Logo

Sink slaan toekenning los in Amsterdam

Nuus
11 April 2016
Sink, met onder andere Anel Alexander en Shoki Mokgapa, het die afgelope naweek die toekenning vir beste film by die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (A.K.A) ontvang.
Sink AKA

Brett Michael Innes en Anel Alexander op die stel van Sink.


Sink, met onder andere Anel Alexander en Shoki Mokgapa, het die afgelope naweek die toekenning vir beste film by die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (A.K.A) ontvang.

Dit is Sink, wat in Maart in teaters regoor Suid-Afrika begin draai het, se eerste internasionale toekenning. Anel Alexander, wat een van die hoofrolle vertolk en ook die vervaardiger is, het die toekenning in Amsterdam ontvang.

“Dis wonderlik om bietjie onafhanklike, internasionale erkenning te kry,” het Anel gesê.

“Ek glo ons het ’n wêreldklas-span aanmekaar gesit – voor en agter die kameras – en dis lekker om die film nou aan die res van die wêreld te begin wys.

“Ons het die afgelope week ook bt die Atlanta Film Festival gespeel en Brett (Michael Innes, die skrywer en regisseur) sê die film is ongelooflik goed ontvang.”

Sink verken hoe drie mense, uit agtergronde wat aansienlik van mekaar verskil, leer om verlies te hanteer en ’n manier te vind om mekaar te help om hulle pyn te verwerk.

Die eerste persoon, Rachel (Shoki Mokgapa) is ’n ma wat die verlies van haar kind en die bitterheid teenoor die mense wat vir die kind se dood verantwoordelik was, probeer verwerk.

34 sink shoki anel


Die tweede persoon, Michelle (Anel Alexander), is ’n vrou wat die koms van haar eerste kind en die skuldgevoelens oor haar betrokkenheid by die dood van iemand anders se kind, probeer verwerk. Die derde persoon, Chris (Jacques Bessenger), is ’n man wat worstel met dieselfde gevoelens as sy vrou, Michelle, maar ook probeer om ’n verhouding met ’n kollega, wat sy huwelik bedreig, te verstaan.

Lees meer oor Sink hier, en kyk die video van die Johannesburgse première.

Vir meer oor kykNET Films, klik hier.