Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

Porterstraat Twee (Deel 2) – Die Spreeus

Nuus
07 Mei 2019
Hier is wat jy moet weet van episode 5.
Die Spreeus

Foto: ’n Oomblik vanuit die vyfde episode

 

deur Tertius Kapp

Party skrywers kry hulle beste idees in die stort. Of terwyl hulle bestuur, of gaan stap. Aktiwiteite waar mens nie juis kommunikeer nie, en geforseer word om iets te doen wat nie al jou aandag vereis nie. 

LEES: PORTERSTRAAT DEEL 1

Myne kry ek net voordat ek aan die slaap raak. Wanneer my brein nog nie wil afskakel nie, maar so moeg is dat ek nie meer my gedagtes kan beheer nie, pop die regte oplossing skielik op. Die einde van hierdie episode was só een.

Wat dit is, sal ek nie weggee nie – party mense kyk eers later in die week. Maar dit gaan oor wat Bas vir Beatrice sê: “As jy weet wat iemand regtig wil hê, kan jy met hulle toor.”

Ek het gekyk na die sterftes langs die pad, en die antwoord het opgespring.

Iets wat ek in my navorsing ontdek het, is dat Maria Roux – volgens sommige mense – nie op slag dood is nie. Sy en haar verloofde, Michiel Pretorius, het in ’n Volkswagen Beetle van die pad af gerol, en sy is uit die voertuig gegooi. Dit was ’n stormagtige nag, dit was donker. Michiel was bewusteloos. Die nooddienste het haar nie gevind nie, nie geweet dat sy bestaan nie. Ure later het hy in die hospitaal bygekom, en onmiddellik gevra: “Waar is Ria?”

BLAAI OOK DEUR: AGTER DIE SKERMS BY DIE SPREEUS

Maria het verkluim. Ek kon myself nie ’n meer tragiese situasie indink nie. In die stormnag, langs die pad, alleen. Jou verloofde verdwyn. Die liggies van die dorp dalk sigbaar in die verte, te ver.

Ek moet bieg dat ek nie met Michiel Pretorius kontak gemaak het nie. Eerstens het ek, soos Bas en Beatrice, geen idee gehad hoe ek hom in die hande sou kry nie. Tweedens was ek so tevrede met die storie soos dit by my opgekom het, ek wou dit nie bederf met ’n ander waarheid nie.

(As Michiel, of een van sy vriende of familie hierdie lees – jammer! Ek dink darem nie daar was iets wat aanstoot kon gee nie.)

Paaseier vir die week: Daar is wel pienk dahlias in die tuin van Tarkastad se ouetehuis.

KYK OOK: SANDI, CHRIS EN MONIQUE IS “THICK AS THIEVES”

Tweede Paaseier vir die week: Mevrou Erasmus noem dat sy een van “die weeskinders” van Poolse afkoms is. Hierdie stukkie geskiedenis is besonder roerend. In 1942 is twaalfduisend kinders wat deur Hitler tot in Siberië gedryf is, reg oor die wêreld uitgeplaas. Onder andere het die gemeenskap van Oudtshoorn vyfhonderd in hulle kaserne gehuisves. Baie Suid-Afrikaners met Poolse herkoms stam van hierdie kinders af.

Moenie ’n oomblik van die spanning misloop nie. Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en Instagram, en laat weet ons of jy bang is. Kliek hier vir meer inligting.