Logo
OSB Kie Slim
web uni tv guide

Ons Sprokiesbruilof

145RealiteitsprogramPG

Ons Sprokiesbruilof: Sorina blik terug

Nuus
16 Junie 2017
Ons vind uit by Sorina wat dit geverg het om twintig bruilofte te verfilm.
Ons Sprokiesbruilof Sorina

Sorina Erasmus, aanbieder van Ons Sprokiesbruilof het vir ons lig geskyn op wat in dié reeks se vervaardiging ingegaan het.

Die bruilofte wat op Ons Sprokiesbruilof te sien is, was gekies om unieke troues vir die kykers te lewer. ’n Span keurders het deur honderde inskrywings gesif om verskillende genres te identifiseer. Sorina sê dat kandidate ’n verskriklike vraelys moes inhandig. Sy is beïndruk dat daar van doen-dit-self-troues tot peperduur bruilofte in die reeks te sien is.

Die segmente waar die paartjies die finale afrondings doen aan hulle wenslys (ook genoem die “missions”), was meeste van die tyd in een dag geskiet. Dit kon enige tyd tussen twee weke voor die bruilof tot reg voor die bruilof gebeur het, afhangend van die beskikbaarheid van die betrokke mense.

Op die dag van die bruilof het die produksiespan vroeg begin. Hulle moes na die dorp van die bruilof reis en Sorina moes gegrimeer word en aantrek. Op sommige bruilofte was Sorina al agtuur in die oggend opgemaak, lank voor die bruid se skoonheidsroetine begin het.

Op daardie noot het jy dalk agtergekom dat Sorina se uitrusting op die troudag elke keer by die bruilof se kleurskema inpas. Dit was met opset so beplan deur Roedolf D Couture, die ontwerper van Sorina se rokke. Sorina sê sy wou saamsmelt met die agtergrond, omdat dit die bruid en bruidegom is wat veronderstel is om uit te staan.

Die dag van die bruilof was elke keer ’n lang dag. Die produksiespan was soms so lank soos veertien ure aaneen besig om die noodsaaklike beeldmateriaal te skiet. Dit is immers realiteitstelevisie, en Sorina reken hulle het hul ore op die grond gehou en nie ’n oomblik gemis nie.

Die bruidspaar van die week het ook soms deel geraak van die produksiespan. “Aan die einde”, sê Sorina, “het hulle so parmantig geraak, húlle sal sommer skree cut en action. Hulle het ook respek gekry vir hoe die bedryf werk.”

Na afloop van die reeks, sê Sorina, “ek het soveel respek vir die Afrikaner gekry. Hulle het ons op die hande gedra. Hulle het my en die hele crew belangrik en welkom laat voel. Ons sit met ’n arsenaal van awesome mense.”

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).