Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Skole: Wat is die beste vir jou kind? – Arendsvlei

Nuus
25 Maart 2021
Wat is die beste skool vir jou kind en wat is die verskillende skole wat in Suid-Afrika beskikbaar is?
HS AV BB

Hoërskool Arendsvlei, ‘n onafhanklike skool, is deur Beatrice Abrahams (Jolene Martin) begin om vir die kinders in haar gemeenskap ‘n goeie opvoeding te gee. Maar wat is die beste skool vir jou kind en wat is die verskillende skole wat in Suid-Afrika beskikbaar is?

Die Suid-Afrikaanse skolestelsel bestaan uit drie tipe skole: onafhanklike- of privaatskole, staatskole of semi-privaatskole.

Staatskole is geheel en al afhanklik van die regering vir hulle befondsing en toerusting. Elke provinsie het sy eie onderwysdepartement wat moet seker maak dat die skole alles het wat hulle nodig het. Die fasiliteite by staatskole kan wissel en hang gewoonlik af van hoe goed die skool bestuur word en hoe welvarend die area is.

Staatskole se onderwysers word deur die Departement van Onderwys aangestel. Hierdie skole word in kwintiele verdeel wat vasgestel word volgens die finansiële vermoë van die gemeenskap waar die skool is. Kwintiel 1 tot 3 is die skole wat omsien na die armste gemeenskappe. Staatskole wat skoolfonds vra, word as kwintiel 4 en 5 geklassifiseer. Hierdie skole het gewoonlik meer hulpbronne en die leerders kom uit meer gegoede huise. Daar word van die ouers of voogde van hierdie leerders verwag om te help om die finansiële las van die skool te dra en hierdie skole sal byvoorbeeld onderwysers hê wat deur die skool, of dan die beheerliggaam van die skool, betaal word. Dit is sogenaamde beheerliggaamposte.

Semi-privaatskole is skole wat wel befondsing by die staat kry, maar hierdie skole word grotendeels befonds deur skoolfonds wat baie meer is as by gewone staatskole. Van die land se beste skole val in hierdie kategorie. Omdat die skoolfonds so hoog is, kan hierdie skole meer bied soos byvoorbeeld meer onderwysers per kind (wat kleiner klasse beteken), beter fasiliteite en ‘n baie hoë graad van onderrig.

Privaatskole, ook bekend as onafhanklike skole, is skole wat deur ‘n trust, kerk, gemeenskap of besigheid bestuur word. Nie alle privaatskole is duur nie en sekere privaatskole, soos byvoorbeeld Curro, het verskillende skole in hulle sakemodel sodat meeste ouers dit kan bekostig. Privaatskole bied gewoonlik kleiner klasse en beter fasiliteite.

Wanneer jy ‘n skool vir jou kind soek, kyk na die volgende faktore:

  • Wat is die verhouding tussen onderwysers en kinders? Hoe minder kinders per onderwyser, hoe beter vir jou kind.
  • Die fasiliteite wat die skool bied. Vir sommige kinders is sportfasiliteite belangrik, vir ander kultuurbedrywighede soos ‘n kuns- en musieksentrum.
  • Die bestuur van die skool. Hoe beter ‘n skool bestuur word, hoe beter vir die kind. Kyk byvoorbeeld na die akademiese uitslae van die skool om ‘n prentjie te kry oor hoe goed die skool bestuur word.
  • Wat bied die skool buitemuurs aan?
  • Die kwaliteit van die onderwysers.
  • Pas die skool in jou begroting?
  • Is dit prakties vir jou kind om daar skool te gaan, met ander woorde is dit nie te ver van waar julle woon nie?

Die duurste skole in Suid-Afrika
Die vyf duurste skole in Suid-Afrika vir kinders wat ook in die koshuis woon is:

  • Hilton (KwaZulu-Natal) – R331 550,00 per jaar
  • St. Andrew’s College (Grahamstad) – R312 350,00
  • Roedean School for Girls (Johannesburg) – R296 184,00
  • St. John’s College (Johannesburg) – R291 862,00
  • Kearsney College (KwaZulu-Natal) – R289 630,00

Die vyf duurste skole in Suid-Afrika vir dagstudente is:
(Hilton en Michaelhouse, beide seunskole in KwaZulu-Natal, is nie op die lys)

  • Kearsney College (KwaZulu-Natal) – R199 320,00
  • St. John’s College (Johannesburg) – R172 185,00
  • Roedean School for Girls (Johannesburg) – R167 814,00
  • Bishops College (Kaapstad) – R158 620,00
  • St. Mary’s (Johannesburg) – R156 000,00