Logo

Seisoen 13 sprokiesverhale – Boer soek ‘n vrou

Nuus
11 Januarie 2022
Die nommer ‘dertien’ sal nie in Boer soek ‘n vrou -geskiedenis onthou word as ‘n ongelukkige nommer nie.
Boer soek 'n vrou 13 verlowings

Vier van ons boere staan op trou. Ons het gaan gesels met dié manne en bietjie meer gaan uitvind oor die groot vraag, ouers vra en die groot dag.

Déan & Megan

In November van 2021, tydens Megan se verjaarsdagvieringe, het Déan besluit om Megan se ouers te vra vir hul seëninge en toestemming om met hul dogter te trou. Déan het aan Megan gesê dat hy net iets gou vir haar broer wil vertel en so het Megan saam met Déan se ouers in die kar geklim en Déan saam met Megan se ouers. Déan noem dat hy met Megan se ouers in persoon wou gesels, die rit was kort so Déan moes sy moed bymekaar skraap en vinnig tot die punt kom. Déan sê dat Megan se ma gehuil het en haar pa, terwyl hy bestuur het, sy hand agteroor uitgesteek het en sy hand geskud het.

In Desember van 2021 het Déan en Megan tydens ‘n twee weke vakansie in Swakopmund in Namibië gaan kuier. Hy noem dat hy meer op sy senuwees was dat Megan iets gaan uitvind voor die tyd, maar toe hulle op die duine was op 29 Desember, sê Déan, het dit gevoel soos ‘bokkoors’. Hy het gebewe soos hy op een knieg gegaan het. Hy het die groot vraag gevra en Megan het natuurlik ‘ja’ gesê met ‘n paar trane.

Hulle beplan in Desember 2022 somertroue in Stellenbosch of Franschhoek.

Niel & Chereze

In Junie van 2021 het Niel in Hopefield gekuier saam met Chereze en haar ouers. Een oggend vroeg, oor ‘n beker koffie, het Niel in die kombuis haar ouers gevra vir hulle seëninge en toestemming om met Chereze te trou. Niel en Chereze se pa het aan die tafel gesels oor tweede kanse en tweede geleenthede. Niel noem dat dit die maklikste ‘ja’ was met die grootste seën daarby.

‘n Maand later, in Julie, beplan Niel die geleentheid om Chereze die groot vraag te vra. Hy verbloem die naweek as ‘n bemarkings-fotosessie vir Boer soek ‘n vrou. So gaan hulle, een jaar na hulle ontmoet het, terug na die plek waar hulle ontmoet het, Lanzerac Wynlandgoed. Niel het gereël vir ‘n piekniek in die berge waar hulle oor Stellenbosch kan uitkyk. Die fotograaf het Chereze gevra om weg te draai, sodat sy foto’s kan neem van haar terwyl sy die landskap beskou, met die het Niel op sy knieg gegaan en die fotograaf het Chereze gevra om om te draai. Niel noem dat dit ‘n ‘tranedal’ was, aan sy kant. Sy woorde aan Chereze was: “Ek het so baie wat ek vir jou wil sê, maar alles kom neer op een ding… sal jy met my trou?”. Op 24 Julie 2021 het Chereze ‘ja’ gesê.

Niel noem dat hy geensins op sy senuwees was terwyl hy haar moes vra nie. Hy was banger dat sy uitvind van die gekonkel en dat die groot dag nie ‘n verrassing vir haar sal wees nie.

Dié paartjie se groot dag is hierdie Saterdag, 15 Januarie 2022.

Albert & Chanté

Een someraand by Chanté se ouerhuis, het Albert besluit om al sy moed bymekaar te skraap om haar ouers se toestemming te vra om met hul dogter te trou. Chanté het gaan bad, terwyl haar ouers en Albert in die sitkamer gesit het en televisie kyk. Albert het op sy hoorlosie gekyk, 19:53. Hy het vir homself gesê, wanneer die klok 19:00 slaan sal hy hulle vra. So is dit 19:00, met min tyd oor, voor Chanté klaar gebad het, staan Albert op en vat die televisie se afstandbeheer voor die oom van die koffietafel af en sê vir die oom en tannie: “Ek moet met julle praat”. Chanté se ma het gesê dat sy geweet het dit kom, maar haar pa was stom geslaan. Hy het net op sy rusbank bly sit, stil, tot sy vrou eindelik vra of hy iets gaan sê. Die oom het heel gemaklik, met ‘n glimlag geuiter: “Ja, nee. Dis reg, jy kan seker maar met haar trou”.

So het die beplanning vir die groot vraag begin. ‘n Fotograaf uit Mosselbaai het Chanté gekontak en genoem dat sy graag ‘n Boer soek ‘n vrou -paartjie as deel van haar portefeulje wil hê, en of sy hulle moontlik kan afneem. Albert het hierdie gebruik as sy oomblik, en agter Chanté se rug die fotograaf gekontak om al die reëlings te tref. Chanté het bly dink dis slegs ‘n fotosessie, maar die fotograaf en Albert het geweet wat wag. Hulle het middel November van 2021, ‘n naweek Mosselbaai toe beplan. Albert moes die ring in sy badkamersakkie wegsteek, sodat Chanté dit nie vind nie. So is hulle Mosselbaaipunt toe vir die fotosessie. Albert druk die ringboksie in die fotograaf se hand en sê dat sy dit vir hom moet gee wanneer sy dink die oomblik en ligging reg is. Albert noem dat hy op sy senuwees was, oor hy nie geweet het wanneer die fotograaf die ring vir hom gaan gee nie. Maar toe die fotograaf vir Chanté vra om see se kant toe te draai en die ring in sy hande steek, het hy geweet, dis nou of nooit. Hy het op sy knieg gegaan en toe Chanté omdraai was haar eerste woorde: “Weet my pa hiervan?”. Heel opgewonde het sy ‘ja’ gesê en hulle het teruggekeer Diaz Hotel toe, waar hulle ouers en haar beste vriendin hulle ingewag het.

Die paartjie beplan ‘n Augustus 2022 plaastroue op Albert se ouerplaas in Clanwilliam.

PF & Chantelle

Twee maande voor PF vir Chantelle gevra het om met hom te trou, het hy besluit om haar ouers eers te vra. Terwyl hulle by haar ouerhuis gekuier het, het PF haar ouers gevra terwyl sy gaan bad het. Die oom en tannie het genoem dat hulle dit geensins verwag het nie, maar hulle het hom met ope arms as deel van die familie verwelkom.

PF het die geleentheid mooi beplan. Dit was vir hom baie belangrik dat dit ‘n verrassing is vir Chantelle. Hy het skelm uitgevis oor hoe haar ring moet lyk en so die ring laat maak. Met hulle eerste herdenking het PF gaan kuier by haar op haar ouerplaas. Chantelle het 150km verder by haar ouma gekuier, en PF wou eers by haar ouerhuis stop om alles reg te kry vir die groot oomblik, daarna het hy deurgery na haar ouma toe. Die volgende dag sou Chantelle se twee niggies help op die ouerplaas om die finale reëlings te tref vir die verlowing. Die oggend pak PF en Chantelle die 150km aan terug na haar ouerhuis, maar langs die pad kom hulle op een van die niggies af wat motorprobleme ervaar. PF noem dat hy erg op sy senuwees was dat die niggie ongelukkig nie alles gereed kon kry nie, maar gelukkig kon die ander niggie betyds op die plaas wees en alles finaliseer. Toe hulle op die plaas aankom en Chantelle al die moeite sien wat PF ingesit het vir hul herdenking, het sy gesê dat sy graag dan wil sien hoeveel moeite hy insit vir hul verlowing. Onder ‘n wilgerboom in die hoek van die erf, het PF op sy knieg gegaan en die groot vraag gevra. Chantelle het niks gesê nie. PF sê toe: “Jy moet nou iets sê, ja of nee?” en met dié, antwoord Chantelle ewe: “Kan ek nee sê? Nee, nee, nee. Ja, ja, ja!”

PF noem dat hy op sy senuwees was, nie oor hy gedink het sy sal ‘nee’ sê nie, maar liefs oor hy net een keer in sy lewe iemand sal vra om te trou en hy wou graag hê dat dit spesiaal moet wees.

Hulle groot dag is op 19 Maart 2022 by Montpellier in Tulbagh.

Skakel hierdie Donderdag, 13 Januarie 2022, in vir die 14de seisoen van Boer soek 'n vrou om te sien of ons dié jaar ook met 'n paar verlowings gaan afsluit.