Logo

‘Skating on Thin Uys’ ná 30 jaar by Silwerskermfees

Nuus
18 Augustus 2015
Die 1985-fliek Skating on Thin Uys draai binnekort by die kykNET Silwerskermfees ter viering van Pieter-Dirk Uys se 70ste verjaardag.
SSF_Logo

In 1985 is die vollengte fliek Skating on Thin Uys vrygestel. Skaars drie weke later is dit verban en is dit nooit weer in Suid-Afrika gewys nie. Tot vanjaar. Op Donderdag 27 Augustus word dié stuk Suid-Afrikaanse filmgeskiedenis op die kykNET Silwerskermfees gewys as deel van die viering van Pieter-Dirk Uys se 70ste verjaardag en Evita Bezuidenhout se 80ste verjaardag.

Skating on Thin Uys het ’n indrukwekkende rolverdeling. Behalwe vir Pieter-Dirk Uys, wat die rolle van Evita Bezuidenhout, Bambi Kellerman, Hasie Bezuidenhout, De Kock Bezuidenhout, Billie-Jeanne Bezuidenhout en Izan Bezuidenhout vertolk, spog die rolverdeling met spelers soos Thoko Ntshinga, Lizz Meiring, Steven Moloi, Winston Gama, Scot Scott, Brümilda van Rensburg en Michael Brunner.

Daar was egter ook ’n paar ander bekendes wat hulle buiging op die silwerskerm gemaak het. Anneline Kriel (in die rol van Moon Levine), die Springbokrugbyspeler Divan Serfontein en die politici dr. Piet Koornhof, Helen Suzman en dr. Connie Mulder is almal hierin te sien.

Die draaiboek is deur Uys geskryf en die regisseur was Bromley Cawood.

“Almal was opgewonde oor die projek en om met die karakter van Evita Bezuidenhout dieper in die donker spelonke van ons politiek te kon inwoel,” sê Uys. “Ook om humor te gebruik om mense se aandag te vestig op die belaglike dinge in ons politiek en lewenswyse.”

Het dit oorreding gekos om die politici in die fliek te kry?

“Dr. Connie Mulder, wat pas uit die Nasionale Party geskors is en sy eie Konserwatiewe Pary gestig het, was dadelik gretig en baie beleefd daarby,” sê Uys. “Om te dink hy het as minister so baie van my dramas deur sensuur verbied. Dr. Piet Koornhof was tweede aan bewind van die NP-regering en het ook dadelik met ’n glimlag aangemeld. Mev. Helen Suzman, die enigste parlementêre lid van die wit opposisie teen apartheid, kon nie wag om haar woorde te deel nie. Terloops: Almal het hul eie teks geskryf en almal het dadelik ingestem.”

En Anneline Kriel? “Anneline was destyds mos Mev. Sol Kerzner van Sun City-faam en was baie vol giggels omdat sy die vroulike Sol, wat in beheer van die Bapetikosweti Glitter Pit en Casino was, kon speel,” sê Uys.

Hy sê die fliek is vandag nog relevant.

“Die film het in 1985 vir slegs drie weke in Suid-Afrika gedraai en toe is dit gestaak. Blykbaar is al die afdrukke van die 35mm film ‘per ongeluk’ vernietig. Net een het staande gebly. Dit is na Londen na my agent gestuur, kastig vir die Cannes-filmfees. Dis ook daarom dat die Afrikaans met Engelse onderskrifte aangevul is. Dit is dan ook die film wat by die kykNET Silwerskermfees te sien sal wees. Kyk self en besluit, maar almal wat die film gesien het, is verstom oor die relevante situasies en eietydse komedie wat plaasvind. En die gehalte van die produk laat sommige dit ‘die verlore meesterstuk uit die tagtigerjare’ noem!”

Uys is bly om weer die “Bezuidenhout-Bapetikosweti-Barok” met gehore te deel. En Evita Bezuidenhout?

“Tannie Evita kan nie glo dat sy na soveel jare amper dieselfde lyk nie,” sê Uys.

Die glansaand en vertoning by die kykNET Silwerskermfees is slegs op uitnodiging. Evita Bezuidenhout sal dit as eregas bywoon.

’n Spesiale program ter viering van Tannie Evita se 80ste verjaardag word op 27 September om 20:00 op kykNET uitgesaai.