Logo
Bolhuis beslis

Skryf nou in vir Bolhuis beslis en kry geregtigheid

Nuus
01 Maart 2024
Hier is hoe jy kan deel wees van dié nuwe program.
Bolhuis beslis

Het ’n haarkapper jou van skoonheid na ondier verander? Is daar onmin in jou familie oor ouma se erfporsie? Het jy en ’n vriend stry gekry oor ’n onbenulligheid en praat al jare nie met mekaar nie? Maak jou bure se honde se alewige geblaf jou mal? Dan is kykNET se nuwe realiteitsreeks op soek na jou.



In Bolhuis beslis is die bekende privaat speurder Mike Bolhuis in die regterstoel. Hy sal na beide kante van die storie luister en dan besluit wie is reg en wie is verkeerd en wat die oplossing vir die probleem is.

“Ek is al vir dekades in my bedryf en ek hanteer gewoonlik baie groot sake,” sê Mike. “Maar ek het besluit om tyd opsy te sit vir al daardie mense wat my elke dag bel oor klein goedjies – van ’n stryery met jou buurman tot die hondesalon wat jou hond verkeerd geskeer het. Ek sal al twee partye aanhoor, maar onthou net: My beslissing is finaal!”

Die vervaardiger van die reeks is Provoco, Rian van Heerden se produksiemaatskappy, wat ook vir trefferprogramme soos Bolhuis, Laataand by Rian, Liefde sonder grense en Die siener verantwoordelik was.

In Bolhuis beslis, wat ’n reeks van 13 halfuur lange episodes gaan wees, sal Mike as arbiter optree in een saak per episode. Die opnames word in sy kantoor op sy landgoed buite Pretoria gemaak.

Stuur ’n e-pos aan [email protected] om in te skryf. Som die geskil in twee paragrawe op, bevestig wie die betrokke partye is en voorsien enige kontakbesonderhede waaroor jy beskik. Onthou, as ’n geldwaarde betrokke is, is die maksimum bedrag R15 000. Indien jy ’n potensiële deelnemer is, sal jy deur Provoco gekontak word.

Moenie wag nie. Gryp nou hierdie kans aan om vir eens en vir altyd daardie doring uit jou vlees te kry. 

Inskrywings sluit 30 April.