Logo
Sara se geheim
web uni tv guide

Sara se Geheim

144Drama7

Sara se Geheim 2: Alles wat jy moet weet!

Nuus
05 Maart 2018
Die tweede seisoen van Sara se Geheim sal vanaf April 2018 op kanaal 144 uitsaai.
Sara se Geheim 2

FOTO: Uit die episode. 

Seisoen 2 van Sara se Geheim begin in April op kykNET. Al die bekende gesigte van die vorige seisoen is weer te sien asook ’n paar ander bekendes wat vir die eerste keer ’n draai in die reeks maak, onder andere: Albert Maritz, Hannes van Wyk, Stian Bam, Suzanne Beyers, Marion Holm, Roeline Daneel, Martelise Kolver, Maurice Carpede, Marvin-Lee Beukes, Phillip Henn, Elana Afrika-Bredenkamp en Schalk Bezuidenhout.

“Wanneer geheime ontbloot word, maak dit mense vry, maar daar is altyd gevolge. Die waarheid is ’n vlymskerp dolk. Dit sny diep. Dit sny seer.

Sara (June van Merch) se groot geheim is die bestaan van haar seun, Johnny (Dawid Minnaar), wat jare gelede Johan geword het toe hy as bruin tienerseun sy identiteit moes verruil vir dié van ’n wit persoon. Die res van die familie glo hy is destyds in die vroeë 80’s dood tydens politieke onluste. Sara dra nie net hierdie geheim met haar saam nie, maar ook dié van haar ander kinders, Maggie (Lee-Ann van Rooi) en Lizzie (Quanita Adams).    

Kyk hier na van die skokkende oomblikke uit seisoen een: 

Seisoen 2 begin waar seisoen 1 geeïndig het en die geheime rus steeds swaar op die skouers van die mense wat dit saamdra. Aan die einde van seisoen 1 het ons gesien hoe Ricky (Brendon Daniels) wonderbaarlik aan die dood ontkom toe hy uit die branders strompel. Hy is deur Maggie op ’n boot geskiet en met behulp van Virgil (Charlton Lee George) oorboord gegooi. Gaan Ricky verder oorleef en indien wel, gaan Aiden (Marlo Minnaar) ooit uitvind Ricky is sy biologiese pa, veral noudat Virgil daarvan bewus is? 

Virgil gaan dus ook swaar gebuk onder die geheime wat hy moet hou: die wete dat Aiden nie sy seun is nie, asook die gebeure die nag op die boot waaraan hy medepligtig is. In teenstelling met Virgil se skuldgevoelens, wil dit voorkom of Maggie onverpoosd voortgaan en met mening fokus op haar toekoms in die politiek. Sy stel haar beskikbaar as stadsraadslid, wat uiteraard ’n openbare veldtog behels so reg in Maggie se kraal met openbare toesprake, media-onderhoude en alles wat getuig van aansien. Boonop is Aiden se betrokkenheid by die vastrek van die vermeende Astonia-verkragters iets wat sy kan gebruik in haar veldtog om aan te voer hoe die gemeenskap misdaad kan help bekamp. Maggie se lewensdrif is egter net skyn, want sy veg teen haar eie interne duiwels. Die spanning tussen Maggie en Aiden bereik breekpunt wanneer hy besluit om uit sy ouerhuis te trek. Sal sy haar uiterlike beeld kan handhaaf te midde van al die drama wat om haar afspeel? 

Die geheim van Johan se herkoms is besig om alles op die spel te plaas wat vir hom belangrik is: sy sake-onderneming, sy huwelik met Nicola (Natania van Heerden) en sy verhouding met sy geliefde dogter, Inge (Lise-Marie Richardson). Sara smeek hom om sy vrou die waarheid te vertel. Sal hy die moed kan bymekaarskraap om sy geheim met Nicola en Inge te deel? 

Nicola loop self ook nog met die geheim dat sy ’n affair met Ebert (André Weideman) gehad het, terwyl Ebert worstel met die uitdagings van sy vrou, Sanel (Nicola Hanekom) wat aan Alzheimers ly, asook die gevolge van die probleme wat hy en Johan ondervind met hulle sake-onderneming wat skeefgeloop het toe Duikie (David Isaacs) verdwyn het. Op Tant Marie se plaas word Koos (Elton Landrew) ’n aanbod gemaak wat moeilik is om van die hand te wys.

Lees meer hier. 

Lizzie moet ’n rou waarheid in die gesig staar wanneer sy uiteindelik uitvind van haar man, Danny (Keenan Arrison) se buite-egtelike verhouding. Sy is gebroke en kwaad omdat Sara van hierdie geheim geweet het, maar dit van haar weerhou het. Dit brand soos sout in haar wonde, maar Gadija (Roxanne Blaise) is soos altyd daar om Lizzie te ondersteun en selfs vir haar blyplek te gee wanneer sy uit Sara se huis trek. Op sy beurt probeer Pastoor (Keeno Lee Hector) ook om as bemiddellaar die situasie tussen Lizzie en Sara te red. Hy stel selfs voor dat Lizzie en Danny moet versoen – soos van hom verwag word as man van die kerk, waar die huwelik as heilig beskou word. 

Die vermeende Astonia-verkragters se verhoor neem ’n aanvang met Gerhard (Edwin van der Walt) wat redelik gerus is dat hy nie te sleg daarvan sal afkom nie. Sy welgestelde pa (Hannes van Wyk) is immers ’n gesiene man met kontakte oral. Tyrone (De Klerk Oelofse) is die een wat moeilik gebuk gaan onder die aanhoor van Anita (Marguerite van Eeden) se getuienis. Hy toon berou oor sy daad, maar kan nie ’n duur regspan bekostig soos Gerhard nie.

Hierdie reeks van Sara se Geheim beloof om kykers weer eens vasgenael te hou voor die kassie met storielyne vol intrige – daar’s steeds geheime, daar’s leuens, verraad, dood, ’n begrafnis, maar daar’s ook liefde en selfs ’n troue!

Sara se Geheim 2 word vervaardig deur Paw Paw Films met Roberta Durrant as kreatiewe vervaardiger en Mia Breet as inhoudvervaardiger. Die regisseurs is David Isaacs, Liezl Spies, Ferdi Burger en Mia Breet.


Daar wag heelwat verrassings op kykers dié seisoen.

In die rolverdeling is: June van Merch, Lee-Ann van Rooi, Charlton Lee George, Marlo Minnaar, Conway October, Brendon Daniels, Quanita Adams, Dawid Minnaar, Natania van Heerden, Lise-Marie Richardson, Margo Luyt, Roxanne Blaise, Elton Landrew, Bart Fouche, Keenan Arrison, Keeno Lee Hector, Andre Weideman, Nicola Hanekom, Edwin van der Walt, Marguerite van Eeden, David Isaacs, Christian Bennet, Kenneth Azagsiba, Almar Muller, De Klerk Oelofse, Riana Alfreds, Andre Samuels, Dijan Botha, Earl Hendricks, Shimmy Isaacs, Leande Engelbrecht, Khadija Heeger, Mbulelo Grootboom, Hein de Vries, Liese Kuhn, Oscar Petersen, Marvin-Lee Beukes, Maurice Carpede, Vilje Maritz, Andrico Goosen, Luke Jansen, Dilon Windvogel, Lee Roodt, Neels Coetzee, Hannes van Wyk, Noel Oostendorp, Riaan Visman, Natasha Williams, Ian van der Westhuizen, Morne Visser, Suzanne Beyers, Stian Bam, Albert Maritz, Siya Mayola, Gamiet Petersen, Roeline Daneel, Martelise Kolwer, Marlon Swarts, Dealan Fredericks, Vanessa Ann Lee, Jacque Theron, Jean-Pierre Lesch, Ernest Sinclair, Dylan Viljoen, Jumaine Hansen, Clarissa Roodt, Monique Rockman, Shannon Williams, Dustin Beck, Grant Powell, Phillip Henn, Lance Elliot, Octavia Meisenheimer, Maruwaan Gossant, Elana Afrika-Bredenkamp, Stellie Grobler, Marion Holmes, Emma Kotze en Schalk Bezuidenhout.

Hou kykNET se webblad, sowel as FacebookTwitter en Instagram dop vir meer oor #SaraGeheim.