Logo

Nuwe seisoen van bekroonde Republiek van Zoid Afrika begin in Oktober

Nuus
14 September 2016
Republiek van Zoid Afrika keer op 11 Oktober terug vir ’n nuwe seisoen op kykNET en spog boonop met ’n nuwe tydsgleuf.
RZA Ministers S3
Republiek van Zoid Afrika keer op 11 Oktober terug vir ’n nuwe seisoen op kykNET. Die nuwe seisoen spog met ’n nuwe tydsgleuf en sal voorts op Dinsdae om 20:30, in plaas van Donderdae, uitgesaai word.

Soos in die vorige seisoene gesels Karen Zoid met van haar gunsteling dromers en denkers, maar daar is natuurlik ’n paar verrassings ook.

“Ek kan egter nie help om na elke episode deur my gaste geïnspireer te voel nie, want elke gesprek is belaai met lewenswyshede en kwinkslae,” sê sy.

Karen stof ook weer geliefde musiektreffers af wat ’n “Zoidiaanse-gedaanteverwisseling” ondergaan. Soos voorheen sal die nuwe treffers weer in Apple se iTunes-aanlynwinkel afgelaai kan word en later op CD en DVD beskikbaar wees.

“Hierdie reeks se musiekverwerkings het nog meer van ’n rock-aanslag,” verduidelik Karen.

Soos die vorige seisoene se CD’s het het die derde seisoen se CD boonop pas goue status vir verkope bereik, wat net nóg ’n aanduiding van die reeks se gewildheid is.

Nuwe kykNET-vermaak in Oktober

“Ons is ongelooflik trots op Karen Zoid se trippel-goue mylpaal hierdie week,” sê Karen Meiring, Direkteur van kykNET-kanale by M-Net.

“Sy is ’n fenomeen wat musiek as haar taal gebruik om ’n positiewe boodskap tuis te bring en ’n verskil te maak.”

“Die sukses van die albums, wat bestaan uit ’n verskeidenheid van kunstenaars, is ’n bewys dat Suid-Afrikaners belangstel in samewerking. Daarom bedank ons die president van Republiek Zoid Afrika vir haar visie en insig – en vir die stories en liedjies wat sy elke week met ons deel.”

Kykers kan ook weer uitsien na die skreeusnaakse insetsels met Annemarie Ferreira (boereraat vir bands) en Marinda Senekal die panfluitsensasie. Boonop gaan dié komiese sketse, van al vier seisoene, later vanjaar in DVD-formaat saamgevat word.

Republiek van Zoid Afrika het al verskeie toekennings ontvang, soos ’n SAFTA-toekenning vir die beste geselsprogram, terwyl dit ook vanjaar twee Huisgenoot Tempo-toekennings opgeraap het.

Republiek van Zoid Afrika word van 11 Oktober op Dinsdae, 20:30, op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.