Logo

Ons Sprokiesbruilof: André en Bianca

Nuus
02 Maart 2017
André (37) en Bianca de Jager (27) het in 2015 stil-stil afgehaak, maar in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof doen hulle dit behoorlik!
OSB_S1_BIANCA_ANDRE_01

André (37) en Bianca de Jager (27) het in 2015 stil-stil afgehaak, maar in vandeesweek se episode van Ons Sprokiesbruilof doen hulle dit behoorlik!

Die ontmoeting

André het saam met sy kollegas oorgebly in ’n lodge naby Burgersfort toe die donkerkop ontvangsdame sy aandag getrek het. Sy kon síén André kyk effens anders na haar, vertel Bianca, maar het nie daarop gereageer nie – sy was immers daar om haar werk te doen!

André het later die moed gekry om Bianca uit te nooi vir ete en hulle is die volgende aand saam uit. Hulle het baie goed oor die weg gekom, maar afstand en omstandighede het dit moeilik gemaak vir hulle om daarna in kontak te bly – tot die dag wat Bianca op Facebook onder een van André se foto’s kommentaar gelewer het en die twee weer begin gesels het. “Ek het met elke deeltjie van my menswees geweet dat dié die man is wat God vir my gebêre het,” sê Bianca.

Die verlowing

Dis duidelik dat André baie romanties is, soveel só dat dit nie vir Bianca vreemd was toe hulle een aand in ’n gastehuis oorslaap en hy sorg vir ’n mooi gedekte tafel nie. Sy het ook nie iets van die roosblare en kerse gemaak nie, maar die verloofring op die kussing in hul kamer het dit verklap: Hy gaan haar vra om te trou.

André vertel hy het maande lank gedink oor wat hy sal sê wanneer hy haar uiteindelik vra, maar toe die groot oomblik aanbreek het Bianca net oë vir haar pragtige ring gehad! “Sy wou net daai glinster sien,” lag André.

34 osb s1 bianca andre 02

Die troue

André en Bianca het op 3 Desember 2015 by die kerk gaan trou en net hul ouers genooi. “Bitter min mense weet dit, en toe ons nou kans gehad het om geldjies weg te sit, toe besluit ons dat ons tóg die dag saam met al ons geliefdes en vriende ook wil deel,” vertel Bianca.

“Ons troue gaan ’n viering wees van die liefde van twee mense wat bitter lank gewag het en op soek was na die regte sielsgenoot,” sê sy.

Hul droomdag vind plaas by Trés Jolie in Roodepoort, Gauteng.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).

Herhalings word op Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30 en Woensdae om 11:00 uitgesaai.