Logo
web uni tv guide

Laataand By Rian

144Geselsprogram13

Rian terug met geselsprogram

Nuus
21 Junie 2023
Kykers kan uitsien na hoë-profiel mense wat saam met Rian van Heerden 'n bord kos deel by sy eetplek in Pretoria.
Laataand by Rian

Die gewilde TV-aanbieder Rian van Heerden is terug op kykNET met ’n nuwe geselsprogram. In Laataand by Rian gaan hy nie net met nuusmakers praat nie, maar ook met interessante mense wat hy op sy pad raakgeloop het. Dit alles gebeur om ’n bord kos in sy eetplek in Pretoria, Delizioso.

“Ek loop al lank met die idee vir ’n laataand-geselsprogram,” sê Rian. “Ek dink gesprekke oor aktuele sake en gebeure in ’n gemaklike omgewing verseker dit wat saakmaak behoorlik bespreek word. Daar is twee gaste in elke program en die tweede gas is altyd ’n verrassing vir die eerste gas.”

Rian speel nog met sy kaarte teen sy bors oor die gaste met wie hy gaan praat, maar belowe dit is hoë-profiel persone. Hy kon wel bevestig dat Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, en Boet Schoeman, ’n bekende mampoerstoker, sy eerste gaste is.

“Die eerste gas is iemand wat in die nuus is, maar die tweede gas in gewoonlik ’n eksentrieke of buitengewone persoon wat juis genooi word om die gesprekke in ’n ligte trant te hou, as verrassing te dien of om die gesprek na die volgende vlak te neem.”

Wanneer dit by die nuusmakers kom, is die gaste byvoorbeeld nie almal uit die politieke wêreld nie. “Hierdie persone is juis gekies omdat ek oortuig is dat hulle ook nuus tydens die program sal maak,” sê Rian.

  • Laataand by Rian word vanaf Dinsdag 4 Julie 21:00 op kykNET uitgesaai.