Logo
kN Digital Banners Template Die Groenste Vingers v2Slim Homepage 1600x160 (2)
web uni tv guide

Die Groenste Vingers

144KompetisieFamilie

Ontmoet Die Groenste Vingers-deelnemers en span

Nuus
07 April 2021
Wie is in die wedloop om as wenner van Die Groenste Vingers gekroon te word? En WIE is die beoordelaars wat hulle op hul tone gaan hou?
16

Die opwinding loop omtrent hoog vir die afskop van Die Groenste Vingers op Donderdag 22 April om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144!

Die eiesoortige en lewenslustige Edrien Erasmus is reeds aangekondig as die aanbieder van kykNET se nuutste kompetisie program, Die Groenste Vingers, waaroor sy nie haar opgewondenheid kan keer nie!

En wie bou en buig die boompies?

Erasmus sal bygestaan word deur twee beoordelaars wat deelnemers weekliks sal lei deur elke uitdaging, maar ook skerp en krities sal kyk wie as wenners van uitdagings deurdring tot die finale episode van die reeks.

Leon Kluge is gebore en getoë in die Laeveld se botaniese tuine. Hierdie internasionaal erkende landskapsargitek en -kunstenaar het al verskeie pryse regoor die wêreld gewen het waaronder hy ’n paar keer goud vir sy tuine by die Chelsea Blommeskou verwerf het.

Onlangs het hy ook goud gewen by die Shenzhen Internasionale tuinskou in China – die eerste Suid-Afrikaanse tuinkunstenaar om hierdie prestasie te behaal by hierdie glasryke tuinskou.

Die ander beoordelaar, Franz Gräbe, is ’n blom couture genie wat behalwe blomme vir troues en korporatiewe funksies,  ook al blomrokke vir die loopplank, gemaak het. Die Amerikaanse geselsprogram ikoon, Oprah Winfrey, was al een van sy kliënte.

Na hordes aansoeke is die TOP12-deelnemers van Die Groenste Vingers gekies op meriete, talent en ervaring. En vanjaar se groep is van die voorste blom- en tuinkunstenaars in die land.

Die deelnemers aandie eerste seisoen van Die Groenste Vingers is as volg:

  1. Diane van der Merwe
    Diane is ’n 23-jarige vryskut bloemis van Pretoria.
    “Ek het nog altyd 'n liefde gehad vir blomme maar in 2019 het ek 'n internskap met Zavion Kotze Events Company gedoen en het verseker my passie gevind om blomme te rangskik.”

  1. Xandri Redelinghuys
    Xandri is ’n 29-jarige kunstenaar en visuele ontwerper van Gauteng.
    “Van kindsbeen was my hande in die grond, my neus in die blare en takke in my hare. My ma het gesorg vir ’n gesonde belangstelling in algemene plante kennis, tuinbou en liefde vir die natuur en my pa het my aandag vasgevang in die proses van boom en bedding tot etenstafel deur middel van die kombuis.”

  1. Denicke Cronjé
    Denicke is ’n 26 jarige trou- en geleentheidsblomrangskikker. Sy is oorspronklik van Bloemfontein.
    “Soos meeste van my belanstellings, is my liefde vir blomme en tuinmaak geïnspireer deur my moeder. Sy is 'n ongelooflike "floral designer" en tuinier. Van my eerste herinneringe is hoe ek haar help om trouruikers te maak op Vrydagaande.”

  1. Christina du Preez
    Christina wat voorheen as ’n kliëntediens- en verkoopskonsultant gewerk het, woon in Gordonsbaai in die Wes-Kaap.
    “Ek kom oorspronklik van 'n familie-plaas tussen Robertson en Worcestor. Beide my oumas en my ma is groot tuinmakers en plante kenners. My ma en ouma het daardie tyd met ‘n kwekery op die plaas begin. My ouma het ook ‘n roostuin uit die boonste rake gehad. Ek was van kleins af my ouma se skaduwee gewees enhet so my liefde vir tuinmaak by haar geleer.”

  1. Pieter Honeyborne
    Pieter is ’n 36-jarige Stellenbosser en bestuurder van Okasie Blomwinkel.
    “As kind het ek groot geword met my ouma en oupa wat altyd die mooiste tuin gemaak het. My ouers is ook ywerige tuinmakers en my Ma het beslis groen vingers. Sy kan enige steggie of plantjie laat groei. Dis deur hulle liefde vir plante wat ek blomme ontdek het en so my passie elke dag uitleef.”

  1. Corli Leonard
    Die bedryfsingenieur en deeltydse bloemis, Corli, is van Heidelberg in Gauteng.
    “Ek het nog altyd gehou van kreatief wees en iets skep met wat ek het, maar eers werklik na my tweede aflegging ‘toevallig’ begin blomme doen toe ek uitgehelp het by my ouers se trou-venue.”

  1. Francois du Toit
    Francois is ’n blomboer en eienaar van Fanna en Flora in Durbanville.
    “Ek het as kind op ‘n weeklikse basis in die tuin gewerskaf en dit is dáár waar ek die terapeutiese waarde van tuinmaak leer waardeer het. Tydens my voorgraadse studies het ek geleer oor die fisiologie van plante en blomme en ek was nog altyd verstom deur die skoonheid en diversiteit van blomme. Dit was eers heelwat later, toe ek ‘n blomboer geword het, wat ek my passie vir blomme totaal kon uitleef!”

  1. Nathan Groeners
    Sy van sê reeds als! Nathan is ’n vloerbestuurder en bloemis van Bellville in die Wes-Kaap.
    “Ek het my liefde vir blomme rangskikkings by my huidige werk ontdek.”

  1. Gerhardt Oosthuizen
    Gerhardt is die eienaar van Gonk Weddings in Linden, Gauteng.
    “My ma het groen vingers. Sy kan enigiets laat groei. Van kleins af het sy my aan die hand gevat en in die tuin rondgestap en my die botaniese name van blomme geleer. Ek is egter nie goed met name nie en het gou geleer om self botaniese name vir blomme te gee iets wat tot vandag nog ’n forté van my is. Ek is baie lief vir ‘n mooi tuin. Ek is lief vir blomme en rangskikkings.”

  1. Marcel Augustyn-Clark
    Marcelle is ’n man van vele talente. Hy is blomme kunstenaar en geleentheidsontwerper, gastehuiseienaar en ’n groente-, vrugte- en blomverkoper uit sy kombuistuin, Boer & Blompot.
    “Beide my oumas het lieflike tuine gemaak, en ook blomme rangskik. Dis hieruit waar ek my eie liefde vir tuine en blomme ontwikkel het.”

  1. Minette Ludwig
    Minette is die eienaar van Plantation Revival in Linden.
    “Van kindsbeen, was ek omring deur natuurliefhebbers.”

  1. Jeanne van Zyl
    Eienaar van The Bloom Space. The Bloom Collective, Jeanne kom van Irene in Gauteng.
    “Ek het op 21-jarige ouderdom 'n hartsbegeerte begin kry om met blomme te werk en dit as 'n kreatiewe uitlatingsklep te gebruik. Kort daarna het my vriendinne begin trou, waar ek geleentheid gekry het om dit toe te pas en my styl en kapasiteit om met blomme te werk, te ontwikkel. Dit het organies gegroei en uiteindelik 'n besigheid geword wat ek nou nog bestuur en geniet.”

Die Groenste Vingers begin Donderdag 22 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)