Logo

Ons Sprokiesbruilof: Maritzka en Andy

Nuus
26 Junie 2017
Maritzka Snyders (23) en Willem Antonnie (Andy) Meyer (25) van Klerksdorp trou in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof.
Ons SprokiesBruilof_Andy en Maritzka

Die ontmoeting:

Die eerste ontmoeting was tydens die paartjie se laerskool-jare in Odensdaalrus – Andy was graad 3 en Maritzka, graad 1.

Nadat Andy se ma egter in 2001 onverwags oorlede is, het hy getrek, en hulle het kontak verloor vir sowat 14 jaar.

Andy sê hy het altyd gewonder oor Maritzka, maar kon haar nooit opspoor nie. Maritzka sê dat sy, weens haar onsekerheid oor sy van, hom nie kon opspoor op Facebook nie.

Danksy die hulp van ’n gemeenskaplike vriend het hulle uiteindelik weer kontak gemaak, en op Maritzka se 21ste verjaarsdag het Andy besluit om vir haar in Kaapstad te gaan kuier. Andy vertel dat hy op die tweede dag in die Kaap, die dag voordat hy sou terugkeer, besef het dit is sy trouvrou, en daarom haar uitgevra het.

Afstand was vir dié paartjie ’n groot struikelblok. Andy het in Rustenburg gebly, en Maritzka in die Kaap. Na 8 maande se heen en weer kuier het hy egter besluit om af te trek Kaap toe om nader aan haar te wees. “Ek het van die begin af vir haar gesê ‘ek wil met jou trou – ek gáán met jou trou’. Sy het gedink my kop raas.”

Daarna het Maritzka Badplaas toe getrek, en hy het besluit om saam te trek – volgens Maritzka het sy op dié stadium besef “hierdie ou is regtig báie lief vir my.”

Die verlowing:

Een naweek het Maritzka se ouers vir haar en Andy in Badplaas gaan kuier, en hulle het besluit om saam Stilfontein toe te gaan om haar suster te verras.

Daardie aand het hulle almal by haar pa se huis gekuier, en haar ma het bekommerd gelyk oor een van die paartjie se twee Jack Russel-hondjies wat hulle vanaf Badplaas saamgebring het. Volgens Maritzka het haar ma haar aanhoudend aangemoedig om die hondjie op te tel en te ondersoek, om te kyk wat fout is met sy nekkie.

Dit was toe dat Maritzka ’n ring aan die hondjie se halsband gewaar, en omdraai om vir Andy op sy knieë te vind.

“Dit was ’n baie lekker ervaring gewees om te weet die persoon waarvoor jy so lief geraak het vra jou om te trou voor die mense waarvoor jy reeds so lief is.

Die troue:

Andy en Maritzka droom van ’n plaastroue, en trou dus tussen pragtige bome op ’n plaas net buite Stilfontein. Die venue is Die Plaas, slegs ’n klein entjie van waar die paartjie hul huweliksbevesting sal aflê.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).