Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Plek van stories – Met ’n huppel in die stap

Nuus
26 Maart 2019
Lees meer.
HuppelStap_Stories

FOTO: Getty Images

deur Lia Labuschagne

Die Eilandhuisie wat die Strandveld Museum in Franskraal huisves, was in die laat 1930s bekend as die Pondokkie en is gebou in die styl van die streek se eerste vissershuisies. Jan en Sophia Fourie huur die huisie by die munisipaliteit en bedryf dit sedert 16 Desember 2000 as ’n privaat museum. ’n Staaltjie is in bykans elke item versteek en Sophia beskryf dit tereg as ”’n plek van stories.”

Baie van die stories verskyn in die boeke wat Jan alleen of saam met Sophia, beter bekend as SD, geskryf het: Wisselstrale oor die Strandveld, Dagbreek oor Dyerseiland, Strandveldse gisterdinge, Dawn at Dyer, Vlugroep van die Tawiep.

“As ek instap, ervaar ek ’n vergange era wat was en vir altyd verby is en besef ek hoe bevoorreg ek is,” sê Aldus Jan Fourie, ’n eertydse geskiedenisonderwyser in Namibië en Gansbaai, asook lewenslange historikus en skrywer.

Op haar beurt was SD eienaar van ’n binnenshuisversieringsbedryf, daarna “’n gekwalifiseerde toergids en wyngids” maar is die laaste jare heeltyds skrywer. Haar bekroonde laerskool- en radiodramaproduksies sluit onder meer Droomskip en John Birkenhead in, en sy is die outeur van die romans, Die Lanternswaaier en Die dooies leef, wat direk deur die Strandveld geïnspireer is. Benewens tientalle rubrieke, kortverhale, kontrei- en reisverhale, het sy saam met Jan bundels soos Duskant die Duine, Gansbaai Kerkgeskiedenis, Gansbaai – ’n besonderse streek en sy mense, en Kare Nawa – Namibië die lig laat sien.

Sy en Jan woon meer as ’n halfeeu op Franskraal en hul passie vir die kontrei blyk uit elke vierkante meter van die museum.

’n Skildery uit die 1930s toon dat die museumhuisie se oorspronklike struktuur met sy uitgeboude komyntjie (vuurherd- gedeelte van die kombuis) later ietwat vergroot is. Dit was ’n oornagplek vir eilandwerkers van die destydse Union Government Guano Islands wat heen en weer tussen die vasteland en Dyerseiland beweeg het. Die ghwano is verkoop as bemestingstof, hoofsaaklik vir graan- en groentegewasse. Rondom Dyerseiland is ook robbe vir hul pelse gejag.

Nadat die laaste ghwano op die eiland in die 1980s versamel is, was die huisie onder Cape Nature se bestuur. Later is dit oorgeneem deur Franskraal se Belastingbetalersvereniging, en nog later was dit ’n geskenkwinkeltjie. Ná ’n paar jaar se onderhandeling met die plaaslike munisipaliteit, het die Fouries toestemming verkry om dit as ’n museum in te rig.

Dit lyk nie soos baie ouer museums met glaskaste, of selfs meer informele moderne instellings met keurig- uitgestalde items nie. Dis die tuiste van ’n rykdom van voorwerpe wat meestal uit die negentiende eeu tot en met die 1950s dateer, alhoewel daar ook heelwat ouer items uitgestal word. Die oorblyfsels van skeepswrakke, plaas- en vissery-implemente en bykans vergete huisgoed van die Strandveld-verlede kuier gemaklik en informeel saam met mekaar om die geskiedenis te laat herleef.

Jan het die meeste van die museuminhoud self versamel, hoewel baie van die items oor die jare as geskenke ontvang is en enkeles op bruikleen is.

Dit is moeilik om te besluit wat die interessantste is. Jan noem dadelik die grootste Birkenhead-versameling in privaat besit. Die HMS Birkenhead het op 26 Februarie 1852 by Danger Point naby Gansbaai vergaan en het ’n simbool geword van die dapperheid van die matrose en soldate aan boord.

“Ek het self daar geduik in 1962 en ’n deel van die versameling behoort aan my,” vertel Jan. “Dit was ’n wonderlike duik-ervaring. Die Birkenhead laat min duikers daar toe weens die sterk seestrome, haaie, swak sig en diepte. Ek was nog jonk, voortvarend en onverskrokke.”

Die versameling van Italo Martinengo is op bruikleen. Hy was ’n lid van dr Allan Kayle se span wat in die 1980s op die Birkenhead gewerk het. Voor die museum staan ook een van die skip se 32-pond kanonne wat in 1829 deur luitenant-generaal William Millar ontwerp is.

’n Pikkewyn-eierkissie dateer uit die dae toe dit nog ’n wettige delikatesse was en van Dyerseiland na Kaapstad verskeep is. Daar is ook ’n voorbeeld van die skoene wat die eilandwerkers uit die ghwano-streepsakke begin maak het.

Talle skepe het langs die kus van die Strandveld op die rotse geloop, en onder andere huisves die museum dukatons van die Merensteijn wat in 1702 naby Jutteneiland by Saldanha gestrand het. “Dit is wel nie uit ons streek nie, maar bly kosbaar.” Opvallend is ook die ongewone groot plaatmetaalmunt vanaf die Nicobar, ’n Deense Oos-Indiëvaarder wat in 1783 naby Quoin Point gestrand het.

SD meen die tersalletjierooster is iets besonders, omdat die transportryers dit gebruik het om hul vleis oor ’n eenvoudige vuur gaar te maak. Sy wys ook ’n ou medisynekassie,’n houtpoppie en werktuie van die Khoisan wat aan die ontstaansgeskiedenis van die Strandveld herinner.

Ook deel van die versameling is ’n kombuiskas “met konfyte en kênfroet uit die jare toet en al”, ’n plaaslik- ontwikkelde keeskatrol, kinders se dolosse en talle ander voorwerpe wat eens algemeen was, maar in onbruik verval het. Pragtige handgemaakte kledingstukke en ander naaldwerk- items sluit ’n “combination” in, oftewel ’n gerieflike kledingstuk bestaande uit bolyfie en onderlyfie. Daar is ook ’n honderdjarige orreltjie “en ons glo dat dit Sondagaande soms op sy eie begin speel en dat die geeste van ’n ander era saamsing.” Die stygende brandstofpryse en groot organisasielas het ongelukkig daartoe gelei dat die gewilde spooktoere wat eens aangebied is, doodgeloop het.

Só kan jy meer in jou ouer jare leer. 

Opvallend is enkele besittings van die befaamde Afrikaanse skrywer D J Opperman. Hy en sy gesin het vanaf 1958 gereeld by hul vakansiewoning in Franskraal uitgespan. Sommige van sy gedigte is beïnvloed deur hul Strandveld-verblyf, insluitende die titelgedig Edms. Bpk.

Elke voorwerp in hierdie klein skatkis het sy eie verhaal en ’n kuiertjie by die Fouries en hul rykdom stories laat die Strandveld leef soos min.

Sit die huppel terug in jou stap deur in te skakel vir Met ’n huppel in die stap, Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.