Logo

Ons Sprokiesbruilof: Petrus en Susan

Nuus
09 Mei 2017
’n Tweede huwelik kan nét so sprokiesagtig soos die eerste wees! Ons leer Petrus en Susan beter ken.
OSB Petrus en Susan

Petrus Fouché (45), ’n pa van twee, en Susan van Jaarsveld (47), ’n ma van drie en ouma van twee, vier hul nuwe lewe saam in hierdie week se episode van Ons Sprokiesbruilof.

Die ontmoeting

“Ek dink ek het geweet die éérste oomblik toe ek haar gesien het,” sê Petrus. “Sy het vir my baie volwasse voorgekom, sy’s standvastig in die lewe, sy weet wat sy wil hê en sy het ’n absolute great humorsin.

“My hart het sulke bokspringe gegee.”

Susan meen dit gebeur nie sommer só dat ’n engel oor jou pad kom nie, en sy glo hierdie man is die een wat die Here vir haar uitgekies het.

Die verlowing

Hulle het mekaar drie maande geken toe Petrus besluit het hy wil met Susan trou. “Dit het my drie maande gevat om so ver te kom,” sê hy. “So ons het baie vinnig verloof geraak!”

Een aand het die paartjie oudergewoonte gaan uiteet, maar Petrus het ’n spesiale tafel vir hom en Susan by ’n restaurant laat dek. Toe Susan weer kyk, het Petrus op een knie gesak en haar die ja-woord gevra. ’n Fotograaf was daar om die oomblik vas te vang. “Ek moes haar twee of drie keer vra,” spot Petrus, só verbaas en oorweldig was Susan – die trane het behoorlik gevloei.

Die troue

Petrus en Susan se sprokiesbruilof moet uniek maar ook klassiek wees en die bruidspaar weet presies wat hulle wil hê. Die troue vind plaas by Makiti in Krugersdorp, maar voor die groot dag aanbreek is daar nog baie werk.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).