Logo
Tiaan proe
web uni tv guide

Tiaan Proe

144KosprogramPG

Sit aan en kyk hoe maak TV-sjef Tiaan Langenegger liplekker huiskos – Tiaan Proe

Nuus
16 Maart 2022
Skakel vanaf 5 April 2022, elke Dinsdagaand om 21:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144 vir vetpret in die kombuis!
Tiaan Proe – Presser Banner

Jy ken hom as een van die Kokkedoor-wenners, TV-sjef én aanbieder – en nou is Tiaan Langenegger terug op die kassie om jou weer opgewonde te maak oor kosmaak in kykNET se nuwe kookprogram, Tiaan Proe.

Die eerste seisoen van Tiaan Proe skop in April af waar Tiaan huiskos, familie, lekker tye en al die nostalgiese kosherinneringe wat daaraan verbind is, herleef op skerm.

Elk van die dertien episodes het sy eie identiteit en tema soos trooskos, Paasnaweek, kinderhappies en maklike weeksaandetes om net ’n paar te noem.

Tiaan sê trots dat al die resepte op die program kos is wat almal sal kan maak. “Selfs mense wat nie goed is in die kombuis nie, sal hierdie resepte kan maak! Hierdie program is ’n manier om mense weer opgewonde te kry oor kosmaak en die kombuis,” vertel hy.

Tiaan het al die resepte self geskryf en inspirasie gevind by verskeie mense wat ’n invloed op sy kookstyl gehad het. Hy het ook natuurlik bietjie ge-eksperimenteer! Van macaroni-en-kaas, viskoekies en ingelegde vis tot Sondagtafelkos en aartappelgebak. 

Tiaan nooi ook ’n paar gaste oor om te kom hand bysit met van die tema’s. Een van sy gunsteling-episodes is waar hy en die akteur Neels van Jaarsveld kuier. “Hy is een van my baie goeie vriende en ons het lekker gekuier om ’n vuurtjie. Een van die eerste dinge wat ek doen as iemand kom kuier, is om die vuur aan te steek en te braai!” skerts Tiaan.

Ander gaste is Tiaan se vrou, ma, ouma en die Stormer rugbyspeler Ruhan Nel wat deur die loop van die seisoen te sien sal wees.

Tiaan Proe word deur Homebrew Films vervaardig wat ook programme soos In Die Sop, Kokkedoor en Bravo! vervaardig.

Skakel vanaf 5 April 2022, elke Dinsdagaand om 21:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144 vir vetpret in die kombuis!