Logo

Rugbydokumentêr huldig die 30 top-Springbokke van die laaste drie dekades

Nuus
27 November 2022
’n Uitgelese paneel is gevra om die beste Bokke op ’n ranglys te plaas en so is daar by die top-30 uitgekom.
Drie dekades se beste Bokke met Rapport 

Vanjaar is dit 30 jaar sedert Suid-Afrika in 1992 ’n hertoetrede tot internasionale rugby gemaak het. Om hierdie herdenking te vier, het die Sondagkoerant Rapport vanjaar met die hulp van ‘n paneel kenners die top-30-Bokke van die afgelope 30 jaar gekies.

Vanaf Maandag 19 Desember om 20:30 word die dokumentêre reeks Drie dekades se beste Bokke met Rapport op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai waarin hulde aan dié top-30 Springbokrugbyspelers gebring word. In elkeen van die uurlange episodes sal gekyk word na tien Springbok-rugbyspelers se loopbane. Daar is drie episodes in die reeks.

1669453640 27 untitled design 476

“Die 30 Springbokke is deur ’n uitgelese paneel, saamgestel deur Rapport, gekies,” sê Dawie Boonzaaier, Rapport-joernalis en sameroeper van die paneel. “Die paneel bestaan uit vier voormalige Bok-afrigters, twee huidige Bok-hulpafrigters, twee voormalige Bok-kapteins en van die land se voorste rugbyskrywers. Hulle is gevra om die beste Bokke op ’n ranglys te plaas en so is daar by die top-30 uitgekom.”

1669453717 27 untitled design 478

Die lede van dié paneel was die oud-Bok-afrigters Jake White, Peter de Villiers, Nick Mallet en Carel du Plessis, die voormalige Springbokke Errol Tobias, Wynand Claassen en Theuns Stofberg, die Bok-hulpafrigters Mzwandile Stick en Deon Davids, die voormalige Cheetah-afrigter Peet Kleynhans, die joernaliste Hendrik Cronjé, Leighton Koopman, Bokkie Gerber, Vata Ngobeni, Simnikiwe Xabanisa en Brenden Nel en die rugbyhistorikus Albert Heenop. Albert Weidemann van Rapport was saam met Dawie Boonzaaier die sameroepers.

1669453800 27 untitled design 479

Daar is genoeg aksie om alle Springbok-ondersteuners vasgenael te hou, sê die regisseur van die reeks, Frankie Opperman.

“Ons het saam met Rapport en SuperSport gewerk om die beste foto’s en videomateriaal uit die argiewe te gebruik,” sê hy. “Verder het ons ook by die Ellispark-rugbymuseum en Ruck & Maul in Stellenbosch verfilm. ’n Baie spesiale element in die reeks is die fantastiese paneel van kenners waarmee ons onderhoude gevoer het. Elkeen deel hulle opinies en herinneringe van elkeen van die 30 Springbokke.”

1669454090 27 untitled design 480

Die kennerspaneel met wie onderhoude gevoer is, bestaan uit die voormalige Springbokke Breyton Paulse, Jannie du Plessis, Jean de Villiers, Krynauw Otto, Naas Botha, Werner Swanepoel en Wynand Claassen, die skeidsregter Jaco Peyper, die voormalige skakelbestuurder van die Springbokke Annelee Murray, die voormalige Springbokafrigter Peter de Villiers, die joernaliste Hendrik Cronjé, Simnikiwe Xabanisa en Leighton Koopman en die TV-aanbieder Janina Oberholzer. 

  • Drie dekades se beste Bokke met Rapport begin op Maandag 19 Desember om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Daar is drie episodes in die reeks.