Logo
web uni tv guide

Duidelik Dapper

144GeselsprogramPG

Nuwe seisoene van gewilde reekse terug in Januarie

Nuus
13 Desember 2021
Vier gewilde reekse maak ’n welkome terugkeer na kykNET (DStv-kanaal 144) wanneer die nuwe skedule in Januarie 2022 inskop.
Gewilde reekse terug

In die tweede seisoen van Ons koop ’n kar (vanaf 11 Januarie om 17:30) word Jan Alleman weer gehelp om die beste voertuig teen die beste prys te vind. Hoe werk dit? Twee spanne wat uit ’n top-motorverskoopsman en ’n denkvoorkeurkenner bestaan – een verstaan karre en die ander mense en hulle behoeftes - neem teen mekaar deel om die beste voertuig te vind. Uiteindelik is daar ’n lekker kontantprys om los te slaan wat dan aan die span se gekose welsynsorganisasie gaan. In die eerste seisoen van Ons koop ’n kar was die wenners Dan Harber en Matthys Potgieter met Hannes Saayman en Colene Hind wat die onderspit moes delf. Vir die tweede seisoen neem Karl Liebenberg by Hannes oor en is Colene en Dan in dieselfde span. Karl en Hannes neem vir Rally to Read deel en Colene en Dan vir Operation Healing Hands. Mag die beste span wen!

Duidelik dapper (vanaf 7 Januarie om 17:30), wat welstand en gesondheid onder die vergrootglas plaas, wil nie net vermaak nie, maar ook inlig en opvoed. Vir die tweede seisoen is daar steeds ’n mediese-insetsel asook ’n insetsel waar waagmoed die onderwerp is. Adcock Ingram OTC het ’n prys van R10 000 geborg wat aan ’n liefdadigheidsorganisie of merkwaardige persoon gaan en dit sal ook deel van elke program wees. Met die tweede seisoen gaan Duidelik dapper se sosiale media-blaaie ook meer gebruik word om meer inligting te deel en kykers in te lig oor nuwe gonswoorde en neigings.

Oppiestoep (vanaf 3 Januarie om 20:30) gaan weer wys waarom Suid-Afrikaners so lief is vir ’n lekker storie. Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars is terug in die aanbiederstoele en het weer van die land se beste storievertellers genooi om te kom saam kuier. Schalk Joubert is weer verantwoordelik vir die musiek en het oudergewoonte van sy vriende in die musiekbedryf genooi om te kom musiek maak.

Sakegesprek met Theo Vorster (10 - 13 Januarie om 21:30)  se nuwe seisoen gaan kyk na die impak van Covid-19 en hoe jy jouself en jou besigheid moet posisioneer om die beste te maak van ’n toekoms waar daar soveel veranderlikes is. Die gereelde Sakegesprek-sprekers is terug onder meer Dr. Roelof Botha, Dr. Michael Jordaan, Theo Venter en Izak Smith met Dr. Thabi Leoka, Mpumelelo Mkhabela, Nompumelelo Sibalukhulu en Kay Walsh wat tot die gesprek toetree. “Ons word meegesleur deur die nuus en gebeure rondom ons,” sê Theo Vorster. “Hier gaan ek kyk na die langtermyn tendense en wat mense in ag moet neem wanneer hulle besluite neem. Rasionele besluit verg ’n dieper kennis en verstaan van die faktore wat ’n impak kan hê asook waarvoor ons in 2022 voor moet uitkyk. Onthou: Vat die jaar voor die jaar jou vat.”

Hier gaan ons alweer toer saam met die beste hengelaars in opwindende nuwe seisoen.
Na ’n dubbelle enkelbesering is die avontuurlustige Petri de Wet terug vir nog ’n seisoen van Hier gaan ons alweer.

In die nuwe seisoen bring hy die beste hengelaars, insluitende wêreldkampioene, tesame wat plaaslik in Suid-Afrika toer en die beste visse vang vir kykers. Hulle deel ook soos oudergewoonte wenke vir aspirant hengelaars. Van riviere, damme, varswaterbronne tot karavanne... Hulle kamp, maak kos, kuier en vang vis. Spesiale gaste maak ook elke nou en dan ’n draai op die toer. Ná Suid-Afrika vat hul die pad na Namibië se skedelkus en nog verder tot by die grens van Angola by die Kunene-riviermond. En die uitdaging om met karavaan deur duine en die woestyn te ry, beloof op kykers behoortlik vasgenael te hou.