Logo

Sal jy betaal vir vriendskap? – Alomtjom

Nuus
09 Maart 2021
Alomtjom, Vrydagaand se Storiefilm, vertel die verhaal van Andries, ‘n man wat glo hy kan met enigeen vriende maak.
Alomtjom BB

Dis 2021, die sogenaamde toekoms is hier en die antisosiale apokalips het aangebreek. Tussen sosiale media, internetverslawing en die pandemie, het mense se sosiale vaardighede uitmekaar begin val en is meeste mense te bang of te lui om vriende te maak.

Dan is daar Andries, ‘n kontrakwerker wat spog dat hy vriende met enigeen kan maak. In die rolverdeling is Luan Jacobs, Lindie Jordaan, Louis Minaar en Francois Jacobs. Die draaiboek is deur die broers Beer en Jaco Adriaanse geskryf en die regisseur is Freddy Louw. Beer vertel meer oor Alomtjom.

Waar het die idee vir Alomtjom vandaan gekom? 
Om eerlik te wees, ek het onlangs deur 'n fase gegaan waar ek gewonder het wat ek kan/sal wees as ek nie in die filmbedryf is nie. Toe besef ek ek sal moontlik 'n tipe ou kan wees wat rondrits en net mense se vriende moet wees, maar teen betaling. Toe begin ek en my broer Jaco die konsep heen en weer gooi en besef daar's dalk 'n besigheidsplan, asook 'n draaiboek opgesluit in die idee. Iemand moet vir al daai arme BA Taal en Kultuur- en drama-kinders (soos ek en hy) werk gee.

Wat was vir jou die grootste uitdagings van die afgelope jaar? 
Die grootste uitdaging is om positief te bly dat die industrie weer na 'n plek sal gaan waar ons ordentlike begrotings het en tyd het om werklik te werk en skaaf aan ons stories, die verfilming en redigering. Helfte van hoekom ons hierdie doen is liefde vir stories vertel, maar dis moeilik in die huidige ekonomiese klimaat, asook met al die Covid-maatreëls.

Hoe sal jy Alomtjom beskryf? Drama, komedie? Bietjie van al twee? 
Ek het nog nie die finale produk gesien nie. Dis die eerste keer dat ek nie 'n teks wat ek en my broer geskryf het se regie behartig nie, maar daar lê ongetwyfeld drama en komedie in die storie opgesluit. 

Wanneer het julle die eerste keer saam gewerk? En is daar nog op pad? 
Ons eerste professionele samewerking was toe hy by ons aangesluit het vir 'n skrywerswerkswinkel vir Buurtwag 2, die opvolg van 'n reeks wat ek in 2015 gedoen het, maar wat nooit verfilm is nie. Ek het toe reeds geweet sy brein sal perfek wees vir 'n skrywerskamer. 'n Paar jaar later (2020) het ons saam 'n gruwelfilm, Parable, vir Showmax gemaak. My broer is ook altyd een van my eerste lesers van my draaiboekpogings. Ek vertrou sy eerlike kritiek volkome. 

Is daar ’n dieper betekenis wat die kyker voor moet uitkyk?
Ek hou nie daarvan om vir 'n kyker te sê waarvoor hulle moet uitkyk nie, maar ek hoop die film tref 'n paar kolle oor waar ons as spesie tans is met betrekking tot eensaamheid en betekenis. 

Hoe het julle op die rolverdeling besluit? 
Ek het werklik net die breë konsep uitgedink en toe my broer se tekste effens geredigeer. Freddie, wat regie behartig het, het self besluit op die rolverdeling en ek sien uit om te sien waarmee hulle vorendag gekom het. (Ek dink ek het wel vir Freddie op Luan Jacobs se spoor gesit, want ek reken hy is 'n wonderlike akteur en ook dalk 'n tipe alomtjom in die regte lewe. Almal hou van Luan.) 

Wat beteken kykNET se Storiefilms vir die vermaakbedryf? 
Ek kan slegs sê wat dit vir my beteken. Dit het my die geleentheid gegee om in 'n saai tyd te werk aan my filmvaardighede. Ek kon een konsep uitdink en help skryf en 'n ander film skryf en regie van doen. Ek het ook 'n klein draai as akteur in twee ander storiefilms gemaak. So werkskepping en oefening. Dit hou die wiel aan die draai, wat nodig is in sulke tye. Ek sien dit amper as 'n tipe Silwerskerms, net sonder toekennings.

Alomtjom word op Vrydag 12 Maart om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.