnvloed. Weens te min slaap vloei minder bloed na sekere areas van die brein, wat metaboliese funksies beïnvloed. Navorsing, wat al dekades lank gedoen word, wys wanneer jy slaap herstel die liggaam selle en weefsel en raak dit ontslae van vrye radikale.

Ná jare se navorsing het die Nasionale Slaapstigting in Amerika se paneel van kenners ’n aanbeveling gedoen oor hoe lank ’n optimale nagrus vir alle ouderdomsgroepe moet wees. Vir mense wat 65 jaar en ouer is, is 7 tot 8 ure se slaap die beste. Minder as 5 ure kan die gevaarligte laat flikker.

Maar hoekom sukkel baie ouer mense met slaaploosheid? Dr. Kevin Rosman, neuroloog aan die Mediclinic Morningside wat die afgelope 20 jaar fokus op slaapgeneeskunde, verduidelik dat baie ouer mense nie ware slaaploosheid het nie omdat hulle langer in die bed bly gedurende die dag. Dit veroorsaak dat hulle snags nie kan slaap nie, omdat hulle reeds genoeg slaap gehad het. Daar is wel siektes soos demensie en Parkinson se siekte wat selfs in die vroeë fases slaaploosheid veroorsaak.

“Die chemie van ’n mens se gemoed en die chemie van slaap is dieselfde. Indien daar met die een ’n probleem is, sal dit met ander ook waarskynlik verkeerd loop. Die blootstelling aan helder lig in die oggend kan dit behandel. Die meeste mense se liggaam maak genoeg melatonien (wat jou slaapsiklus beheer en om te verseker dat jou liggaam genoeg maak, het jy helder oggendsonlig nodig. Dit kan ook depressie veroorsaak indien jy nie genoeg daarvan kry nie,” verduidelik Rosman.

Van ’n mens se middel sestigs af verminder jou vermoë om melatonien te maak. Sommige mense het dan ’n aanvuller nodig, maar Rosman waarsku dit moet nooit sonder ’n dokter se toesig gebruik word nie, omdat daar ’n lang lys newe-effekte is. Daar is ongelukkig nie ’n toets in Suid-Afrika beskikbaar wat kan aandui of ’n mens te min melatonien het nie.

Wanneer kan slaap of slaapstoornisse gevaarlik raak? Rosman antwoord indien jy te veel slaap of in geselskap aan die slaap raak; indien jy snork, verstik en dan ophou asemhaal (jou bedmaat sal dit hoor); wanneer dit voel of jy slaapprobleme in die nag sáám met moegheid in die dag het; wanneer jy ewe skielik in jou slaap begin loop.

“Slaap is noodsaaklik vir lewe. Teen die tyd wat jy 60 is, het jy al 20 jaar geslaap,” sê Rosman. Dit is hoe nodig ons slaap het om te oorleef.

Dr. Irshaad Ebrahim, ’n psigiater wat spesialiseer in slaapgeneeskunde by die Constantia Slaapsentrum in Kaapstad en die London Sleep Centre, gee wenke saam met dr. Kevin Rosman:

  • Probeer om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap en op te staan.
  • Moenie ’n uiltjie of twee knip in die dag nie, want dit kan jou normale slaapsiklus versteur. Probeer dit vermy en kyk of dit jou slaappatroon in die nag verbeter.
  • Jou slaapkamer moet ’n stil area wees, moenie daar televisie kyk of met jou selfoon speel nie.
  • Slaappille word nie aanbeveel vir ouer mense nie, dit kan geheueprobleme veroorsaak of vererger. Mense kan val en bene breek. Dit moet net in baie seldsame gevalle en min gebruik word, soos voor ’n baie stresvolle dag.
  • Leer ontspanningstegnieke aan soos joga, om diep asem te haal, meditasie. Of luister na sagte, rustige musiek terwyl jy aan die slaap raak.
  • Stimulante gaan jou ook nie help om te slaap nie, moenie dit binne ses uur voor bedtyd drink nie. Dit sluit in koffie, tee of enige iets met kaffeïen in. Alkohol help jou nie om te slaap nie, dit mag jou help om aan die slaap te raak, maar jou slaap is nie rustig nie en dit ontwater jou. Veral as jy te veel drink.
  • Oefen gereeld, maar nie voor slaaptyd nie.
  • Moenie lê en rondrol nie, staan op en gaan sit iewers en lees.

Addisionele Bronne: Sleep Health – The Official Journal of the National Sleep Foundation; Sleep – A Health Imperative; National Sleep Insitute; The Society for Neuroscience.

Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. 

Skakel Woensdae om 18:00 in op DStv-kanaal 144 vir Met ’n huppel in die stap. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.