Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Seksopvoeding: Wanneer praat jy waaroor? – Binnelanders

Nuus
24 November 2020
Klein Vicky wil graag ‘n boetie of sussie hê en vra vir Elana wanneer sy en Steve ‘n baba gaan hê.
ep122 2

Vir baie ouers is dit aanvanklik ongemaklik om met hulle kinders oor seks en waar baba’s vandaan kom te praat, maar hier is ‘n paar handige wenke om dit makliker te maak.

Begin by die begin
Dit is belangrik om van die begin ‘n ding op sy naam te noem. Gebruik woorde soos penis en vagina sodat wanneer hulle begin praat, hulle weet waar hierdie dele van hulle liggame is. Nie net is dit belangrik vir verdere seksopvoeding nie, maar dis ook belangrik wanneer hulle moontlik siek is of ‘n besering het en dit nodig het om te verduidelik. Net soos seuns en dogter bene en arms het en dit so noem, het hulle ook ‘n penis en vagina. Dit moet normaal wees om dit só te noem.

Boeke, boeke, boeke
Daar is verskeie boeke, ook in Afrikaans, beskikbaar oor seksopvoeding. ‘n Goeie begin is om vir jou kinders ‘n boek te koop oor die menslike liggaam. Wanneer hulle die verskille sien en ook wat die benamings van die verskillende liggaamsdele is, sal dit enige verderder opvoeding makliker maak.

Tussen 2 en 5
Die belangrikste fokus in hierdie ouderdomsgroep, is om grense te stel. Kinders moet weet wie en hoe hulle aan geraak mag word. Hulle moet leer om grense te stel en te weet wanneer hulle nie gemaklik met aanraking is nie.

Kinders op hierdie ouderdom begin nuuskierig raak oor mekaar se lywe. Praat met hulle oor die verskille en bevestig weer dat mense nie sonder toestemming aan mekaar se lywe mag vat nie.

Wanneer hulle op hierdie ouderdom dalk begin vra waar baba’s vandaan kom, antwoord so eenvoudig as moontlik. Klein kindertjies is gewoonlik tevrede met ‘n antwoord soos: “Die man het ‘n saadjie in die vrou geplant en dit gaan ‘n baba word”.

Tussen 6 en 8
Dit is steeds belangrik om vir kinders van hierdie ouderdom te leer wat aanvaarbaar is en wat nie, ook met digitale blootstelling. Jy kan ook met jou kinders begin praat oor hoe hulle lyfies met ouderdom gaan verander.

Menstruasie en puberteit
Meisies begin gewoonlik teen 12 menstrueer. Dit is baie belangrik om hulle voor te berei vir wanneer dit gaan gebeur. Maak dit ‘n viering van hulle vrouwees en die eerste ervaring so positief as moontlik.

Net so belangrik soos wat dit vir meisies moet wees om die nodige kennis te hê, is dit belangrik vir seuns om te weet watter veranderinge meisies deurgaan. Maak jou seuns groot deur hulle te laat verstaan en dit te sien as ‘n deel van Moeder Natuur.

Die groei van hare op die pubes is gewoonlik die eerste teken van puberteit en begin gewoonlik om en by 10-jarige ouderdom. Hierdie is ‘n goeie tyd om met jou kinders te praat oor die verskillende hormone en wat elkeen doen. Weer eens: Dit is belangrik dat seuns en meisies nie net van hulle eie lywe leer nie, maar ook van die werkinge van mekaar se lywe. Kennis is mag.

Tussen 9 en 12
In hierdie ouerdomsgroep kan jy in meer detail oor seks begin praat. Meisies moet weet dat hulle vrugbaar begin word wanneer hulle begin menstrueer en seuns moet weet wat ejakulasie (en nat drome) is.

Dit is normaal vir kinders in hierdie ouderdomsgroep om meer vrae te begin vra. Wees altyd daar vir hulle en antwoord so goed as wat jy kan. Hierdie is ook ‘n goeie tyd om met hulle te begin praat oor basies inligting rakende geboortebeperking, seksueel oordraagbare siektes en hoe om hulself veilig te hou wanneer dit by digitale media en die internet kom. Wees ook voorbereid wanneer hulle vrae begin vra oor byvoorbeeld masturbasie, ereksies en seksuele verhoudings tussen mense wat nie noodwendig ‘n man en ‘n vrou is nie.

Hierdie is die ouderdomsgroep waar kinders nog met al hulle ore na hulle ouers luister. Dit is dus baie belangrik dat jy hierdie tyd gebruik om vir hulle ‘n basis van kennis te skep. Dit is iets wat hulle vir die res van hulle lewe met hulle gaan saamdra. As jy nie die antwoord ken op hulle vraag nie, soek saam na die antwoord. Moet nie net antwoord dat jy nie weet nie.

Tieners
Tieners dink hulle weet alles, maar daar is tog ‘n ding of twee wat jy hulle kan leer. Hulle gaan dalk skaam wees om met jou te praat. Wees egter altyd daar vir hulle.

Met inligting vrylik beskikbaar en seksopvoeding wat op skool aangebied word, dink ouers moontlik dat hulle nie nodig het om met hulle kinders oor seks te praat nie. Maar niks kom met ‘n oop verhouding tussen tieners en hulle ouers nie. Sê vir hulle dat hulle met jou oor enigiets kan praat. Hulle mag jou dalk net verras.

Dit is belangrik om in hierdie tyd (weer) met jou kind oor geboortebeperking te praat. Ook wanneer hulle emosioneel reg is vir ‘n seksuele verhouding. Moet dit nie wegpraat nie en moenie dink jou kind is anders as ander kinders nie. Dit is ook weer eens belangrik om hulle te waarsku oor die gevare van digitale media en alles wat daarmee saamgaan.

Verantwoordelikhede en gevolge
Kinders moet weet wat die verantwoordelikhede en gevolge van seks is. Hierdie gesprekke kan baie positief wees en moet nie ‘n kind afskrik van seks nie. Hulle moet weet dat ‘n seksuele verhouding tussen twee instemmige volwassenes ‘n vreugde is, maar hulle moet ook weet dat daar gevolge is soos onbeplande swangerskappe, siektes en emosionele kwessies. Gebruik oomblikke soos ‘n swangerskap in die familie of ‘n verhouding op TV – soos nou met Elana en Steve – om openlik daaroor te praat.

Maar dit maak nie saak op watter ouderdom jy watter gesprek met jou kind het nie, die belangrikste is dit: Jou kind moet ‘n positiewe beeld oor hulle liggaam hê, selfrespek hê en weet dat hulle altyd by jou waardevolle inligting kan kry. Hoe jy jou kind se seksuele opvoeding aanpak, sal ‘n impak vir die res van hulle lewe op hulle verhouding met seks hê.

https://www.mayoclinic.org/healthy-lifestyle/sexual-health/in-depth/sex-education/art-20046025
https://www.todaysparent.com/family/parenting/age-by-age-guide-to-talking-to-kids-about-sex/
https://www.heysigmund.com/kid-needs-know-age-age-guide-sex-education/