Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Ouma, ken jou plek – Alles Malan

Nuus
28 Desember 2021
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 5

Lee-Anne (Nicole Fortuin) vind nog haar voete met klein Nina en Nico (Sean-Marco Vorster) dink hy doen haar ’n guns om haar ma, Gillian (Khadija Heeger), te laat kom om te help. Maar wanneer help ’n ouma en wanneer meng sy in?

Hier is ’n paar moet en moenies:

  • As daar ooit ’n tyd was om onopgeloste familieprobleme uit te sorteer, is dit voor die geboorte van die kleinkind. Probeer om enige struikelblokke uit die pad te haal en fokus op die vreugde van die geboorte van die kleinding.
  • Aanvaar dat jy moontlik nie tevrede gaan wees met baba se naam nie. Die dae van ellelange familiename en tradisies soos dat die eerste seun na die pa se pa vernoem word, is verby.
  • Daar is ’n baie goeie kans dat daar ook ’n ander stel ouma’s en oupa’s gaan wees. Gun hulle ook die tyd wat hulle wil met hulle kleinkind wil hê.
  • Die nuwe ouers gaan op hulle eie manier leer wat vir hulle werk en wat nie. Waak daarteen om hulle die hele tyd te vertel wat hulle moet doen en hoe dit gedoen moet word.
  • Moenie die nuwe ouers se drumpel deurtrap nie. Dit kan hulle dalk voel dat jy/julle hulle nie vertrou met jou nuwe kleinkind nie. Wees daar vir hulle en laat hulle weet dat jy net ’n telefoonoproep ver is indien hulle jou nodig het.
  • Maak seker dit gaan goed met die nuwe ma. Kyk uit vir tekens van nageboorte-depressie of selfs net ’n tekort aan slaap. ’n Paar goeie ure slaap terwyl ouma na die baba kyk, het al menige ma gered.
  • Sê vir die ouers so gereeld as wat jy kan dat hulle wonderlike ouers is. Hulle sal dit nie altyd voel nie, maar het dit nodig om te hoor.
  • Maak seker hoe die ouers oor sekere dinge voel, veral wanneer die baba ouer word. Moet byvoorbeeld nie vir die kinders te veel lekkergoed gee nie of vir hulle speelgoedwapens gee as jy dit nie eers met die ouers uitgeklaar het nie.
  • Onthou, jou skoondogter is met jou seun getroud en sy weet hoe hy grootgemaak is.
  • Moenie jou kleinkind met jou eie kinders vergelyk nie. Om te sê dat jou baba’s op elf maande al geloop het of op twee maande al deurgeslaap het, help niemand nie.
  • ’n Kompliment gaan baie verder as enige kritiek.
  • Moet nooit ’n ma laat skuldig voel indien sy weer gaan werk nie. Tye het verander en behalwe vir vroue vir wie ’n loopbaan belangrik is, is dit vir meeste gesinne finansieël voordelig as die pa en ma werk.
  • “Dalk is die volgende een ’n seuntjie.” Nee!
  • “Tog jammer hy het sy pa se neus.” Nog ‘n nee!
  • Geniet elke oomblik. Soos iemand gesê het: Grootouers is ’n bietjie ouer, ’n bietjie onderwyser en ’n bietjie beste vriend.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).