Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160 Afgrond

Ontmoet Kanya Viljoen – Afgrond

Nuus
18 Maart 2021
Kanya Viljoen, wat die rol van die begrafnisondernemer Leora speel, is dalk ’n nuweling op TV, maar sy het al diep spore in die teaterwêreld getrap.
Leora

Vanwaar kom jy, waar het jy studeer en hoe het jy in die uitvoerende kunste beland?
Ek het in Somerset-Wes grootgeword en het aan die Universiteit van Kaapstad teater en uitvoerende kunste studeer. Die kunste was maar nog altyd ’n baie groot liefde in my lewe. As klein dogtertjie was ek altyd aan die dans of storie-vertel of wêrelde verbeel en dit het in my skooldae al hoe meer ernstig geword. Ek het klassieke ballet, sang, klavier en drama dwarsdeur laerskool en hoërskool geneem en wou nog altyd op een of ander manier in die kunste betrokke wees.

Vertel ons meer van jou karakter, Leora. Hoe het jy onder haar vel ingeklim?
Daar is soveel elemente en streke van Leora wat vir my so bekend voel – haar positiewe uitkyk op die lewe, haar babbelende energie en haar liefde vir ietsie moois is alles eienskappe wat ek so goed ken. Daar was ook elemente wat nie so bekend gevoel het nie, maar dit was ’n lekker uitdaging om aan te pak.

Hierdie is jou eerste groot TV-rol. Wat was vir jou die grootste uitdagings? En vreugdes?
Daar was soveel vreugdes dwarsdeur die hele proses van Afgrond, maar ‘n hoogtepunt is die span mense saam met wie ek kon werk. Van die regisseur, Corné van Rooyen, wat so ’n sagte hand gehad het, en die kinematograaf, Sunél Haasbroek, wat dikwels ’n beeld so mooi kon vasvang, tot die kostuum- en grimeerspan, wat elke oggend grappies vertel het. Die spoed waarteen ’n mens moet werk, was iets waaraan ek gewoond moes raak, maar ek dink ek het dit darem teen die einde baasgeraak.

Jou wortels lê stewig geplant in die teater – nie net as skrywer nie, maar ook as regisseur. Sal teater altyd jou eerste liefde bly?
Dit is ’n baie moeilike vraag. Ek dink teater sal altyd my fondasie bly en dit het my soveel oor myself en oor die kuns van stories vertel geleer. Daarom sal ek altyd by teater betrokke wil bly. Dit gesê, is ek net so opgewonde oor film en televisie en al die ander maniere waarop ’n mens kan speel en skep.

Jy was een van vyf opkomende skrywers wat in 2019 gekies is vir die Jakes Gerwel Stigting se mentorprogram. Wat beteken so ’n program vir jong skrywers?
Die Jakes Gerwel-skrywersresidensie was ’n ongelooflike geleentheid waar ek so baie geleer het. Dit was so ’n groot voorreg om my alledaagse omgewing te verlaat en om vir ’n maand lank ’n toneelstuk te ontwikkel en te skryf. Dit het ’n fokus rondom die werk toegelaat, wat nie altyd moontlik is as jy ’n jonger skrywer is nie. Ek dink daar is beslis meer sulke programme nodig, wat kosbare tyd aan kunstenaars kan bied.

Hoe lyk die res van jou jaar? Waaraan werk jy en wat hoop jy kom oor jou pad?
Met die pandemie is alle planne ’n bietjie holderstebolder, maar ek is tans besig om produksies as deel van die Baxter Teater se Zabalaza-fees te fasiliteer. Ek berei ook voor om klas te gee aan die Universiteit van Kaapstad en Act Cape Town. Hopelik is daar ook binnekort ’n teaterstuk of twee by die feeste.

Afgrond is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)