Logo

Ons Sprokiesbruilof: Uiteindelik getroud!

Nuus
13 April 2017
Werner en Ilandé kon nie wag vir hul sprokiesdag om aan te breek nie.
Ons Sprokiesbruilof

Ilandé se pa maak ’n paar grappe om die bruid kalm te hou voor sy die pad kansel toe aandurf. Maak sy vandag die regte besluit? “As jy sê ‘nee’, dan draai ek om met jou en dan vat ek jou stilweg weg. Dan bly jy by jou pa,” sê hy.

Maar Ilandé weet in haar hart dis die regte besluit om vandag met Werner, wat ná vier jaar steeds die een is wat haar die breedste laat glimlag, te trou.

Ilandé het vir twee en ’n half jaar as lugwaardin in Qatar gewerk, maar teruggekeer in 2015 om ’n toekoms saam met Werner te bou. Terwyl sy daar was het hulle al oor trou gesels, wat Ilandé aangespoor het om sommer haar rok in China te laat maak terwyl sy nog gereeld van die een land na die ander gereis het. “Dis pragtig. Dit lyk soos sy,” sê Ilandé se ma, Amanda.

Amanda se hart dra swaar aan die emosies wanneer Ilandé se droomdag aanbreek, maar die bruid het senuwees van staal en kan nie wag om by Werner aan te sluit nie. “Ek is rustig-opgewonde,” sê Ilandé.

Werner frons soos wat hy die trane probeer keer. “Jy kan nie help nie – die trane loop maar,” sê hy. Sy was “die mooiste bruid ooit gewees.”

Wanneer hulle uiteindelik langs mekaar staan, sê die predikant: “Ek het nog nooit ’n paartjie gesien wat so ywerig is om te trou nie.”

Tussendeur die makietie trek Sorina die pasgetroudes nader. “Jy sprankel nog steeds soos ’n bottel vonkelwyn,” sê sy vir Ilandé. Woorde kan nie beskryf hoe hulle voel nie, sê Werner, en al het dit op ’n stadium gelyk of hulle glad nie ’n troukoek gaan hê nie, was dit sonder twyfel ’n sprokiesbruilof.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).