Logo
Sara se geheim
web uni tv guide

Sara se Geheim

144Drama7

Sara se Geheim: Interessante feite

Nuus
27 Junie 2017
Het jy geweet Sara se Geheim is oorspronklik as ’n sepie ontwikkel?
Sara se Geheim Feite Bill

Hier is ’n paar dinge wat jy dalk nie van die gewilde dramareeks Sara se Geheim geweet het nie:

1. Die konsep vir Sara se Geheim is in 2013 deur Paw Paw Films ontwikkel – oorspronklik as ’n sepie!

2. Paw Paw Films het in 2015 ’n loodsepisode vir Sara se Geheim geskiet (wat nie op kykNET uitgesaai is nie), en dit was op hierdie basis wat die reeks goedgekeur is.

3. Die gepekelde uie wat Lizzie in Die Slap Snoek eet is in werklikheid ook Quanita se gunsteling en sy kon haarself nie keer tussen tonele nie.

4. Met die gatsby-kompetisie-tonele het van die ouens van die filmspan ook deelgeneem en hul gatsby’s opgeëet!

5. Edwin van der Walt, wat Gehard vertolk, het ’n boksersfraktuur opgedoen toe hy tydens ’n toneel teen ’n kennisgewingbord moes slaan. Hy het gedurende al die “takes” niks gesê nie en in karakter gebly, en eers toe die toneel klaar geskiet is, het hy laat weet dat hy in pyn is.

6. Keeno Lee Hector, wat die pastoor vertolk, is ook oorweeg vir Danny omdat hy ook ’n beroemde sanger is.

7. Conway October, wat Kelvin vertolk, se hare is eintlik twee keer so lank as wat dit voorkom. Die hare-en-grimering-department moes sy hare laat “krimp” omdat Conway nie sy hare kon sny nie as gevolg van ’n ander produksie.

8. Natania van Heerden, wat Nicola vertolk, het verloof geraak gedurende die verfilming. Sy is intussen met haar groot liefde getroud.

9. Die Slap Snoek-stel is in werklikheid ook ’n viswinkel. Gedurende die verfilming was daar partykeer kliënte wat ingeloop het om ’n bestelling te plaas en tot hul verbasing besef het daar is kameras om hulle.

10. Die kostuumdepartement moes behoorlik kophou om seker te maak dat Gadija altyd die regte paar oorbelle aanhet vir die regte toneel. Roxanne, wat Gadija vertolk, vertel dat sy ’n paar keer ’n dag sou hoor: “Gadija, verkeerde oorbelle!”

11. David Isaacs van Joe Baber-faam is een van die regisseurs van Sara se Geheim. Hy het ook gedurende die verfilming pa geword.

Die finale episode van Sara se Geheim word op Dinsdag 4 Julie om 20:00 op kykNET uitgesaai. Moet dit nie misloop nie!