Logo

Opwindende veranderinge by oggend- en laataand-aktualiteit

Nuus
30 Maart 2015
Op 6 April 2015 word kykNET se gewilde oggend- en laataand-aktualiteitsprogramme na ’n hoër rat oorgeskakel vir ’n sterker, meer vaartbelynde aanbieding na nuus, politiek, sake, kultuur, kuns en mode.
Waldimar

Op 6 April 2015 word kykNET se gewilde oggend- en laataand-aktualiteitsprogramme na ’n hoër rat oorgeskakel vir ’n sterker, meer vaartbelynde aanbieding na nuus, politiek, sake, kultuur, kuns en mode.

Dié skuif volg op deurlopende gehoornavorsing in die sowat 5 maande sedert die nuwe aktualiteitsprogramme in Oktober 2014 op kykNET bekendgestel is. Dit het ’n goeie aanduiding gebied van wanneer, en vir hoe lank, kykers spesifieke programinhoud op die kassie wil sien.

Van Maandae tot Donderdae sal die 21:30 tot 22:00-tydgleuf gevolglik aan die kykNET Verslag – ’n samevatting van die dag se mees opspraakwekkende gebeure – behoort.

Op Maandae sal dit gevolg word deur Insig (van 22:00 tot 23:00), aangebied deur Waldimar Pelser, redakteur van Rapport. Hier is die fokus op nuus, partypolitieke ontwikkelinge en bedrywighede rondom die regering of wetgewing. Daar sal ook profiel-onderhoude met nuusmakers gevoer word en gekyk word na internasionale ontwikkelinge wat relevant is, veral binne ’n wyer Afrika-konteks.

Winslyn – ’n informatiewe program wat aktuele kwessies in die sakewêreld aanroer en entrepreneurs en ondernemings in die kollig plaas – sal Dinsdae tussen 22:00 en 22:30 op die spyskaart wees. Dit word aangebied deur Divan Botha, een van Suid-Afrika se mees suksesvolle jong entrepreneurs, en pak onderwerpe soos tegnologiese ontwikkeling, die Afrika-ekonomie en vars perspektiewe op die wêreld van kleinsake aan.

Prontuit sal steeds Woensdae op die kassie wees, maar tussen 22:00 en 22:30, en sal aangebied word deur mediavervaardiger Kabous Meiring. Dit is ’n geselsprogram wat die storie ondersoek deur gesprek, ná dit in die nuuskollig was. Hier word veral die identiteit van Suid-Afrika sonder skroom bespreek. Met onderwerpe wat strek van hoekom Jannie Smuts ’n ingewikkelde staatsman was, tot hoe ’n land sy polisiediens kan privatiseer. Prontuit beoog om die feite bloot te lê in ’n land wat deurspek is met moeë retoriek. En nooit sonder ’n goeie skoot humor nie. Kabous Meiring, met haar droër aanslag, maak seker Prontuit vind aanklank by ’n wye spektrum Suid-Afrikaners. Die program probeer veral die verbruiker bemagtig, en ook om diskoers en dialoog te stimuleer.

Flits bied op Donderdae tussen 22:00 en 23:00 ’n vars en energieke blik op die wêreld van Suid-Afrikaanse kuns, mode, vermaak en sosiale gebeure. Vermaaklikheidsfiguur Bouwer Bosch en Huisgenoot-joernalis Yvonne Beyers se unieke opvattings oor popkultuur, aanlynmedia en die kunste beloof om kykers te vermaak en op hoogte te bring met die ‘movers en shakers’ wat die wêreld aan die gons het. Die gaste en onderwerpe is uiteenlopend: kalkligfigure, resensente, kommentators en kunstenaars, boeke, rolprente, musiek en tendense. Soms word die humoristiese kant van nuusgebeure uitgelig en die estetiese wêreld verken.

Aktueel Bestes sal op 10 April sy eerste verskyning maak tussen 17:30 en 18:00. Dit sal, voordat die Vrydag-kuiervure te hoog begin brand, ’n versameling van al die beste aktuele brokkies van die week se programme bied om die week af te sluit.

Die kykNET Verslag, sowel as die betrokke aand se aktualiteitsprogram, sal die daaropvolgende weeksoggend om 06:00 herhaal word.

Karen Meiring, M-Net se Direkteur van Afrikaanse Kanale, sê: “Ons is baie trots om aan te kondig dat ons kykertal vir die aande se aktuele tydgleuwe net vanaf Februarie 2015 tot Maart 2015 met 27% toegeneem het. ’n Baie belangrike deel van dié sukses lê daarin om ag te slaan op kykers se behoeftes en voorkeure, veral ten opsigte van vroegoggend- en laataandprogramme. Ons het dus, deur die konsolidering van ons programrooster, -inhoud, -tydsduur en -herhalings, verstellings gemaak ten einde kykNET se aktualiteitsteikenmark beter te akkommodeer. Ons vertrou dat dié verskuiwings nóg ’n groter groei in kykertalle sal beteken binne die volgende paar maande.”

Kykers kan ook steeds lekker saamgesels via die Twitter-handvatsel, @kyk_laataand, sowel as die hutstekens #insig, #winslyn, #prontuit, #flits en #aktueelbestes. Hooftrekke van die programme sal ook op kykNET beskikbaar wees.