Logo
Spasie Slim
web uni tv guide

Spasie

144LeefstylPG

Nuwe seisoene vir gunsteling kykNET-programme vanaf Januarie

Nuus
14 Desember 2022
Jou gunsteling realiteitsprogramme keer terug: Van geselsprogramme, vermaaklikheids- tot aktualiteitsprogramme bring nuwe kykgenot.
Shari Kennedy Dewald Visser

Kykers kan in Januarie 2023 uitsien na 'n rits gunstelingprogramme wat vir 'n splinternuwe seisoen na kykNET (DStv-kanaal 144) terugkeer.

'n Nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap begin op Woensdag 4 Januarie om 17:30. Daar is verskeie onderwerpe wat aangeraak gaan word, onder andere die volgende: die beste maniere om geld te spaar en hoe om geld aan te wend sodat 'n onderneming 'n suksesstorie word, die moontlikheid vir seniors om met woonwaens te kampeer en nuwe liefde vir seniors.

Hannes aan huis is op Dinsdag 3 Januarie om 17:30 terug en van die bekendes wat hulle deur vir Hannes van Wyk oopgemaak het, sluit in Binnelanders se Lindie Stander, baasspeurder Ben Booysen, radioman en TV-aanbieder en deesdae ook TV-vervaardiger Rian van Heerden, die Comrades-legende Bruce Fordyce, die veteraan-joernalis Martie Meiring en die akteurs David Vlok en Philip Moolman.

In die tweede seisoen van Spasie, vanaf Vrydag 6 Januarie om 18:30, gaan daar weer gewys word hoekom die neiging om al kleiner te lewe wêreldwyd posvat. Daar is deur die land gereis en besondere projekte is van nader bekyk onder meer ’n huisie wat met kalkhennep gebou is, ’n paartjie wat ’n paneelwa omskep het en ’n vrou met ’n huis wat so klein is, daar is nie eens ’n slaapkamer nie.

As daar iewers in die land fees gehou word, moet jy weet: die Fiësta-span is daar! Vir meer as 20 jaar, amper so lank soos kykNET se bestaan, besoek Fiësta feeste – van groot na klein, van gevestig tot nuut, van uniek tot allemansvriend en op Vrydag 6 Januarie om 21:00 is hulle terug op die lug.

Lundi Khoisan en Frazer Barry keer terug as aanbieders vir die nuwe seisoen, en twee ander bekendes voeg hulle by die span met die aktrise Mandi du Plooy Baard en die tydskrifredakteur Wicus Pretorius wat ook hulle plek agter die Fiësta-mikrofoon gaan inneem. Van die eerste programme in die nuwe jaar sluit in Tuin van Digters wat vir die elfde keer by die Breytenbach Sentrum in Wellington gehou is, die musiekkonsert Liefde by die dam wat op die wynlandgoed Meerendal buite Durbanville gehou is en Musiekindaba, ’n bymekaarkoms van rolspelers en musiekliefhebbers wat vir die eerste keer in Stellenbosch gehou is.

Laeveldbewoners skop af op Saterdag 7 Januarie om 18:00 en gaan wys waarom hierdie deel van ons land een van die juwele in Suid-Afrika se kroon is. En dan is daar die mense. Mense soos die spoorweë-historikus Japie Smit wat meer as 40 000 foto’s van treine in Suid-Afrika het.

Die skrywer en joernalis Annemarie van der Walt wat in Kaapschehoop met sy troppe perde woon, Mariëtte Joubert wat ossewaens bymekaar maak en Smangaliso Mlondolozi wat as tienerseun die eerste keer die Sudwalagrotte besoek het en net geweet het hy moet eendag daar werk. Vandag is hy die persoon wat die nuwe personeel oplei. Hierdie is maar net ’n paar van die fassinerende mense wat kykers gaan leer ken in die reeks van dertien episodes met die produksiespan wat van Emgwenya, voorheen bekend as Watervalboven, tot op Lydenburg gereis het.

Dewald Visser is ’n man wat nie sommer nee sê vir ’n avontuur nie en is terug vir nog ’n seisoen van Mal kamper wat op Saterdag 7 Januarie om 18:30 begin. “Ons doen safari’s met ’n vliegtuig, ons kamp met opblaasbote, kwads, fietse, motorfietse, scooters, met my 4x4,” sê Dewald. “Dit gaan groot pret wees.”

Van die plekke wat kykers beter gaan leer ken, is buurlande soos Namibië en Malawi, die ongerepte skoonheid van St. Helena, die Cederberge, Vanderkloofdam, Knysna en Vleesbaai. Dewald en sy span het ook Réunion, die eiland in die Indiese Oseaan sowat 700 kilometer oos van Madagaskar besoek. Op elkeen van die plekke wys Dewald watter aktiwiteite gedoen kan word; enigiets van valskermsweef tot tussen die visse swem.

Al lê haar wortels in Upington en sê sy nie sommer nee vir ’n uitdaging nie, was daar tog tye in die nuwe seisoen van Hokaai, my meisie! – wat op Saterdag 7 Januarie om 19:30 begin - waar die aanbieder Shari Kennedy buite haar gemaksone was. “Ek skiet onder meer met ’n AK47, ek en Minki van der Westhuizen verf ’n kaal man en een van die rofste dae was toe ons in ’n stormwind met motorfietse van die Kaap tot in Hermanus gery het. Ek moes met my lewe aan daardie biker klou! Dan was daar die drie ure op die see – ek word maklik seesiek – en die hok tussen die haaie en nog ’n paar uitdagings …”

Van die bekendes wat gaan saam kuier is Jo-Ann Strauss, Jak de Priester, Gert van der Merwe en Errol Arendz, en Namakwaland, Springbok, Elgin, Barrydale en Graaff-Reinet is van die plekke wat hulle besoek het.

Sakegesprek met Theo Vorster keer terug op Woensdag 11 Januarie om 21:00. Theo Vorster kyk na nuusgebeure, finansiële markte, sowel as die ekonomie – alles wat 'n impak op jóú finansiële- en beleggingsbesluite kan hê. Ons kry ook advies van verskeie fondsbestuurders om jóú te help om die regte besluite te neem.

Onthou, skakel in vir die nuwe realiteitsreekse vanaf 1 Januarie 2023. Jy kan ook gesels oor jou gunsteling programme op Facebook, Twitter en Instagram: Maak gebruik van die volgende hutsmerke: #HuppelStap, #HannesAanHuis, #HokaaiMyMeisie, #Sakegesprek, #MalKamper, #Spasie, #Laeveldbewoners, #kykNETFiësta, #KykFiesta en #FiestaFees.