Logo

Ouboet en Wors: Hier kom ’n ding!

Nuus
04 Augustus 2017
Aandag, alle Willie Esterhuizen-aanhangers!
ouboet_en_wors_bill

FOTO: Sally en Frank agter die skerms

Wat gebeur as Yollie, Ouboet en Hendrikkie sak en pak uit Orkney trek? Hulle bevind hulself in die buitewyke van Johannesburg waar Ouboet en Hendrikkie hulself as entrepeneurs posisioneer en elkeen hul eie besigheid bestuur. Hier kom ’n ding, want die splinternuwe ‘sitcom’ uit die pen van Willie Esterhuizen bring gunsteling-karakters uit sy vorige werke weer bymekaar.

Orkney snork nie, Vetkoekpaleis en Molly en Wors word spitsvondig en met groot deernis saamgemeng. Die resultaat is ’n komiese reeks met Frank Opperman, as Ouboet van Orkney, aan die stuur van sake. Wors Visagie, (Willie Esterhuizen) is sy staatmaker-vriend en vertroueling en natuurlik is altwee se vroue ook betrokke. Yollie (Sally Campher) en Molly (Lizz Meiring) hou nie net hulle mans op hul tone nie, maar wys ook dat oud beslis nie koud is nie.


Sally Campher en Frank Opperman in ’n toneel uit Orkney snork nie. 

Die kinders, wat nou al mooi groot is, maak ook gereeld hulle verskyning. Hendrikkie (Kaz McFadden) en Gielie (Wynand von Vollenstee) moet die ooms in toom hou. En wat sal ’n reeks wees sonder ’n blonde ‘bombshell’? Boeboe (Liane Heyl) of te wel “antie Boeboe” vir Gielie is terug in al haar glorie. Die geliefde Boeboe het haar Vetkoekpaleis-hoedjie opgehang en is nou aan die stuur van Beauty with Boeboe.

Ouboet en Wors saai vanaf Oktober 2017 op DStv-kanaal 144 uit.