Logo

Sandi Schultz: Die sprong na komedie

Nuus
12 September 2016
Sandi Schultz gesels in die jongste uitgawe van Digityd oor haar sprong na komedie en haar rol as sjef Maggie in die reeks Hotel.
Hotel Sandi Schultz 01
Sy is bekend vir haar ernstige rolle, maar toe Sandi Schultz die rol van Maggie aangebied word in die mokumentêr Hotel, het sy nie geskrik vir die uitdaging nie.

Dit is bykans ’n jaar ná kykers dr. Jennifer Adams in Binnelanders gegroet het, maar gelukkig was Sandi Schultz nie te lank van kykNET se skerms af nie. Sy is op die oomblik te sien in Hotel as Maggie, die sjef by die sukkelende hotel in die denkbeeldige dorpie Fransenburg.

“Die hotel bestaan al 50 jaar en Maggie is al 20 jaar die sjef. Die hotel het op ’n tyd vyf sterre gehad, maar dit geval na ’n… kom ek sê net dit het ver geval,” sê lag Sandi.

Leer ken die karakters.

Vir haar was dit nie te moeilik om die sprong te maak na komedie nie. “Ek is beslis nie bekend vir komedie nie, maar omdat Maggie die karakter is wat sy is, was dit nie eintlik nodig om komies te speel nie. Ek het net die situasie gespeel en die komedie het daaruit gevloei.”

Sy is vol lof vir die ander spelers, veral Schalk Bezuidenhout en James Borthwick.

“Ek ken vir James – of Jimmy, soos ons hom noem – al jare en het nie besef hy kan so snaaks wees nie!” sê sy.

As deel van haar navorsing het Sandi reekse soos Parks and Recreation en The Office gekyk. “My grootste inspirasie vir Maggie was egter Sadness in die fliek Inside Out,” sê sy. “Arme Maggie is in ’n groef en die enigste opwinding vir haar is om Afrikaanse musiek te luister en boybands op Facebook te volg. Elke dag van haar lewe is soos die vorige een. Die arme vrou het nie ’n baie interessante lewe nie.”

34 hotel sandi schultz 02


Hier kom Hotel-manewales!

Een van die vernaamste redes hoekom sy die rol in Hotel aanvaar het, was omdat dit ’n uitdaging was.

“Mense ken my as ’n ernstige karakter, soos Jennifer wat al so baie hartseer moes deurmaak. As jy my vra of ek drama of komedie verkies, is my teenvraag: Hoekom nie al twee nie? Ek sal komedies kies om myself uit te daag en drama omdat dít is waarmee ek gemaklik is. Elkeen het sy voordele,” sê sy.

Hotel is in ’n baie kort tydjie verfilm, maar volgens Sandi was die produksiespan puik. “Alles was geskeduleer. Elke liewe dag. En dit het gewerk want ons kon in ’n relatiewe kort tydjie die hele reeks skiet. Ek haal my hoed af vir die vervaardigers. Dit was ’n plesier om saam met hulle te werk.”

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Kyk Hotel, Maandae om 20:30.