Logo
Met 'n huppel in die stap
web uni tv guide

Met 'n Huppel In Die Stap

144LeefstylPG

Oud word teenoor oud wees – Met ’n huppel in die stap

Nuus
11 Februarie 2019
Dit bly jou keuse...

Foto: Getty Images

deur Celeste van der Walt

Navorsers het bevind dat net 10% van die lengte van ons lewe bepaal word deur ons gene. Die ander 90% word bepaal deur ons leefstyl... Die keuses wat ons maak! Maar hoe doen ons dit?

Volgens statistieke is die ouer generasie ’n immergroeiende groep en is daar reeds meer mense ouer as 65 as jongmense onder 15. Die aantal honderdjariges vermeerder ook jaarliks. Hierdie feite laat ons almal, jonk en oud, regop sit. “Oumense” maak ’n al groter deel van die bevolking uit.
 

Die waarheid oor die ouer generasie

Hoewel ons langer leef, is dit hartseer dat ons vroeër verouder. Meer en meer mense in hulle veertiger- en vyftigerjare word met sogenaamde “oumenssiektes” soos Parkinson se siekte, Alzheimer se siekte en diabetes tipe 2 gediagnoseer.

Hierdie werklikheid plaas ’n groot las op die samelewing en regerings wêreldwyd en word grootliks veroorsaak omdat ons glo die aftreejare is ons oud-wees-jare. Ons niks-doen-jare. Ons terug-sit- en handjies-vou-jare. Dis egter minder aftakelend en veel meer lewegewend om na maniere te kyk om langer jeugdig, aktief en produktief te wees. So ’n proaktiewe ingesteldheid hou die stramheid uit die lyf, die emosies lig, die immuunstelsel lewendig en die denke vaardig.

 

Oud word teenoor oud wees

Dit is die jare wanneer ons, soos Bob Buford dit stel, beweeg van “success to significance”. Navorsing toon dat gemeenskappe waar niemand aftree nie, net bietjie spoed verminder en op ander maniere betrokke raak en bly, die seniors jeugdig bly: brein-helder, gesond, aktief en produktief. Hulle maak steeds ’n bydrae, voeg nog waarde by, en maak steeds ’n verskil. Tydens ’n onlangse reis na Viëtnam was ek verstom om 90-jariges te sien stap om hul varsprodukte te gaan koop en oral langs die pad geselsies aan te knoop. Hulle word steeds geag en jonger mense vra hul raad en soek hul geselskap op.

“The second half can and should be more creative, more impactful, more meaningful, more adventurous and filled with more learning and contribution than the first half” – Bob Buford


Ons self kan (en moet) besluit oor ons kwaliteit lewe gedurende ons seniorjare. Lynda Smith moedig ons aan om anders te dink oor ons aftreejare: “Retirement is the beginning of an exciting new phase of life, not the end of life. Ensure that your life is painted in rich colours and becomes a beacon of hope and inspiration to others.

 

Wat is die geheim?

Wat kan ons doen en wat het ons nodig om jeugdig en lewenslustig, aktief en produktief te bly? Talle wetenskaplike studies is reeds en word steeds gedoen en daarvolgens is daar ’n paar eenvoudige rigtingwysers wat help om die verouderingsproses effektief te vertraag.

 

Beweging: die sleutel

Gereelde beweging deur die dag om die spiere, sintuie en brein fiks te hou, suurstofvlakke te verhoog en die gemoed te lig, saam met ’n gesonde eetplan, is die sleutel tot jeugdige veroudering. Dr. Daniel Amen moedig ook beweging in ritme aan, wat heerlik prettig is. Pret en ’n kinderlike speelsheid help ook om ons jonk van gees te hou.

“Movement is the language of the brain. Movement includes not only movement of the skeleton and muscles, but also the movement of thinking, emotion and feelings. All action involves movement in all aspects of the self” – Anat Baniel


Die geheim van jeugdige veroudering is dus om aktief en produktief te bly, om vreugdevol te wees, om genoeg suurstof in te neem, om ’n gesonde leefstyl te handhaaf, en om waarde toe te voeg tot ander se lewens. As jy nog asem haal en ’n spier kan beweeg, kan jy nog ’n bydrae lewer, vertel die kundiges.

 

Senior Mind Moves

Na aanleiding van al die navorsing oor veroudering, het ontwikkelingskundige dr. Melodie de Jager Senior Mind Moves as ’n afdeling van die Mind Moves Instituut gestig en die boekies ’n Glinster in my grysheid en The twinkle in my wrinkle gepubliseer. Senior Mind Moves gee hoop, bring insig, en voorsien tegnieke wat help om ons sintuie, brein, senuweestelsel en spiere jonk en gesond te hou om sodoende kwaliteit lewe tydens die ouerwordjare te verseker.

Wanneer ons hierdie oefeninge daagliks doen, bly ons sintuie skerp, die brein bly helder of raak weer helder, ons staan met gemak op en dink flink, stap weer met ’n huppel, ons gevoelens van selfwaarde verhoog en ons lus vir die lewe seëvier. Nuwe uitdagings maak ons opgewonde en omgee vir ander raak belangrik.

Senior Mind Moves glo saam met dr Joseph Murphy, “Age has its own glory, beauty and wisdom that belongs to it. Peace, love, joy, beauty, happiness, wisdom, goodwill and understanding are qualities that never grow old.

Ons kies om so lank moontlik aan te hou verjaar en elke verjaardag met oorgawe te vier.

Sit die huppel terug in jou stap deur in te skakel vir Met ’n huppel in die stap, Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.