Logo

Ons Sprokiesbruilof: Jaco en Lilienne

Nuus
16 Februarie 2017
Lilienne Kriel (27), ’n persoonlike assistent vir ’n finansiële adviseur, trou in dié week se episode van Ons Sprokiesbruilof met Jaco Botha (27), ’n fasiliteitsbestuurder.
OSB_Lilienne en Jaco

Lilienne Kriel (27), ’n persoonlike assistent vir ’n finansiële adviseur, trou in dié week se episode van Ons Sprokiesbruilof met Jaco Botha (27), ’n fasiliteitsbestuurder.

Die ontmoeting


Lilienne en Jaco het deur ’n pel by ’n kuierplek in Pretoria ontmoet. “Die oomblik was blykbaar reg gewees,” spot Lilienne. Sy meen dit was moeilik om dié man se aandag te trek (hy was nie juis geselserig nie), maar vir hóm was dit liefde op die eerste oogopslag. Jaco het toe al vir sy vriende gesê: Hierdie is my trouvrou.

Dis die klein dinge in die lewe wat vir Lilienne en Jaco punte tel, soos wanneer Lilienne met lekker eetgoed by Jaco se werk opdaag (wetende hy het ’n moeilike dag). Jaco bederf sy verloofde ook graag en hou daarvan om haar uit te neem.

Die verlowing


Lilienne het vir Jaco ’n verjaardagpartytjie gereël en natuurlik nie geweet dat haar kêrel dié geleentheid sou kaap om op een knie neer te sak nie.

Om dit ekstra spesiaal te maak het Jaco ’n video gemaak waarin hy haar vra om sy vrou te wees. Hierin staan Jaco voor ’n paar plekke waar hy en Lilienne saam herinneringe gemaak het en wit papier met groot swart letters spel die groot vraag uit: Trou met my.

Dié video is die aand by sy partytjie gespeel en ook op sosiale media gedeel. Lilienne vertel hoe “histeries” al haar vriende was, maar sy het nie dadelik besef wat besig was om te gebeur nie. Ná die video geëindig het was Jaco op sy knie, gereed om die vraag (wéér) te vra. Hulle het hul verlowing saam met hul vriende gevier.

Die troue


Hul spesiale dag is eie aan Jaco en Lilienne: Gemaklik en gesellig. Die makietie vind plaas by Klub Zanandi, en hul familie en vriende van oraloor Suid-Afrika gaan inspring om hul droomtroue ’n werklikheid te maak.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).

Herhalings word op Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30 en Woensdae om 11:00 uitgesaai.