Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Ontmoet die karakters – Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
06 Augustus 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai vanaf Dinsdag 31 Augustus 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.
Nerens Noord Kaap 2001x859

Die rolverdeling van Nêrens, Noord-Kaap spog met ‘n dinamiese verskeidenhied van Suid-Afrikaanse talent.
Leer hier die karakters ken:

PA LOURENS ADENDORFF

Vertolk deur: Frank Opperman
Alleen na sy vrou se dood en vervreemd van sy seuns - hy het nog nooit die regte woorde vir hulle gehad nie. Hy het die daaglikse besigheid van die plaas aan Frans oorgegee, en wag deesdae net vir die dood om hom te kom haal sodat hy by sy vrou kan wees.

RONNIE ADENDORFF

Vertolk deur: Albert Pretorius
Middelkind met die rugby-skouers, Ronnie was van kleins af die moeilikheid-maker. Hy stoei met spoke waarvoor hy nog nooit kon weghardloop nie. Sy huwelikke val uitmekaar uit, sy besighede vou. Die een lig in sy lewe is die kind wat hy perongelik by Shannon gekry het - Lourens. Alles wat Ronnie doen, elke besluit, is vir sy kind.

FRANS ADENDORFF

Vertolk deur: Geon Nel
Oudste seun van die Adendorffs en nou die bestuurder van hulle 30 000ha skaapplaas, Nêrens, in die hart van die onversoenlike Noord-Kaap. Van kleins af al droom Frans dinge wat hy nie kan verstaan nie - drogbeelde en droomkastele wat hom wakker ruk in die middel van die nag. Vir sy boeties wil hy dit wegsteek - hy is die oudste. Jare se stilte op die plaas en die lewe se herhaaldelikke uitklophoue het Frans se hoop begin vreet. Deesdae as hy sy oë lig is dit altyd asof hy donderwolke sien. Wolke wat nie net water bring nie - maar verwoesting. Maar hierdie dieptes hou hy vir homself. Frans gaan slaap. Frans staan op. Frans boer.

ANDRIES ADENDORFF

Vertolk deur: De Klerk Oelofse
Swartskaap. Agteros. Jongste kind wat altyd laaste kom in die resies van die lewe. Hy werk van plek tot plek, land tot land en stuur poskaarte huis toe. Alles wat hy besit pas in een rugsak en hy slaap meer gereeld onder bome as onder ’n dak. Hy hoor jakkalsvoete agter hom in die pad. Die jongste kind dra die grootste las - as hy nie sy gesin red nie, gaan niemand nie.

KATJA ADENDORFF

Vertolk deur: Tinarie Van Wyk Loots
Soos die beste ouers weet, het sy elkeen van haar seuns anders groot gemaak, hulle die lewe in gevolg eerder as om te lei, en elkeen stoei vandag met eiesoortige spoke en verlange rondom haar dood.

MAGGIE BUYS

Vertolk deur: Ilse Klink
Maggie is die Ma van die huis, net so veel soos Katja. Maggie is liefde, in elke sin van die woord, en kyk meer na ander mense as haarself, wat uiteindelik nie ’n goeie ding is nie.

JAN-JAN BUYS

Vertolk deur: Dean Balie
Voorman op die plaas en vriend van die broers sedert kleintyd. Maggie se seun. Hy is deel van die gom wat die Adendorffs bymekaar hou.

LOURENS ADENDORFF

Vertolk deur: Arnold Swart
Lourens het twee huise. In die skoolweek saam met sy Ma en haar nuwe man, Ryan, en naweke by sy Pa, Ronnie, aan die ander kant van die stad in Table View. Hy doen goed op skool, steratleet, en kom nou en dan agter dat sy jong skouers nie sterk genoeg is om elke las te dra nie.

FLEUR VAN DER MEER

Vertolk deur: Melissa Willering
Nederlandse meisie op reis deur Thailand. Sy werk by ’n backpackers en spaar geld om terug te vat huis toe. Slim, selfversekerd en verrassend stout.

LORRIE WILLEMSE

Vertolk deur: Shana Mans
Die meisie van langsaan, en veearts vir die skaapplase rondom Niewoudtville. Lorrie en Frans wentel al van kleins af rondom mekaar, maar wie gaan nou die eerste skuif maak?

SUZETTE COETZER

Vertolk deur: Daneel Van Der Walt
Bloukolle en leuens en grensgevalle met bomskok het hierdie geskeide polisievrou mooi geleer hoe seer die liefde van Afrikaner mans kan maak - tot sy vir Ronnie ontmoet.

Nêrens, Noord-Kaap saai vanaf Dinsdag 31 Augustus 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en sal ook op DStv Catchup beskikbaar wees.