Logo

‘Onthul’ en die BELA-wet: Is dit tyd vir Afrikaans om te val?

Nuus
10 Januarie 2024
Is onderwys die afgelope dekades ’n onreg wat aan ons kinders gedoen is? Dit, en ander knellende vrae word openhartig bespreek tydens “Onthul” op kykNET se episode rondom jou kind se skool en die Wysigingswet op Onderwyswette, oftewel die BELA-wet.
Onthul

Verskeie deelnemers aan die onthullende gesprek vergelyk selfs die nuwe wetgewing as ’n poging tot die skoolkaping van skole deur die huidige regerende party.

Die minister van die department van basiese onderwys, Angie Motshekga, het egter dit ontken en gesê die wetgewing is nie daarop gemik om Afrikaans aan te val nie, maar dit word ingestel vir die beskerming van elke kind om toegang tot onderwys te hê.

Ashley Afrikaner van Colesberg sê hy maak sy kinders Afrikaans groot en dat hy eers later “teen die pad op ’n latere stadium” van ander tale soos Engels geleer het. Sy seun is en van die toppresteerders in die skool en hy word in Afrikaans onderrig, alhoewel hy Engels as ’n taal leer.



Ashley glo vas dat wanneer die staat die hele skool oorneem, sake nie gaan werk nie.

Maar volgens minister Motshekga is die wet daarop gemik om sekere tegniese en substansiële aanpassings te maak en dis reeds meer as 10 jaar in wording. Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof: Fedsas, sê die eerste konsepontwerp is eers in 2017 deur die departement gepubliseer.

Die weergawe waaraan nou gewerk word, is die een wat in 2021 by die Parlement ingedien is en daar is na bewering reeds baie omstrede aspekte reeds uit die dokumentasie gehaal.

Gaan dit oor transformasie? Gaan dit oor die gelykmaking van ’n basiese onderwys-sektor?

Verskeie rolspelers is oortuig daar is baie positiewe punte in die BELA-wet. Ander weer sien dit as ’n stryd om die magte van skoolbeheerliggame en ouers te weg te bytel. Ook provinsiale magte sal hierdeur ingekort word.

In die stadium is daar oorkoepelend twee skoolmodelle: openbare skole en onafhanklike skole. Die vroeëre Model C-skole is oënskynlik die teiken van die nuwe wetgewing en een van die vrae wat gevra moet word, is die volgende: hoe kan die departement en die regering 100% van die skool se besluitneming oorneem terwyl dié skole net 20% deur die departement befonds word?

Is die staat besig om ’n verkeerde boodskap aan die ouergemeenskap te stuur? Ouers se geld is goed genoeg om skoolgeld te betaal, maar ouers mag nie meer langer besluite neem nie. Dit kan ouers vervreem en die skole net verder verswak.

Deur BELA word beoog om meer magte na die provinsies af te wentel terwyl daar nie voldoende bevoegdheid bestaan om dit op daardie vlak te hanteer nie.

Minister Motshekga maak dit duidelik dat mense die wet sélf moet deurgaan om uit te vind presies wat daarmee beoog word voordat daar modder gegooi word. Sy voel daar is baie misleidende inligting rondom die BELA-wet.

In hierdie stadium word daar hoofsaaklik op die beheerliggame, taal- en toelatingsvereistes van die wet gefokus. Vir die Afrikaanse ouer-gemeenskap is die knelpunte hoofsaaklik in artikel 5 en 6. Maar daar is nog vele ander belangrike komponente wat daarin vervat word.

Nog ’n vraag wat opduik, is of die BELA-wet moedertaalonderrig in ag neem want dit word nie as ’n prioriteit uitgestippel nie. Tog word daar teruggekap teen enkelmedium-skole en die verwagte risiko dat die skole mag leegloop.

Die oplossing klink maklik: gee die geleentheid vir ’n tweede taal, byvoorbeeld Engels, en die befondsing en personeel sal verskaf word.  

Maar die spook van Hoërskool Overvaal loop nog. Toe Panyaza Lesufi die LUR vir onderwys was, het hy in 2019 gepoog om die skool Engels te maak. Twee nabygeleë Engelse skole het feitlik leeggeloop en hulle het gepleit om die proses te staak. Onder groot druk moes hulle hul pleidooie terugtrek ...

Nie genoeg klaskamers nie, nie genoeg kwaliteit onderrig nie en nie die uitkomste waarvoor daar gewens word nie. Dís een van die tameletjies wat die regering se rug teen die muur druk.

In plaas daarvan om meer skole te bou, word daar net meer kinders na die bestaande goed-funksionerende skole gestuur. Dit verskuif die fokus na die skole wat presteer en minder aandag word spandeer aan die skole wat onderpresteer.

Met verskeie wigte en teenwigte wat reeds in plek is waar teen beheerliggame en skoolhoofde opgetree kan word, is die volgende vraag: Waarom is die BELA-wet nodig?

Gaan die kinders aan die einde van die dag die grootste verloorders wees?

Moenie die boeiende aflewering van Onthul op Sondag 14 Janaurie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.