Logo
PROJEK DINA

Projek Dina & kykNET gaan vra raad by Missing Children SA

Nuus
25 Februarie 2020
Projek Dina is ’n splinternuwe drama wat na die kwessies rondom vermiste persone in Suid-Afrika kyk. Skakel elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv kanaal 144, in.
<p>Projek Dina Seisoen 1</p>

Projek Dina handel oor ’n spesiale taakspan wat bestaan uit Kaptein Deon Visagie (Tim Theron), Sersant Lux Dladla (Chumani Pani) en Adjudant-Offisier Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) wat vermiste sake in Kaapstad ondersoek, terwyl hul persoonlike lewens ook in die storielyne vervleg word.

Dit was baie belangrik vir die produksiemaatskappy, Penguin Films, en kykNET om tydens die skryf en verfilming van Projek Dina ervare konsultante byderhand te hê om uit hul eie werkervarings te deel wat die werklikhede is wanneer ’n persoon in Suid-Afrika vermis word.

Bianca Van Aswegen, die nasionale koördineerder van Missing Children SA, gee raad oor hierdie nasionale krisis en hoe om te keer dat jy 'n teiken word: 

1. Hoe hou ek my kind veilig?

Daar is verskeie veiligheidswenke wat ek kan aanbeveel. Eerstens, moenie paniekerig raak nie. Tweedens, meld dit onmiddelik aan by die naaste polisiestasie. Maak ook seker om ’n verantwoordelike persoon by die huis te los terwyl jy na die polisiestasie gaan om oproepe te antwoord, indien iemand jou kontak rondom die verdwyning. Onthou om ’n onlangse foto saam jou te neem na die polisiestasie en gee ’n duidelike beskrywing van die kind se klere, waar hulle laas te siene was en enige ander inligting wat die polisie sal help.

Daar is nog meer veiligheidswenke op ons webtuiste, www.missingchildren.org.za, waarna ouers gerus kan lees om te verseker dat hulle kinders veilig gehou word en wat die prosedure is indien hulle vermoed hul kind word vermis.

2. Wanneer moet ek bekommerd raak indien ek vermoed my kind is weg?

Indien daar enige vermoede is, moet jy dadelik dit by die naaste polisiestasie aanmeld – daar is geen wagperiode om ’n vermiste persoon aan te meld nie, hoe gouer hoe beter. Jy kan ook Missing Children SA kontak sodat ons onmiddellik kan help.

3. Wanneer is my bekommernis om my kind veilig te hou “te veel”?

Mens kan nooit té versigtig wees nie. Daar is 'n gesegde wat lui: “Liewer bang Jan, as dooie Jan”. Ons moet ten alle tye ons kinders veilig hou, ongeag die plek of omstandighede. Dit is ook belangrik om die kinders self bewus te maak van die gevare daar buite, sodat hulle weet wat om te doen in onveilige situasies.

Oor Projek Dina sê sy die volgende:

“Projek Dina is vir my baie belangrik omdat dit handel oor die kwessie van vermiste persone en kinders in Suid-Afrika. En alhoewel dit fiktief is, beeld dit tog die werklikheid uit. Dis ’n probleem wat daagliks al hoe erger raak, met meer kinders wat vermis raak in ons land. Ek hoop dat Projek Dina nie net mense bewus sal maak nie, maar ook opvoedkundig sal wees.”

Bianca van Aswegen het as konsultant op Projek Dina gewerk. Sy het met die skrywers van die reeks gekyk na die verskillende maniere hoe kinders vermis raak, die proses van die aanmelding, die hulpbronne wat dit verg asook die emosionele lading wat daarmee gepaart gaan. Sy het hulle ook vertel van die verskillende rolle wat Missing Children South Africa en die SAPD speel in ’n vermiste persoon saak.

Vir meer inligting skakel gerus Missing Children SA op +27 (0) 72 647 7464 of vir enige verdere navrae stuur 'n e-pos aan Bianca van Aswegen na [email protected]