Logo

Sing om M-Net se 30ste te vier en wen R30 000!

Nuus
10 Oktober 2016
M-Net het ’n prettige kompetisie geloods om 30 jaar van tydlose betowering te vier. Jy kan só ’n heerlike kontantprys losslaan!
M-Net 30 Billboard
M-Net het ’n prettige kompetisie geloods om 30 jaar van tydlose betowering te vier.

Verskeie aansteeklike temaliedjies het oor die afgelope drie dekades M-Net se vermaakaanbod vervat. Nou kan een van dié liedjies vir 30 aanhangers R30 000 in die sak bring.

Onthou jy nog hoe Queen “It’s a kind of magic” uit volle bors aan al jou gunsteling programme en sepies opgedra het?

Jy kan wen deur jóú weergawe – of spesiale interpretasie – van dié liedjie op te neem. Jy kan ’n rockster-weergawe doen, gek optree, die liedjie in ’n eksotiese bestemming opvoer of selfs die lirieke rap – solank die optrede ons betower.

Die beste optredes sal verder op al M-Net se kanale uitgesaai word, waar jy in goeie geselskap sal wees. Baie van die bekende gesigte wat jy oor die afgelope jare op M-Net leer ken het gaan ook op die skerm sing om M-Net ’n gelukkige verjaardag toe te wens.

Jy het tyd tot Sondag 23 Oktober om 23:59 om jou video in te skryf by www.mnet.tv/30.

“Hierdie kompetisie is ’n spesiale dankie aan al ons getroue kykers,” sê Yolisa Phahle, uitvoerende hoof van M-Net. “M-Net het geweldig gegroei oor die afgelope 30 jaar – van een betaal-televisiekanaal tot die vervaardiging van meer as 40 kanale vir verskillende teikengroepe oor die hele vasteland op verskillende platforms.

“Maar ons sou nie hier gewees het sonder die volgehoue ondersteuning van elke enkele persoon wat ons kaleidoskoop van storievertelling vermaaklik, insiggewend of inspirerend vind nie. Ons wil graag hierdie mylpaal saam met ons kykers vier en vertrou dat almal wat gaan inskryf vir die kompetisie – en diegene wat na die inskrywings op die kassie gaan kyk – hope pret gaan hê.”

Die kompetisie is oop vir alle Multichoice-kliënte in al die Afrika-lande wat toegang het tot M-Net se familie van kanale en, waar van toepassing, sal die kontantpryse uitbetaal word in plaaslike valuta.

Die meer as 40 M-Net-kanale sluit in ’n verskeidenheid van genre, taal en gehoor-spesifieke kanale – van kykNET, Mzansi Magic en Channel O tot VUZU AMP, Africa Magic en Maisha Magic.

34 m net 30 billboard