Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Sesde episode bekoor – Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
12 Oktober 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 6

Die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap het beslis ’n aar of twee raakgeboor. Nie net sit kykers Dinsdagaande vasgenael nie, hulle kan nie wag om hulle kykerservaring met ander te deel nie. kykNET se sosiale media-blaaie gons behoorlik minute ná die eindtitels begin rol en met verlede week se sesde episode was dit ook nie anders nie.

Dit was veral klein Lourens (Arnold Swart) en Suzette (Daneel van der Walt) se spesiale band wat kykers na die snesies laat gryp het.

“Dis ’n ongelooflike mooi storie,” skryf Bennita Visser op Facebook. “Ek sit kierts regop met tissues op my skoot en kyk. Moet aanmekaar pause om eers klaar te huil. Sjoe. Dit maak my trots om Afrikaans te wees.”

“’Wat gaan ons vir my pa sê?’ Mens se hart wil sommer breek,” skryf Cathy Ferreira. “Hy speel so so goed. Feitlik geen emosie op sy gesiggie nie. Sjoe. Uitstekende storie. Uitstekend! Whoa! Trane loop sommer vanself. Weer eens dannkie aan die skrywers, akteurs en kykNET. Julle bederf ons groot.”

Sonet Guy het laat weet: “Wow! Besonderse program. Dankie, Nico Scheepers, vir uitmuntende werk. Diepte. Drama. Die lewe wat gebeur! Dit raak aan mens se siel. kykNET, asseblief meer van dié kaliber.”

“Liewe aarde, dis diep. Wys jou net. Al die geld in die wêreld kan nie gelukkige kinders grootmaak nie, maar die plat op die aarde tannie gaan hom een ding bied wat geen geld kan koop nie – ware moederliefde,” skryf Melanie Uys.

Marlene Nelson het geskryf: “Uitstekend! Mag daar meer sulke “tannies” wees.” Waarop Renette Symington geantwoord het: “Daar is baie, baie, baie sulke onderwysers …”

Erika Pretorius sê die drama raak haar diep. “Ek kom partykeer agter ek hou my asem in en hou sommer op met asem haal.”  

“Hoe diep moes die skrywer nie delf om so ’n storie te kan neerpen nie? Dis briljant gedoen,” sê Karin van der Sandt. “Het almal van ons nie maar so ’n plekke in ons hart waar seer en bekommernis weggesluit word nie terwyl die lewe ons dwing om aan te gaan met elke dag se dinge nie?”

“Die ontwikkeling wat plaasvind van een episode an die volgende, maal elke keer nog dae lank in my kop rond,” skryf Amanda van der Merwe.

“Ek huil nog steeds,” sê Heidi Dignas. “Dit is die mees fantastiese reeks wat ek al ooit gesien het. Nico Scheepers verdien elke toekenning wat daar is.”

“Uitstekende reeks! Die hele span is fantasties! Ons moenie van die span agter die skerms vergeet nie; dis simbioties,” sê Theresa Botha.

Op Instagram was Alma Prinsloo Pentz ook vol lof.

“Baie goeie storielyn en akteurs. Hoop ons sien nog baie sulke goeie reekse! Leef mens so in, jy vergeet dis ’n storie. Akteurs is uitstekend in hul verskeie rolle!”

Martie van Wyk het geskryf: “Kyk, hierdie klompie akteurs is super gehalte! Hulle sleep my emosioneel saam in Nêrens, Noord-Kaap in. En klein Lourens, daar wag ’n skitter-toekoms op jou as akteur. Dankie kykNET!”

“Ek hou van dié reeks,” het Annemarie Zaayman ook op Instagram geskryf. “Die menslike feilbaarheid van die karakters raak diep aan my siel. Suzette se insig en ondersteuning aan ’n onskuldige kind is verwarmend. Geseënd is sulke mense.”

Dis nie net die vroue wat erken dat hulle ’n traan of tien stort nie.

“Die trane het gerol vanaand,” het Jaco Strauss lop Facebook aat weet. “En ja, mans mag ook huil. Seker omdat ek self ’n pa is. Ek kry Lourens bitter jammer, maar gelukkig vir sy pa se vriendin wat tot sy redding gekom het. Puik storie.”

Lourens se ma, Shannon (Natalie Robbie), en ouma Olivia (Aletta Bezuidenhout) het egter nie so baie lof gekry nie.

“So ’n mooi storie,” het Shantell van Gent geskryf. “Love dit en ek weet dit is net ‘n storie, maar vanaand wou ek vir daai Shannon vrou se ma sê: Antie, hou jou bek, jy is ’n bywoner. Suzette moes haar sommer met daai filet in die gesig gegooi het.”

“Daai ma en ouma en stief-gemors,” het Sonja Haasbroek geraas. “Laat mens se oë oopgaan. Arme, arme kinders wat deur hierdie loutere hel moet gaan oor grootmense se selfsugtigheid. Dis so hartseer, maar vir mense daar buite is dit die werklikheid.”

En hoewel daar dertien episodes is en episode ses nog nie een ten volle by die halfpadmerk is nie, is daar reeds hoop op nog ’n reeks.

“Sjoe! Dis ’n ongelooflike reeks,” skryf Bianca Vorster. “Soveel emosie, gevoel en deernis. Lovit! Hoop daar is ’n opvolgreeks.”

Dié wat gelukkig genoeg is om reeds van die volgende episodes te gesien het, is dit eens: Hou die snesies byderhand vir die res van die episodes, maar maak jou ook reg vir die res van ’n Afrikaanse én Suid-Afrikaanse dramareeks wat vir jare hierna nog gesien sal word as een van die bestes ooit. Daar is nog ’n paar legkaartstukke wat in plek moet val; swere wat moet oopbars vir heling om plaas te vind. Gaan dit met elkeen van die Adendorffs gebeur?

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.