Logo

Ons Sprokiesbruilof: Boere-opskop

Nuus
22 Junie 2017
’n Troue in Delareyville is ingekleur met boerekos en ’n spoggerige Mustang!
OSB Boere-opskop Bill

Dariës Viljoen het vanaf dag een geweet Suzanne Maré is sy trouvrou. Hoewel sy aan die begin ietwat getwyfel het (hulle was maar in graad 9 toe hulle begin uitgaan het), het dit gou duidelik geword dat sy en Dariës dié gevoel deel.

In dié week se episode van Ons Sprokiesbruilof het Dariës se droom om Suzanne sy vrou te maak waar geword, en met ’n lekker makietie in Delareyville gevier.

Die paartjie het getrou in die einste kerk waar Suzanne se ouers 26 jaar gelede afgehaak het – al wou die bruidegom aanvanklik op die plaas trou. Maar Dariës is ’n man wat hou van tradisie, en al sê die paartjie self hy is nie baie romanties nie, was hy gaande oor die idee van ’n tradisie voorsit.

Hy het egter ’n verrassing vir sy bruid gehad: Sy gaan nie sommer in enige kar na die kerk geneem word nie! ’n Blink Mustang is vir haar gereël, en aanbieder Sorina Erasmus het sommer ingespring om die bruidegom te help om dié spogmotor te was en blink te poets.

Groot was die oomblik toe Suzanne in die kerk na Dariës aangestap kom – in ’n skepping gepas vir ’n prinses, wat sy haarfyn beplan en van China laat invoer het.

’n Regte plaas-opskop buite die dorpie het gewag, kompleet met smullekker boerekos – kos “waarmee ons grootgeword het,” het Dariës gesê.

Dit was net hulle en die mense wat hulle “tot hier gedra het”, het Suzanne gesê. Boonop was die kos uit die boonste rakke, die makietie pret en is elke verwagting oortref – en dís mos wat ’n bruilof ’n sprokiesbruilof maak!

Ons Sprokiesbruilof se finale episode word Donderdag 29 Junie om 20:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).