Logo

Sing in Harmonie op soek na talent in die noorde

Nuus
15 Februarie 2016
’n Nuwe seisoen van Sing in harmonie word binnekort vervaardig, en skole in die noordelike dele van Suid-Afrika kan tot 26 Februarie 2016 inskryf.
Sing in Harmonie Anthonie
’n Nuwe seisoen van Sing in harmonie word binnekort vervaardig, en skole in die noordelike dele van Suid-Afrika kan tot 26 Februarie 2016 inskryf.

Sing in harmonie is kykNET se kompetisie vir skoolkore – die enigste in sy soort – en bied aan skole regoor die land die geleentheid om hul merk op nasionale TV te maak. Boonop kan skole hulle deel in R100 000 se pryse losslaan.

Koorsang is die een aktiwiteit wat nié seisonaal gekenmerk word nie en dus is leerders wat deelneem hieraan regdeur die jaar pligsgetrou.

Daar is twee kategorieë, een vir junior (graad 1 tot 3) en een vir senior kore (graad 4 tot 7). Die afdeling vir senior kore word verder opgedeel in formeel en informeel.

As beloning sluit die pryse onder meer ’n CD-opname, musiekvideo-opname en R10 000 vir die wenskool in.

34 sing in harmonie koor


Hoe werk dit?  

Skole wat inskryf moet elk twee liedere voorberei vir die kompetisie. Een moet ’n Christelike lied wees en een kan ’n kommersiële/kontemporêre lied wees. Elke skool moet minstens een lied in Afrikaans sing.

’n Verteenwoordiger van die produksiehuis sal vooraf ’n datum en tyd vasmaak met die skool vir die opname van hulle insetsel, wat gedurende skool-ure geskied (dit sal nie langer as 90 minute neem nie).

Gedurende dié opname sal daar ’n onderhoud met die dirigent asook ’n paar leerders in die koor gedoen word, om die koor en leerders aan kykers voor te stel. Ons neem ook dan ’n oefensessie af. Die skoolhoof is ook welkom om ons meer oor die skool te vertel.

Die episode-opname sal in dieselfde week plaasvind, waar drie tot ses skole se kore sal optree by ’n glansgeleentheid in hulle area/streek. Ouers en vriende van die koor word genooi om dit by te woon as deel van die ateljee-gehoor. Die video-insetsel wat vroeeër opgeneem is, sal by dié geleentheid vertoon word.

Die kore sal hul liedjies voor ’n paneel van beoordelaars opvoer, en die wenkoor (van die aand) sal deurdring na  die finale ronde.

Senior kore in beide afdelings (formeel en informeel) sal deelneem, maar dis nie gewaarborg dat daar in elke afdeling ’n koor sal deurdring na die finaal nie. Tydens die seisoen het die beoordelaars vier kanse om ’n koor te “red”, maar hulle is geensins verplig om dit te gebruik nie.

34 sing in harmonie bts


Gedurende elke episode sal drie tot ses kore se insetsels uitgesaai word. Die kykers sal ook weekliks ’n kykerskeuse kan maak. Indien die publiek en die beoordelaars dieselfde keuse gemaak het vir die week, sal slegs een koor vir die week deurdring, andersins kan daar ’n maksimum van twee kore deurdring per episode in elke kategorie.

Die finale ronde sal op een glansryke verhoog plaasvind. Dié geleentheid sal in Johannesburg plaasvind.

Vir meer inligting, besoek die webblad www.absproduksies.com.