Logo

Silwerskermfees-kortflieks in April

Nuus
03 April 2015
’n Rits kortflieks wat vir die eerste keer op die kykNET Silwerskermfees gedraai het, is in April op Saterdae om 21:00 op kykNET te sien.
Vuil wasgoed

’n Rits kortflieks wat vir die eerste keer op die kykNET Silwerskermfees gedraai het, is in April op Saterdae om 21:00 op kykNET te sien.

Saterdag 4 April

almon, henry

Drama

Met: Nataniël, Armand Aucamp, Renée Conradie, Joseph Clark en Elzette Maarschalk

Draaiboek: Nataniël

Vervaardiger/Produksie-ontwerper: Berdene du Toit

Regisseur, kinematograaf en redigeerder: Jan-Hendrik Burger

Wanneer Henry se ouers met vakansie vertrek, pas hy hulle huis langs ’n digte woud op. Terwyl hy een aand op die stoep sit en rook, hoor hy ’n stem vanuit die donker. Met nadere ondersoek, merk hy ’n geheimsinnige figuur tussen die bome op. Nog voordat Henry kan uitmaak presies wie en wat dit is, verdwyn die figuur die nag in. Onseker of dit sy verbeelding was, probeer Henry uitvind wie die gesluierde wese is, maar die enigste ander persoon wat in die nabyheid woon, ontken die bestaan van so iemand. Die geheimsinnige figuur begin die jongman snags dophou en uiteindelik word hulle lewens deur een onbesonne daad verweef.



Saterdag 11 April

Vuil wasgoed

Donker komedie

Met: Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Simoné Nortmann, Leandie du Randt, Hannes Muller, Stiaan Smith, Michelle Ayden, David Louw, Dietmar Gerber, Cameron Bruwer en Annelise Koch

Regisseur: Bennie Fourie

Draaiboek: Bennie Fourie

Vervaardigers: Bouwer Bosch en Bennie Fourie

Redigering: Bouwer Bosch

Wim en Kevin werk in ’n wassery. Hulle kikker hul armsalige vervelige lewens op deur saans hul kliënte se gewasde klere aan te trek en partytjies te crash. Hulle gee die klere die volgende dag eenvoudig net terug en gaan aan asof niks gebeur het nie. Dis maklik. Dis goedkoop. Dis cool. Een dag bring ’n misterieuse man sy pak in om skoongemaak te word. Kevin soek ’n pak wat sy oogappel, Niki, by ’n formele funksie sal bëindruk. Hy besluit die pak sal die ding doen, trek dit aan en by die partytjie probeer hy sy move te maak… toe ontdek hy ’n koue afgekapte vinger in die baadjie se sak. Hy en Wim skarrel terug wassery toe, net om te ontdek dat die misterieuse man hulle inwag… met ’n snoeiskêr….



Saterdag 18 April

Nommer 37

Spanningsdrama

Met: Irshaad Ally, Shamilla Miller, Christian Bennett, Riaz Solker, Luke Jansen, Hein de Vries, Vernon Willemse, Siphenati Mayekiso en Cedwyn Joel

Uitvoerende vervaardiger: Bradley Joshua

Vervaardiger: Benjamin Overmeyer

Regisseur: Travis Taute en Nosipho Dumisa

Redigering: Simon Beesley

Om op die verkeerde plek op die verkeerde tyd te wees ken Randall Hendricks goed. As ’n kinderagtige dief op die bekende Kaapse vlakte, is hy gevang in die middel van ’n ongelukkige bende-verwante insident waar hy gesteek is met ’n mes en verlam is in die onderlyf. Baie verbitterd oor wat met sy lewe gebeur het en dat hy dieper in finansiële verknorsing verkeer, sit hy en staar uitdrukkingloos by die venster uit en kyk na ander as ’n depressiewe tydverdryf. Onverwags het daar iets gebeur wat hy aanskou het deurdat ’n agterdogtige ooreenkoms tussen ’n bendelid en ’n wapenhandelaar plaasgevind het in ’n aangrensende woonstel en wat verskriklik verkeerd geloop het. Met bedrog en vraatsug om elke hoek en draai, wat volg is ’n spanningsvolle reis wat lewens in dodelike gevaar stel...



Saterdag 25 April

Trippie

Sielkundige riller

Met: Stian Bam, Nicola Hanekom, Mike Pieterse, Carishma Basday, Gael le Martin, Jacques Theron en Simon Bouwer

Regisseur: Nicola Hanekom

Kinematografie: Matthys Mocke

Redigering: Matthew Kalil

Draaiboek: Nicola Hanekom

Vervaardiger: Grant Swanby

Wanneer ’n man ’n babbelrige vrou met ’n tas en ’n voorliefde vir appels op ’n bus ontmoet, geniet hy haar geselskap, veral haar grappies. Binnekort verander flirtasie in ongemak wanneer hy besef dat sy hom vantevore agtervolg het, selfs tot by sy oorlede vrou se graf. Dit word duidelik dat sy ’n obsessie met hom het. Wanneer sy in ’n grappie vertel dat sy haar vorige minnaar se bolyf in die tas met haar saamdra, weet die man nie meer wat om te glo nie. Wat is liegstories en wat nie? Ten laaste ontdek die man wanneer hy aan een van haar appels verstik dat hy wel die hoofrol speel in die riller wat sy beplan het.