Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Oktober sorg vir hope vermaak op kykNET

Nuus
28 September 2020
Lees hier waarna jy kan uitsien in jou gunsteling kykNET-sepies dié Oktober...
Lulu Renate

Getroud Met Rugby
Die wrywing tussen Liam en sy skoonma, Priscilla, duur voort, veral sedert Priscilla haarself dieper by Candice se webreeks probeer inwurm het. Haar kuier kom uiteindelik tot ’n dramatiese einde wanneer Candice ontdek sy was oneerlik. Simon sê vir Renate hulle kan nie meer vriende wees nie, maar is ontsteld wanneer hy besef sy en Lulu is vriendinne.

Jordan bied ’n selfverdedigingsklas vir die dames aan, maar dit ruk handuit wanneer een van die vroue sy neus breek. Blitz en Lienkie trou in die hof. Almal is geskok wanneer hulle hiervan uitvind en hulle besluit om saam met die paartjie fees te vier.

Chaos lê voor wanneer Wynand in Blitz se spore volg deur gelyktydig by drie pompoms aan te lê. Bart se plan om Kristien terug te wen duur voort en hy vra vir Renate om hom te help. Dinge raak egter ongemaklik wanneer Kristien hiervan uitvind.

Die Strydergemeenskap is diep geskok en bekommerd wanneer hulle hoor Potties gaan gesloop word, maar dan kry dié gunstelingwatergat ’n nuwe eienaar. Ryno vind uit iemand het die ontwerpe van sy klerereeks gesteel. Blitz en Johan is bekommerd oor Lienkie se gesondheid wanneer sy vreemde simptome begin toon.

Renate ontmoet haar buurman, ’n sjarmante makelaar met die naam Willem Meiring, en sy raak smoorverlief. Simon vind uiteindelik sy droomhuis en Lulu trek saam met hom en Logan in.

Getroud met Rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Die groot klomp geld waarop die Daniels-broers en Justin afgekom het, veroorsaak groot probleme wanneer Nazeem en Joy 'n stukkie van die pastei soek. Maar hulle almal sê les op wanneer die oorspronklike eienaars hulle geld opeis. Daar is ernstige gevolge vir almal en lewens is in gevaar.

Tim se hande jeuk vir 'n groot nuwe ontwikkeling, maar Bridgette weier om saam met die eienaar van die plek te werk. Tim laat hom egter nie so vinnig van stryk bring nie en maak agter sy skoonma se rug kontak met die vrou. Maar naberou is galberou, want Wilmien Badenhorst kom met meer bagasie as net 'n lekker stuk grond om op te bou. Kort voor lank moet die hele Jacobs-gesin bontstaan oor haar vreemde versoeke, gewoontes en episodes. En hulle vind ook uit dat dit nie baie wys is om haar net te ignoreer nie. 

Mymoena bereik die einde van haar geduld met AB en Farah, maar beteken dit ook die einde van Ruiterbosch se mees geliefde paartjie? Kate se aantreklike kleinseun daag op in Ruiterbosch vir ’n klein vakansie, maar Joy herken hom van 'n baie stoute aand jare gelede en is die enigste een wat nie val vir sy skoongesig en botter-smelt-nie-in-my-mond-houding nie. Hy draai almal ’n rat voor die oë wanneer hy 'n liefdadigheidsprojek begin terwyl die geld eintlik reguit na sy eie sak gaan. Gaan hy daarmee wegkom en sy ouma die vernedering spaar?

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Tracy Smit se nuutgevonde verhouding met Conrad Bester word bedreig en sy sal dalk weer haar ou streke moet uithaal om te kan staande bly. 'n Jakkalsie verander van hare, maar nie noodwendig van snare nie, of hoe? Of het Tracy uiteindelik ’n punt in haar lewe bereik waar sy nie meer voorgesê gaan word nie? Genade weet, dié vrou het ook 'n plekkie in die son nodig. Maar hoe gemaak as ’n mens van alle kante af gemanipuleer word en die verlede elke keer sy kop uitsteek? Of gaan Tracy dalk hulp uit ’n onverwagse oord kry?

Tertius besef uiteindelik dat hy sonder kind of kraai in sy lewe kan maak wat hy wil en hy word aangemoedig om sy vrygesellewe te geniet. Maar wanneer die noodlot kom kuier en 'n gas in sy huis pootjie, is dié kuiergas dalk eersdaags ’n meer permanente inwoner as waarop Tertius voorbereid was.

Die noodlot het ook ’n manier om nie mooi met ’n verhouding te werk nie – vra maar vir Danny en Chanel. Ná al die gebeure van verlede maand, is dit Danny wat voet by stuk hou en ’n idee by Elana kry om te bewys dat hy baie ernstig is oor Chanel, maar is daardie gevoel wederkerig?

Iemand wat nog altyd in beheer van sy gevoelens is, is Hugo Voss. Dit is nou natuurlik net as Julia Wessels nie in die rondte is nie. Wanneer Julia wel opdaag by Binneland Kliniek, krap dit die statige dokter se lewe so bietjie deurmekaar, want skielik is hy nie seker waar hy homself bevind met sy eks nie.

Julia is nie die enigste nuwe gesig in die gange van Binneland Kliniek nie: Rita Nortier sluit ook aan, maar dit raak gou duidelik dat Rita reeds die gevolge van die noodlot in haar lewe goed ken en om een of ander rede probeer vermy.

Uiteindelik weet ons ook nou wie die meesterbrein agter Gigi en Ian se kuberkraker-aksies is, maar waarom het hulle dit gedoen? Wanneer hierdie vraag beantwoord word, is daar meer as een persoon wat gaan wonder aan watter kant van die streep in die sand hulle nou staan. 

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.