Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Sepie-drama by dosyne dié Desember

Nuus
02 Desember 2019
Of jy by die see is óf met Jan Tuisbly se karretjie ry – jy gaan verseker hierdie Desember nie een episode van jou gunsteling sepie wil misloop nie!
6

Binnelanders

Weeksaande om 19:30.

Arme Hugo Vos beland in die sop wanneer Tracy besluit om Julia se baba, Sammy, te steel. Tracy probeer om met haar eie verlede vrede te maak, maar in die proses stook sy die vure van onmin tussen Hugo en sy eks-vrou, Julia. Dit maak natuurlik die lewe vir Hugo baie ongemaklik, maar hy kan dit ook nie oor sy hart kry om Tracy vir die wolwe te gooi nie. Hoe gaan Hugo uit hierdie penarie kom, sonder om sy integriteit in gedrang te bring?

Die waarheid rondom Connie en Quinton kom op ’n baie dramatiese manier uit, wanneer sy vir die soveelste keer flou val wanneer sy naby aan dié aantreklike Ongevalle-dokter kom… Maar dit is uiteindelik Tertius wat agter die kap van die byl kom, en baie vinnig ’n plan sal moet beraam om hierdie situasie te ontlont.

Louis en Naomi se groot dag breek uiteindelik aan op Vrydag, 13 Desember 2019. Met heelwat moeite –  en met die kennis van etlike bygelowe en waarskuwings van nare geskiedkundige gebeurtenisse op die dag, stap Naomi Ferreira in die paadjie af om haar toekoms as Mev. Koster te kan begin. Maar daar is natuurlik ’n kinkel in die kabel, en meer as een wakende oog, wat wil verseker dat die Kosters nie dié feesviering voltallig sal betree nie. Die broers Esra en Jonas is weer terug in Pretoria – en Jonas kan maar net nie laat gaan van sy wraakgedagtes vir At Koster nie. Gaan daar ’n gelukkige einde wees vir die geliefde paartjie, of gaan Jonas se planne volbring word en ’n groot swaar wolk oor die Koster-woning laat daal?

Kersdag was nog altyd ’n baie eensame dag vir At Koster, maar vanjaar is Annelize Roux daar om te verseker dat hy nie soos vorige kere alleen in die donker sit nie. Elke gesin se tradisies in die feesseisoen word voort gesit, en in party families is daar selfs nuwe maniere om die gety te vier…

Chanel en Danny se verhouding verdiep – maar ook net tot Brandon Sameuls onverwags besoek aflê. Wat sou Chanel se pa in Pretoria kom soek, veral oor hierdie tydperk, en hoekom is hy glad nie ingenome met arme Danny nie? Wat is dit wat Steve wegsteek vir Danny, en hoekom begin Danny wonder of die Sameulse dalk baie meer geraamtes in die kas het as die Jantjiese?

Steve probeer sy chemoterapie-sessies met waagmoed aanpak, maar voel asof hy partykeer net te kort skiet. Maar dan ontmoet Steve vir Rachel, een van Hugo se pasiëntjies, en die meisie se manmoedige stryd gee vir Steve weer van vooraf hoop – en Steve besluit om haar drome ook waar te maak, met die hulp van Reach for a Dream en Demi Lee Moore.

Lexi keer terug van oorsee, en Elana is die eerste een wat besef dat Steve se kind nie heeltemal gelukkig is met haar omstandighede so ver oor die waters nie – maar hoekom sy nie met haar pa daaroor wil praat nie, bly ’n geheim wat Elana wil ontrafel. Steve is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, en kort voor lank weet hy presies wat aangaan wanneer hy Sosiale Media raadpleeg vir antwoorde op ’n paar knaende vrae.

Suidooster

Weeksaande om 18:30.

Siya en Danni se verhouding het verreikende gevolge, veral wanneer dit ’n wig tussen twee boesemvriende dryf. Rhafiek neem Siya kwalik vir Bianca se skielike agteruitgang en is woedend oor Siya stilgebly het oor Bianca se dwelm-terugval. ’n Groot wending wag op die Samsodiens wanneer AB uiteindelik tussenbeide tree en die manne vir ’n visvangnaweek wegneem. Wat veronderstel is om ’n intervensie tussen vriende te wees, word gou ’n nood soektog na AB. En skielik is daar meer as net ’n vriendskap op die spel…

Michelle se ma en pa staan voor ’n kruispad in hul huwelik. Albertus probeer alles in sy mag om op te maak vir wat hy verbrou het, maar Kate breek uiteindelik haar jare lange stilswye oor Albertus se gewoontes. Ten spyte van al die bewyse teen hom, wend Albertus steeds ’n poging aan om sy vrou terug te wen. Hy doen dit egter op ’n onvergeeflike manier en word tot introspeksie gedwing wat sy huwelik met Kate betref. Is dit moontlik om weg te stap van iemand wat dekades lank jou oggend, middag en aand was?

Zoe en Wade probeer hulle verhouding na ’n nuwe vlak neem, maar die klasseverskil tussen hulle veroorsaak groot probleme. Dit help ook nie dat Bridgette daarop aandring dat Zoe ’n einde aan haar verhouding met Wade bring nie. Hoe lank gaan Wade nog kan uithou met Bridgette wat haar neus in hul sake druk? Hy hoef dalk nie te lank te wag nie, want daar is nuus oor Nicci se terugkeer en Bridgette hou haar asem op vir ’n moontlike versoening tussen haar en haar dogter.

Dis ook Kersfees in Ruiterbosch en Kaashifa word betower en uitgebuit deur ’n opportunistiese Justin en die Gerbers leer in hierdie tyd iets van Quinton wat hulle nooit geweet het nie… 

Getroud met Rugby

Weeksaande om 18:00.

Fafa en Julia is terug van Brasilië, Fafa vind uit iemand het skelm dwelms in Maryke se handsak probeer smokkel op die lughawe en Maryke is in hegtenis geneem. Fafa vertrek dadelik terug Brasilië toe om vir Maryke te red. 

’n Artikel verskyn wat beweer Bart het Liam afgepers en Liam moet homself verdedig voor die Raad. Bart se optrede dryf vir Kristien, om saam met Liam, Reitz, Candice en Anna te werk om Bart skuldig te bevind. Kristien besluit om haar getuienis terug te trek as Bart dreig om haar suster te vermoor.

Johan slaan weer ’n kind by die skool en Lienkie besluit om hom te hok. Julia en Blitz wil paintball speel vir sy verjaarsdag en vra vir Lienkie of Johan kan saam kom. Lienkie hou vol met Johan se straf en sê dat paintball te geweldadig is vir kinders.  

TJ kom kuier vir Schalk vir die skoolvakansie en raak verslaaf aan videospeletjies. 

Bibi en Hannon besluit om ’n kompetisie in die salon te hou waar die wenner ’n mooimaaksessie deur Hannon wen. Koekie is vasberade om dit te wen. 

Rudolf Straeuli maak ’n verskyning by die Stryder-van-die-Jaar-funksie. Bibi tree op by die Stryders Kerspartytjie. Bibi en Renate het groot planne vir oujaar.

Maak seker jy is elke Weeksaand ingeskakel vir die nuutste verwikkeling in jóú gunsteling sepie!