Logo

Riku hang stories, musiek aan Die Wasgoedlyn

Nuus
02 Augustus 2016
Die Wasgoedlyn is eksklusief op die kassie op kykNET NOU!, vanaf Donderdag 11 Augustus 2016 om 20:30.
Wasgoedlyn Nuus 1

Aan die wasgoedlyn vind jy enigiets van ’n werkshemp tot kerkbloes, gelapte sokkies, volgate frokkies, onderbroeke van Jockey en die onderrokkie van jou bokkie. Langs die wasgoedlyn sit Les Javan, Rian Malan, Bacchus Nel, die Mitchell’s Plain-rapper Churchil Naude, die Paarl Rappers, Dozi, Lochner de Kock, Andra Cilliers, André van Rensburg, Loit Sôls, Riku Lätti, Francois van Coke, Willim Welsyn, Ryno Velvet, Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Gert Vlok Nel, nog ’n paar Nelle en nog ’n klompie pelle.

34 wasgoedlyn nuus 2


Om die wasgoedlyn word daar musiek gemaak en twak gepraat. Op Die Wasgoedlyn wys ons alles wat jy nie verwag om te sien nie, wys ons selfs alles wat nie wys is nie, maar dit klink mooi, dit kan jy maar glo.

34 wasgoedlyn nuus 3


Die Wasgoedlyn is ’n musiekreeks waarin Riku Lätti Afrikaanse musiekkunstenaars, bekend en minder bekend, in hul agterplase besoek. Daar waar die bier koud is en die musiek soos ’n bergstroompie borrel.

34 wasgoedlyn nuus 4


Ervaar raar oomblikke, Piet Botha wat sing op Lanseria-lughawe en amper sy vlug verpas, Liela Groenewald wat sing in ’n plakkerskamp in Lenasia, die Mitchell’s Plain-bymekaarkoms wat ontaard in ’n kulturele uitruiltransaksie, Andra tuis, tussen die lappe en hoede van oral, Gert Vlok Nel, nugter, André van Rensburg die Sjinese-boertjie onder die sterre op ’n dak in Hillbrow, Ryno Velvet en Willim Welsyn saam met Dana Snyman, Laurinda Hofmeyr en C. Johan Bakkes in ’n tabakskuur in die Paarl, Dozi op sy plaas, Francois van Coke wat verbaas, en, en, en.

34 wasgoedlyn nuus 5


Op Die Wasgoedlyn sien jy alles wat jy nog nooit op televisie gesien het nie. Die kunstenaars in hul natuurlike habitat, by hul eie huise, om braaivleisvure saam met vriende, musiek maak, grappies maak en Afrikaans in net soveel meer fasette laat sing en praat.



Die Wasgoedlyn is eksklusief op die kassie op kykNET NOU!, vanaf Donderdag 11 Augustus 2016 om 20:30.