Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

Porterstraat Twee (Deel 1) – Die Spreeus

Nuus
30 April 2019
Hier is wat jy moet weet van episode 4.
Die Spreeus-artikel

Foto: ’n Oomblik vanuit die vierde episode

deur Tertius Kapp

Die spook van Uniondale is, naas die Vlieënde Hollander, een van ons bekendste spoke. Die feite wat bekend is, is dat Maria Roux in 1968 langs die Willowmore-Barandas pad oorlede is, oor Paasnaweek. Dit was ’n stormagtige nag. Sy het op die agterste sitplek van ’n Volkswagen Beetle geslaap toe haar verloofde beheer oor die motor verloor, en hulle van die pad af rol.

Hiervandaan raak dit bietjie minder duidelik. In 1973 het ’n jong man beweer hy het ’n ryloper opgetel wat gevra het dat hy haar by “Porterstraat Twee” aflaai. ’n Entjie verder het sy verdwyn.

KYK: ONS GESELS MET DIE SPAN WAT LEWE GEE AAN DIÉ REEKS

Ander mense sê sy is eers in 1976 gesien. Soms voel ’n motorfietsryer asof iemand skielik hulle hande om hom klem, soos ’n passasier. Soms verander haar gesig na ’n dodemasker, soms kekkel sy iets verskrikliks, en word dit yskoud in die kar. En dikwels bring sy saam met haar die reuk van appelbloeisels (wat nie met die reuk van appels verwar moet word nie!).

Dit is ook so dat daar al pogings was om die spook van Uniondale tot ruste te bring, deur gebedsgroepe en deur parapsigoloë (mense wat hulself besig hou met die bonatuurlike). Sommige beweer sy is sedert 1995 nooit weer gesien nie. Maar ek het ook al die teendeel gehoor.

Die dominee Eybers-karakter is fiktief, en ek wou nie dat ’n werklike dominee in Uniondale dink ons impliseer dat hy enigsins by die spook betrokke was nie. Ek en die toesighoudende vervaardigers het daaroor gepraat, en besluit dat daar in die teks nooit eksplisiet “Uniondale” genoem sal word nie (al ken almal die storie so goed dat dit seker geen geheim was nie).

KYK OOK: SÓ HET DIE SPESIALE EFFEKTE TOT STAND GEKOM

Wat ek nagelaat het om te doen, is om die kunsdepartement te waarsku. Hulle hou daarvan om alles so geloofwaardig moontlik te laat lyk – ook die netjiese bordjie wat lees “Uniondale polisiekantoor” wat duidelik op die skerm verskyn. (Fail.)

Daar is egter nog ’n aspek aan die storie, wat nie so algemeen bekend is nie. Aan die einde van die episode ontmoet Bas sélf die (of ’n?) spook van Uniondale – ’n blonde vrou. Maar Maria was ’n brunet. Dié storie was in elk geval te lekker vir net een episode …

(Paaseier vir die week: Pierre-Henri Wicomb se musiek in hierdie episode is ’n verwysing na ’n bekende reeks uit die 90s. Tag my as jy weet watter een.)

Moenie ’n oomblik van die spanning misloop nie. Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en Instagram, en laat weet ons of jy bang is. Kliek hier vir meer inligting.